Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 51

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Ware en valse wonderdoeners

51 ROCLUS sê: “Vir ons as denkende mense is daar inderdaad `n oneindige groot verskil tussen hierdie twee, maar vir die leek is iets spoedig goed! As iemand, wat vanuit sy innerlike geesteskrag wonderwerke verrig, ons maar nie ten aanskoue van die volk uitdaag en aan hulle ons heel natuurlike truuks onthul nie, dan kan ons natuurmagiërs, na my mening, ons baie goed handhaaf langs die ware magiër wat vanuit sy innerlike goddelike geesteskrag werk en hy langs ons, as hy ten minste nie deur jaloesie gepla word nie!”

[2] RAFAEL sê: “So, is dit alles wat daar in jou binneste omgaan?! Dink jy dan, dat wat die ware wonderdoener wat vanuit die Goddelike krag wat in hom woon, te werk gaan, ook wêreldse eer en aardse beloning wil hê?! Bestaan daar vir die mens dan geen hoër en uiteindelike bestemming op hierdie wêreld as die beste moontlike versorging van sy liggaam en sy persoonlike eer op hierdie materiële aarde nie? Luister en voel!

[3] Elke mens het `n onsterflike siel en in die siel `n gees wat nog onsterfliker is. En sodat die siel, as gees wat haarself uit die materie ontwikkel, volledig één sal word met die oergees van God, wat ‘liefde’ heet, moet al die strewe van die siel daarop gerig wees, dat sy haarself ten eerste losmaak van die materie en van alle eise wat dit stel en dat sy al haar inspanning, doen en late alleenlik na die suiwer geestelike sal rig; ten tweede moet dit voortdurend haar enigste sorg wees om een te word met die Gees van God se suiwer liefde wat in haar rus, omdat God Self in die oorsprong van Sy oerwese die allersuiwerste Liefde is.

[4] Maar hoe kom `n mens dan te wete dat sy siel een geword het met die ware Gees van God in hom? - Dit kom hy uiters maklik uit homself te wete! As jy in jouself geen hoogmoed, geen onnodige eersug, geen sug na roem, geen afguns, geen verlange na besit, prag en praal, geen eieliefde nie, maar daarenteen des te meer liefde vir jou naaste en God lewendig en waarlik voel en dit jou `n ware, diepe vreugde in jou hart berei as jy alles wat jy besit in geval van nood aan arm broers en susters, wat gebrek ly, gegee het, ja, as dit jou werklik pyn in jou hart gee wanneer jy `n arme nie kan help nie, wanneer God alles vir jou beteken en die hele aarde met al sy rykdom en skatte niks nie, dan is jou siel reeds heeltemal een met die Gees van God in haar, dan het sy die volmaakte ewige lewe bereik, is wys en waar nodig, in staat om wonderwerke te verrig net deur haar suiwer wil!

[5] Om die siele van die mense egter na hierdie bestemming te lei, is deur God aan so menige vroom siel, wat met haarself en met God een geword het, juis in besondere hoë mate Goddelike krag verleen om wonderwerke te verrig, sodat sy vir die swakkes en kleingelowiges `n getuie is van dit waartoe die mense deur God bestem is en hoe hulle moet lewe en handel om hierdie bestemming in hulself na die volste waarheid te realiseer.

[6] En `n ware wonderdoener sal sekerlik geen wonderwerk doen om hom deur die dom en blinde wêreld met verbasing te laat aanstaar of selfs om iets te bereik waaraan net die materiële wêreld waarde heg nie, nee, hy sal dit doen om sy naaste die ware lewensweg te laat sien, om hulle moed en vertroue te gee vir die stryd met die wêreld met sy bose hartstogte, om hulle die ware grond, die waarde en die ware doel van die lewe te laat sien en hulle op hierdie manier langs `n baie kort weg daarheen te bring, waartoe hulle almal deur God geroep is, naamlik tot die ware, ewige lewe en die hoogste geluksaligheid daarvan.

