Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus probeer sy ateïsme as die korrekte wêreldbeskouing bewys

24 ROCLUS: “Indien daar nou op hierdie wyse aangetoon is, wat moeilik weerlegbaar meer as duidelik uitgelê is, hoe alle gode sekerlik ontstaan het, en hoe hul priesters met die verloop van tyd die eintlike, magtigste gebieders oor lewe en dood van hul broers geword het, sal u, geëerde meester, meester, meester, ook begryp hoe en waarom ons ateïste geword het! Kyk, ons wat maar weinig in getal is, het die duidelike weg na die ou, suiwer menseverstand gevind, en het weer teruggekeer na die groot heilige moeder natuur, wat vir ons `n sigbare godheid is wat wonderwerke doen, wat altyd onveranderlik volkome ordelik werk, terwyl alle ander godhede wat deur die mond van die een of ander mens geopenbaar word, niks anders is as `n bedenksel van `n breinsieke, werksku luiaard nie, wat van iemand `n paar magiese kunste geleer het, of dit self uitgedink het, om hom aan die blindes aan te bied as `n werktuig wat deur God uitverkies is en om sy wil aan hulle te verkondig.

[2] Die natuur het nog nooit `n plaasvervanger nodig gehad nie en die son het dit ook nog nooit in sy gedagtes gekry om uit die ontelbare armsalige mense `n plaasvervanger vir homself uit te kies nie; hy werk self, gee lig en verwarm alles op `n uiters onvergelykbare wyse! Kortom, in die hele groot natuur is alles in orde, behalwe die mens. Ook die mens, hierdie grootste en volmaakste aapsoort, laat wat sy natuur aangaan en wat sy vorm aanbetref, sekerlik niks te wense oor nie.

[3] Maar die mens, of liewer die volmaakste dier wat woordbegaafd is en regop loop, het dan ook `n denkvermoë en `n verstand wat vry daaruit ontwikkel het. Daardeur kan en moet hy die heerskappy voer oor alle wesens wat onder hom staan. Maar hierdie voorkeur, wat die natuur aan die mens gegee het, is vir hom nie genoeg nie; in sy verwaandheid om aan God gelyk te wees, wil hy ook sy gelykes onder sy voete vertrap! En daar is dan die kritieke punt waar die mens sy grense oorskry en homself tot God maak. Maar omdat elke mens tog, as hy nie doofstom of selfs totaal waansinnig is nie, homself nie sommer soos wat hy is, as `n mens met net so `n liggaam as alle ander, regstreeks self tot God kan uitroep nie - wat hy beslis sou gedoen het, as hy nie bang was om deur die hele volk uitgelag en selfs bestraf te word daaroor nie, - stel hom nie daarom tevrede met die plaasvervangers van God op hierdie aarde; want as mens daarmee maar slim genoeg begin en `n goeie grondslag het waarop mens bou, dan hou dit talle eeue in stand. 

[4] Wel moet mens by die instel van `n plaasvervangerskap van God ook sommige duidelik wyse en vir die burgers nuttige voorskrifte toevoeg, dan het mens vir duisend jaar die guns gewen van die, van nature steeds kinderlik goeie en sagte mensegeslag! Teenoor één wyse voorskrif kan mens dan vir die bygelowiges wel duisend van die absurdste leuens en domhede wysmaak en dit word deur die goedwillige, maar terselfdertyd baie blinde, arme mensdom heel eerbiedig en bereidwillig aangeneem. Van begrip kan daar natuurlik geen sprake wees nie, omdat sulke goddelike verborgenhede as droombeelde van `n slim voël, nooit begryp sal kan word nie. Maar dit maak nie saak nie, want die mensdom beskou immers diegene altyd as die beste, wat vir hulle die mees onduidelike, onbegryplike en vreemdsoortigste is.

[5] Wie die mensdom wil verveel, moet aan hulle maar net werklik goeie, bekende en goed verstaanbare waarhede voorlê en ek staan daarvoor in, dat hy baie vinnig alleen sal staan! As hy egter baie goed leuens kan vertel en fantaseer dat hy byvoorbeeld in die verre Indië diere gesien het wat so groot soos `n berg is, met honderd koppe, waarby elke kop sprekend lyk soos dié van `n bepaalde dier en in die middel van die honderd koppe van die meeste verskillende diersoorte ook nog `n reusagtige mensekop op `n lang, dik nek, wat omhoog staan en wat alle tale van die wêreld heel duidelik, maar wel met donderende stem spreek en selfs wette aan die mense voorskryf vir hul gedrag ten voorskrifte van die res van sy groot leër van dierekoppe! Ja, hy kan aan die mense wat heel opmerksaam na hom luister, ook nog heel vrypostig wysmaak dat op die groot rug van dié wonderlike reusedier, die mooiste stede en tuine aangelê is, waarin mense en diere woon, wat `n baie aangename lewe lei mits hulle die wette in ag neem wat uitgaan van die sentrale kop van die reusagtige dier, maar dadelik deur die tierkop van die dier opgevreet word wanneer hulle daarteen sondig! Hierdie absurde leuen kan hy nog op baie maniere uitbrei en dit word alles vas geglo; en wee diegene wat sou wou sê: “Maar waarom luister julle na hierdie aartsleuenaar?! Ek was tog self meer as een keer in Indië en het nooit ook maar in die verste verte iets dergeliks gesien of daaroor gehoor praat nie!” Dit help alles niks nie! Hy word as lasteraar van hierdie wonderlike saak op heilsame manier tot swye gebring en die aartsleuenaar wat Indië nog nooit gesien het nie, kom as oorwinnaar te voorskyn. Ek het self meermale ervaar dat die mense baie eerder `n kolossale domheid aanneem en glo as `n waarheid, al was hierdie waarheid as hoe nuttig bewys.

