Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 93

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus rig skerp woorde tot die Fariseërs

93 ROCLUS, wat volkome oortuig was van My Goddelikheid, kon hierdie kwaadsprekery geen geduldige oor meer verleen nie; hy staan op, ook reeds deur die wyn met `n flink dosis moed toegerus, en sê hardop: “In so `n hoogs besonderse geselskap op aarde, waar God, engele en ons, Sy verstandige skepsels, as broers by mekaar verblyf, mag varke geen tafel en geen plek hê nie! Weliswaar is varke ook skepsels van God, hulle hoort net nie tuis in die geselskap van mense nie! Wat `n onwyse, dwase geklets! As hongerige varke begin te knor, dan skuil daar ongetwyfeld baie meer wysheid in as in dergelike gepratery! Kortom, `n Fariseër is en bly die toppunt van domheid, walglikheid met gepaardgaande heerssug en kwaadwilligheid, veral so `n owerste en hoogs erbarmlike skrifgeleerde van die Judeërs!

[2] Hierdie onmense ruik orals die duiwel! Hulle is selfs die mening toegedaan, en leer dit ook, dat die duiwels op aarde heimlik onafgebroke soos speurhonde jag maak op alle mensesiele, en dat elke mens sonder meer van die duiwel en verlore is as hy nie heilige amulette uit die tempel by hom dra nie, en dit elke jaar minstens twee maal deur nuwes laat vervang nie; maar van die feit dat juis hulle self eintlike duiwels op hierdie wêreld is, merk hulle niks! Daarom hoef hulle gladnie verbaas te wees as hulle onder mekaar iets van `n duiwelse stank in hul neuse bespeur nie; want dit is immers eers eg van die duiwel, as mens self `n waaragtige vleesgeworde duiwel is en nie van tyd tot tyd besef dat mens werklik `n duiwel is nie!

[3] Sê my, jong man (RafaEL), jy het tog netnou `n klip in die niks in laat verdwyn, - sou dit nie vir jou moontlik wees om vyftig skurwe varke te laat verdwyn nie?! Stel jou voor wat hierdie kêrels hier hardop onder mekaar durf uitspreek! Hy, die enigste Skepper van wyn en brood sou nou sondig, omdat Hy Self wyn drink en omdat `n sekere alleronskuldigste engeltjie van `n meisie aan Sy kant sit! Ag, staan my dit toe, want dit is, solank ek hier is, wat die Heer herken het, absoluut ontoelaatbaar! Hulle moet weg! Hulle het soveel gehoor en gesien, - en nou sê hulle hardop: “Dit kan wees dat dit alles begogelinge van satan is!” My vriend uit die hemele, ek is slegs van hierdie aarde; maar al kos dit selfs my lewe, ek sal nie duld dat sulke varke die Mees Heilige van alle Gewydes so skandelik met hul smerige, stinkende venyn besoedel nie! Weg met hulle!"

[4] Nou eers word die vyftig Fariseërs opmerksaam oor die uitval van Roclus, en hul owerste STAHAR staan op en vra vir Roclus met `n ernstige gesig: “Vriend Roclus, het jy dit dalk oor ons?”

[5] ROCLUS sê: “Oor wie anders? Julle is immers satan se swart gespuis en kan daarom geen lig verdra nie! Hoe durf julle die Majesteit en Heer van ewigheid, wat julle daarvan al soveel buitengewone bewyse met woord en daad gelewer het, met julle ou walglike venyn so skandelik besoedel?! Vrees julle dan nie dat selfs die aardbodem haarself hiervoor op julle sal wreek nie?! Wie kan Hy wees, wat die berg in die see toeroep: “Vergaan en gaan ten gronde!', en op dieselfde oomblik gaan die berg ten gronde?! Kan `n duiwel - volgens julle opvatting - ooit nederigheid en die hoogste liefde tot God en die naaste predik?! O, julle enorme osse en esels tegelyk, hoe vreeslik woes en verward moet dit nie daar in julle breine uitsien nie, dat julle nie kan insien dat `n duiwel, as daar volgens julle opvattinge ooit een bestaan het, ten opsigte van God, die Heer, die mees magtelose en daarom mees armsaligste wesens moet wees, namate hulle verder van die orde van God afstaan!

[6] Wanneer nou, volgens die mees wyse en ware woord van die Heer, alle krag en mag slegs in die liefde tot God die Heer bestaan, watter krag en mag het julle Beëlsebul dan, wat vol bitter haat teen God is, as gevolg van hierdie smadelike eienskap? As ons mense al deur gebrek aan die korrekte en ware kennis van God, en slegs daardeur ook sekerlik deur gebrek aan ware en alles uitsluitende liefde tot Hom, swak en niks vermoënde wesens is, hoeveel te meer dan julle duiwels, wat God baie goed moet ken, maar Hom desondanks haat in `n hoë mate wat vir ons onbegryplik is! Wel, - hoe is dit moontlik dat `n wese wat God baie goed ken, Hom tog bo alles kan haat, - waarlik, om dit te verstaan en te kan verteer het jy sonder meer `n farisese varkmaag nodig! So `n maag neem weliswaar geen varkvleis tot homself nie; maar die rede daarvan skyn te wees dat, soos wat dit in die natuur gebeur, die een vark nie die ander vreet nie!

[7] Ek het God die Heer nou meer as alles in die wêreld lief, terwyl ek Hom nog net `n klein bietjie leer ken het, en ek voel hoe my liefde tot die Almagtige, hoe meer ek Hom leer ken, steeds groter word, en ek voel baie duidelik in myself hoe my wilskrag ook duidelik daardeur magtiger word. Soos wat ek hier staan, neem ek dit heeltemal alleen op teen duisend maal duisend legioene farisese duiwels! Met so `n aantal kan hulle nog geen strooihalm optel nie, - en dan beweer hierdie kêrels dat hierdie Mees Heilige van die Gewydes van God Sy verrigtinge met behulp van hul ingebeelde duiwels tot stand bring!? O, julle verdorwe gespuis, ek sal die almagtige duiwels van julle wel goed uitdryf! Dit het vir my goed uitgewerk dat ek nou teen hierdie kêrels stuit, want daarna het ek lank uitgesien!" 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205