[7] Stel nou aan jouself en jou hele instituut die vraag of julle ook julle valse wonderwerke ooit met hierdie bedoeling verrig het! Julle is wel wêreldwyse en seker nie van huis uit slegte mense nie; maar julle het deur die najaag van die goedere van hierdie wêreld self in julle innerlike lewensfeer volkome blind geword. Die wêreld en wêreldse geluksaligheid beteken vir julle alles! Om dit so volkome moontlik te bereik, is dit veral noodsaaklik om jou deur geskikte en doeltreffende middele so ’n groot moontlike aansien te verskaf. Met die swaard in die hand gaan dit nie altyd die beste nie; maar dit is bepaald nie moeilik om jou deur middel van allerlei toorkunste `n soort goddelike aansien te verskaf nie, omdat alle mense van nature baie meer verlang na wonderwerke as na geweld. Mens moet dan net nog daarvoor sorg, dat daar met behulp van dergelike valse wonderwerke vir die kyklustiges `n bepaalde materiële, ook al is dit maar skynbaar, voordeel te behaal is en die spel is gewen.

[8] Die strekking van julle opvattinge is dus presies soos wat ek nou aan jou sal verduidelik: As mense wat orals in die wêreld rondgekyk het, het ons deur ervaring te wete gekom dat die mens na hierdie aardse lewe heeltemal geen lewe meer het en kan hê nie. Maar omdat jy nou eenmaal op hierdie wêreld moet lewe, moet jy in elk geval so goed moontlik probeer lewe. Om dit te kan doen, moet jy iets bedink waardeur jy jou vir die volk onontbeerlik en skynbaar op die maklikste manier en met die minste moeite diensbaar kan maak. Dan sal die volk self al die swaar werk vir ons verrig, ons sal daarby `n goeie lewe lei en die volk, wat ons heeltemal versorg, sal daarby van mening wees dat hulle daardeur aan God `n welgevallige diens bewys, wanneer hulle alles vir ons doen! Daarvoor bied ons onsself vir die volk aan, vanweë ons vermoë om wonderwerke te doen, as permanente en onverstoorbare plaasvervangers van die gode op aarde en daarvoor sal ons ook soos gode lewe. Daar moet net nooit `n verraaier kom nie! As dit ons geluk om ons net vyftig jaar lank sonder verraad te handhaaf, sal vorste tesame met hul volke van pure nederigheid voor ons in die stof kruip!

[9] Om hierdie saak so doelmatig moontlik te maak, mag ons in die begin geen koste spaar om alles so effektief as wat maar enigsins moontlik is, in te rig nie. Verder moet ons onsself steeds voor die volk voordoen as die mees liefdevolle mense wat oor hulle besorgd is en waarlik deur die gode besiel is, dan sal ons deur die volke op die hande gedra word! Die ou godsdiensstigters was weliswaar so verstandig om daarvoor te sorg dat `n volk so word dat hulle die volk die beste kon gebruik; maar ons Essene met ons buitengewoon groot ervaring, wil `n godsdiens tot stand bring waartoe alle volke tesame met hul heersers uiteindelik aan moet behoort! Want hoe dit byna orals elders toegaan weet ons en voorlopig sal ons nog meer daarvan te wete kom, ons sal ons baie geslaagde instituut aldeur steeds verbeter en dit in `n hoë mate verryk met alles wat nuttig is vir ons, en dit so vir alle tye teenoor al ons vyande as volkome onvernietigbaar stel!”

[10] Wel, as die ware wonderdoeners, wat vanuit God se Gees te werk gaan, hulle dan ook nog met julle sou wou verenig, sou julle instituut, wat gebaseer is op die bedrieëry van mense, inderdaad totaal onoorwinlik wees en julle sou dan baie spoedig heer en meester wees oor alle wêreldse skatte van hierdie aarde. Maar die ware wonderdoeners is, soos wat hulle in die verlede was en ook in die toekoms altyd sal bly, altyd die grootste vyande van alle bedrog en leuens gewees en sal hulle daarom ook nooit met julle verenig nie, maar julle orals ontmasker en aan die volke alle fasiliteite van julle instituut toon, wat vanuit julle standpunt bekyk, so prysenswaardig is! Daardeur sal julle verwagtinge, wat so mooi groen daar uitsien, maar al te gou verwelk en vir niemand meer enige waarde hê nie. Sal jy dan ook nog beweer dat julle bedrieglike wonderwerkinstituut so gemoedelik en eendragtig langs die werklike wonderdoeners, wat vanuit God werk, oor die weg kan kom? Kyk, ek alleen sou al baie goed in staat wees om julle instituut met `n enkele wonderwerk dermate kragteloos te maak, dat sekerlik geen enkele mens meer, wat voortaan op soek is na hulp, sy toevlug by julle sou neem nie! - Glo jy wat ek sê, of glo jy my nie?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205