[6] As die mense sulke bekende eienskappe het, is dit dan te verwonder dat ons nou alreeds met louter gode behoorlik gepekel en gebalsem is? Is dit nie veeleer baie te verwonder, hoe mense van my soort te midde van soveel uiters dom mense kan lewe nie? En kan u, geëerde meester, meester, meester, u verwonder dat ons twaalf uiters ervare Grieke en Judeërs noodsaaklikerwys ateïste moet wees en wel om die eenvoudige rede, dat daar tog baie duidelik geen God kan bestaan wat so `n menslike dom aard het dat hy van die mense dikwels die mees belaglike sake, so gesê tot sy eer sou eis, as wat die koop van tempelmis en tempelafval vir die seën van die velde, akkers, tuine en weiding en nog duisend en een erger absurditeite, wat almal verlang word deur die een God van die Judeërs wat nog steeds die wysste is, om maar te swyg oor die wel uiters dom en onsmaaklike dinge, wat die menswaardigheid onteer, soos offers en ander gewoontes en gebruike, wat ons ongeveer tienduisend Griekse gode eis en selfs streng voorskryf?

[7] O wee, wee, wee diegene, wat dit sou waag om ook maar een van die geringste hout godhede `n tik op die neus te gee! Hy sou as `n Sacrilegus maledictus* baie erg deur die plaasvervangers van god behandel word! Ook die vernietiging of die belediging van `n leuen wat uit hout gesny is, word nou nog steeds as die mees onvergeeflike misdaad swaar met die swaard bestraf. Maar as duisende arbeidsku volksbedrieërs elke suiwer waarheid en die ware eer van die mensdom onder die voete vertrap en hulle orals vervolg en al die goeie dinge wat moontlikerwys opkom met alle geweld en met die gruwelikste middele onderdruk, dan is dit volkome juis en dico (ek het gesê) die wyse, almagtige gode baie welgevallig. Ag, bedank dan die ware mensdom tog wel onderdanig vir al die gode en godhede! Kan u as meester en volksregent, wat bekend staan as waaragtig en wys, my dit kwalik neem dat ek daarvan walg wanneer êrens, ook al is dit in nog so `n geringe mate, sprake is van `n God?! *(skandelike tempelskender)

[8] Toe ek as handelaar vir die derde maal in Indië aangekom het, het ek baie verstandige en goeie dinge aangetref, maar daarbenewens ook weer soveel afskuwelike domhede, dat mens jouself sou kon kruisig om maar nooit meer met sulke enorme godedwaashede in aanraking te kom nie. Volgens dit wat ek daar oor hul teosofie verneem het, moet die hoogste god Lama, wat ook die bynaam Dalai het, eenkeer per jaar aan sy hoogste plaasvervanger, wat eweneens onsterflik is, die hoogste eer bewys deur homself aan hom en terselfdertyd aan sy opperpriesters te vertoon, maar dan wel op `n hoë bergtop! Daar moet die plaasvervanger dan op bevel van die allerhoogste god op `n suiwer wit doek sy behoefte doen, die uitwerpsels vervolgens droog en laat verpoeier. Die “poeier van god”, soos wat die Indiërs dit noem, word dan korrelsgewys in baie klein houtdosies geplaas en goed verpak en teen `n hoë losgeld aan die hoofde van die volkere gestuur. Hierdie hooggeplaastes moet dan volgens `n voorgeskrewe boetedoening hierdie drekpresent van die god baie eerbiedig opeet. Dit en nog `n groot aantal van die mees absurde domhede is feite, waarvan elke reisiger, wat daarheen gaan, homself van kan oortuig.

[9] Maar wat moet `n nugter mens, in die besit van `n suiwer begrip en `n gesonde verstand, sê, wanneer hy hoor van sulke onreinheid van die hoogste Indiese god waarmee hy hoogs vereer wil word? Ja, dan sou jy meteens weer uit jou vel kon spring van ergernis oor so `n kolossale domheid van die mense, waaraan hulle miskien al etlike duisende jare met liggaam en siel vashou en waarvan hulle deur geen enkele verstandige voorstelling meer af te bring is nie!

[10] Ja, laat my maar eers `n verstandige god ontmoet, dan sal ek ophou om `n ateïs te wees, waartoe hierdie wonderlike werk, wat hom voor my oë voltrek het, my heel sterk sou kon aanspoor en tot die geloof bring, dat daar ondanks alle uiterse dom godhede, wat deur mense versin is, dan tog `n ware godheid sou kon bestaan wat beantwoord aan die ware en suiwerste verstand, wat `n hoër en baie mooi gedagte van die mens sou wees! Sou die godheid ten slotte egter ook so opgeblase wees soos dit tot nog toe met al die godhede wat aan my bekend is, nog steeds die geval was, dan kan hy my nog duisend van hierdie wonderwerke voor die neus verrig, maar nogtans sal ek hom werklik nie eer nie!

[11] Nou ken u my heeltemal soos wat ek is, dink en handel! U kan nou dus wel iets aan my toevertrou as u iets weet wat nog beter is en meer waarheid bevat en dan sal ek dit beslis nie ondankbaar aanneem nie! Hoe het die nuwe behuising van die bejaarde Markus dus ontstaan? Wie het dit in die bestaan geroep?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205