Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 246

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Kinders as voorbeelde vir die leerlinge. God as mens in Die Heer. Evangelie van Matthéüs. 18:10

246 PETRUS sê nou: “Ja, Majesteit en Heer, dit is vir ons nou volkome duidelik; daarom vra ek U om ons in die vervolg, as dit weer om dergelike lesse gaan, ook dadelik die verklaring te gee, sodat ons onsself nie oor ons eie swak begripsvermoë hoef te vererg nie!”

[2] EK sê: “Dit sal Ek doen wanneer dit nodig is; maar wanneer Ek julle eie denkkrag wil versterk, en julle siel meer aktief wil maak, onthul Ek die beelde nie dadelik nie. Want wie `n goeie leraar wil wees, moet sy lesse so aanbied dat sy leerlinge daarby steeds baie te dink en te soek het, anders maak hy hulle tot lui, trae soekers na allerlei waarhede.

[3] Ook die volgende sê Ek nog vir julle: Die meester wat leer moet altyd `n wyse wees, en moet wat hy leer self tot op die bodem verstaan. En die leerlinge moet, solank hulle leerlinge is, altyd wees soos hierdie kleintjies hier wat `n gegewe leer aanneem en opvolg, ook al sien hulle nog lank nie die innerlike sin daarvan in nie; die korrekte insig sal hulle wel in hul ryper jare kry.”

[4] Enkele leerlinge dink toe nou stil by hulleself dat dit nog lank sou duur totdat hulle self wys en vol insig sou wees, as hulle hulself nou nog as netso dom en onverstandig moes beskou as hierdie dom, onervare, hawelose kinders, van wie daar nie één in een of ander skool die alfa, laat staan nog die omega leer ken het nie!

[5] Maar EK sê: “Pas op dat julle niemand van hierdie kleintjies verag nie! Want Ek sê vir julle: Hul engele in die hemel sien altyd die aangesig van My Vader in die hemel!” (Matthéüs. 18:10)

[6] PETRUS sê: “Het ons dan geen engele meer in die hemel wat ook altyd die aangesig van U Vader in die hemel sien nie? Ook sê U eers dat U Vader in U woon en volledig Één is met U, en nou verplaas U Hom weer na die hemel toe wat eindeloos ver hiervandaan is! Nee, dit kan ons nou weer nie met alles verenig nie! Hoe moet ons dit dan nou weer opneem? Is U Vader dan nou afwisselend, eers in U, dan weer in die hemele? En hoe is Uself die een keer die Vader Self en die ander keer weer slegs Sy Seun? Wil U ons nie hieroor ook `n helderder lig gee as wat ons tot nou toe gehad het nie?”

[7] EK sê: “Natuurlik het julle ook julle engele in die hemel, en as julle hulle nie sou gehad het nie, sou julle nie My leerlinge gewees het nie! Maar die kleintjies het hulle ook, en daarom moet julle hulle nie verag nie; want hulle is volledig gelykwaardig aan julle! En Ek sê dit vir julle omdat Ek maar al te goed weet dat julle geen kindervriende is nie.

[8] Wanneer julle hierdie sagmoedige, liewe kinders, wat so suiwer is soos engele, nie kan liefhê nie, hoe sal julle dan wel julle naaste en julle God kan liefhê?

[9] As julle mense wil oplei in My gees, moet julle reeds by die kinders begin; want waarlik Ek sê vir julle: Die onderrig in die wieg is meer werd as alle hoërskole van die wêreld! En wie kinders tot mense wil ontwikkel, moet hulle liefhê en die regte geduld met hulle hê. So `n kind is van nature honderd keer armer as `n bedelaar; want hulle is arm van gees, arm aan fisieke kragte en arm aan besittings.

[10] Daarom sê Ek vir julle, en deur julle alle mense aan wie hierdie evangelie gepredik gaan word, nog één keer: Wie so `n kind opneem in My Naam, neem My op; en as hy My so in alle liefde opgeneem het, dan het hy ook die Vader in die hemel opgeneem en in sy huis sal dit nie aan seën ontbreek nie. Want sulke kinders is die egte en ware seën van God Self in `n huis waar hulle is en versorg, gevoed en tot ware mense gevorm word, en dit maak nie saak of dit `n seun of `n meisie is nie; in hul jeug is hulle gelyk aan die engele van die hemel.

[11] Maar, Petrus, vanweë jou vraag oor My Vader in die hemel, en oor hoe dit is dat Ek die een keer sê dat Hy in die hemel is, en `n ander keer dat Hy in My woon en één is met My, moet Ek egter met jou geheue geduld hê, omdat Ek andersins uiteindelik vir jou sou moes kwaad word!

[12] Wat die hemel is en waar hy is, het Ek vir julle en by name vir jou, onlangs nog presies op die berg getoon en volledig duidelik uitgelê; en ook oor die ondeelbare en onskeibare verhouding tussen My en My Vader het Ek al byna te veel en te dikwels gepraat, en kyk, nou weet jy alweer niks daarvan af nie!

[13] Is die Vader dan nie die Ewige Liefde in My nie? En waar Sy is en woon, is die hemel en die ware Ryk van God dan nie daar nie?

[14] Is Ek as Mens dan nie juis die Seun van hierdie Liefde wat in Myself woon, Wat alles wat bestaan en wat die oneindigheid vervul, sedert alle ewigheid geskape het nie? En omdat hierdie Ewige en Almagtige Godsliefde in My is, is Ek dan nie volledig één met Haar nie? Sê nou, of jy dit nog nie insien nie?”

[15] PETRUS sê: “Ja, ek sien dit nou sekerlik beter in as vroeër; maar tog is daar hierin `n aantal dinge wat, eerlik gesê, nog nie heeltemal duidelik is nie! En wat vir my nog nie so heeltemal duidelik is nie, is die volgende: Ek sien nog altyd nie in, waarom U die een keer van Uself sê dat U die Menseseun is, `n ander keer weer God se Seun, en weer `n ander keer dat U JaHWeH Self is! Wil U my hieroor nog `n klein lig gee, dit is goed vir ons almal; want ek glo egter dat niemand van ons dit goed verstaan nie!”

[16] EK sê: “Ook dit het Ek reeds by geleenthede waar Ek oor die lyding gespreek het wat My te wagte staan, baie duidelik belig; maar as iets julle nie minstens tien keer sodanig duidelik uitgelê word dat julle dit heeltemal met hande en voete kan verstaan nie, verstaan julle dit nie! Maar Ek sê dit dan nou tog nog `n keer vir julle:

[17] Nóg JaHWeH in My, nóg Ek as siel as Die se ewige Seun, maar slegs die liggaam as die Menseseun sal in Jerusalem gedood word, maar op die derde dag as volledig verheerlik opstaan en dan vir ewig één wees met Hom wat in My is en My alles openbaar wat Ek as Menseseun moet doen en spreek, en wat julle nog altyd nie volledig ken nie, ofskoon Hy al geruime tyd onder julle spreek en werk. En praat jy nou weer, Simon Juda!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205