|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 156
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277. |
|
|
Die twyfel van die Fariseër aan die bestaan van God
156 CYRENIUS op sy beurt sê: 'Prima, voorlopig is ek dit met julle eens, laat ons dus daarby bly; maar nou kom daar `n ander vraag op, naamlik die volgende: Omdat hierdie werke hier nou eenmaal wonderwerke van die suiwerste water is en Moses en die talle ander sieners en profete hierdie man wat nou voor ons oë sulke ongehoorde dinge bewerkstellig, tevore noukeurig en so tot in die fynste besonderhede beskrywe het, dat mens onmoontlik kan aanneem dat dit iemand anders kan bedoel, kom dit vir my altans voor dat die handelinge wat hierdie profete in ooreenstemming hiermee verrig het, tog wel wonderbaarlik kan wees! Dat daarby ook van natuurlike dinge gebruik gemaak word, kan nie ontken word nie; maar oor die geheel geneem was die meeste tog seker `n groot wonderwerk, net soos wat hierdie wonderwerke hier enkel en alleen tot stand gebring was deur die almagtige wil van God wat Hom as God se Gees deur middel van die mense openbaar. Dit is my mening. Hoe dink jy daaroor?'
[2] DIE FARISEËR sê: 'Nou ja, as die dinge so staan, dan is daar volgens my nie baie teen u gesaghebbende mening in te bring nie; maar één ding is vir my moeilik of selfs heeltemal nie te verstane nie: Waarom God, as Hy bestaan, die mensdom gedurende so `n lang tyd steeds so diep laat sink voordat Hy eers weer `n siener en `n profeet opwek wat die hele verblinde mensdom weer `n bietjie siende moet maak, terwyl Hy ten slotte self die slagoffer word van die in wilde hartstog ontvlamde en ontaarde mensdom. God verleen die profeet wel onmiskenbare wonderbaarlike kragte, daaraan kan ek nou nie meer twyfel nie; maar uiteindelik is die profeet gewoonlik tog oorgelewer aan die ruwe fisieke geweld van die mense. Byna die meeste van die profete wat aan my bekend is, was uiteindelik op gewelddadige wyse om hul aardse lewe gebring. Waarom word hy nie beskerm deur die almagtige Gees van God nie?
[3] Ek wil die Godheid hiermee geen verwyt toevoeg deur te sê: 'Dit was nie verstandig van God om so `n geesvervulde mens wat sy aardse lewe betref, onder te laat gaan in die ruwe materiële geweld van die mense nie! Maar in die oë van die altyd selfsugtige mensdom doen dit sterk afbreuk aan sy opwekking. Want dit is natuurlik hoogs merkwaardig om te sien hoe `n mens wat vroeër in staat was om enkel deur sy wil hele berge te verplaas, in `n kort tydjie later deur mense in die boeie geslaan word en in `n kerker gewerp en enkele dae of weke daarna op `n dikwels vreeslike manier om die lewe gebring word. Daardeur word sy vurigste aanhangers en vereerders dan self ontmoedig en keer dikwels terug na hul ou domheid, waardeur hulle in elke geval seker is van `n veilige aardse bestaan.
[4] Hoe lank is dit gelede dat `n sekere Johannes in die woestyn aan die Jordaan allerlei waaragtige groot tekens gedoen het om getuienis af te lê van sy goddelike besieling?! Herodes het hom laat gevange neem en `n kort tydjie later op ongehoorde, gruwelike wyse heimlik in die kerker onthoof. Hy het werklik reeds `n groot aantal leerlinge gehad en talle duisende het hulle deur hom in die Jordaan laat doop ter getuienis van hul aanvaarding van sy waaragtige heeltemal suiwer leer; want hy het deur byna die hele Galilea en Judea langs die Jordaan getrek. Maar toe sy talle aanhangers hoor wat daar met hul meester gebeur het, het hulle baie angstig en bevrees geword, en het liewer nie laat merk dat hulle van Johannes die waterdoop ontvang het nie; want hulle was bang dat hulle op `n onverwagse oomblik die treurige lot van hul meester sou moes deel. Dit is die enigste wat ek met my verstand wat tot nog toe nog altyd prima in orde was, enigsins inkonsekwent vind, en dit getuig volgens ons begrippe, met die oog op die heil van die mensdom, van weinig slimheid en ook van baie min goeie wil.
[5] By die heidene wat onderworpe is aan die heerskappy van `n onsigbare noodlot, kan mens hom so-iets goed voorstel, maar baie moeilik onder die heerskappy van `n volmaakte wyse, goeie, regverdige en almagtige God! Dit was ook hoofsaaklik die rede waarom ekself geheel en al afgestap het van die geloof aan `n God. `n Ware profeet behoort tog tot aan sy dood `n onoorwinlike verdedigingsvermoë te besit, waarteen alle magte en kragte van die aarde niks sou kon uitrig nie, daardeur sou die ware goddelike element vir alle tye goed herkenbaar gewees het en ook bly; maar op hierdie manier kom die meeste sieners en profete op verskriklike wyse aan die einde van hul aardse bestaan en maak daardeur al die goddelike wat hulle vir die tyd uitgesaai het, weer verdag. So mag Moses self die beloofde land nie betree het nie, en die aartsengel MigaEl moes drie volle dae met Satan oor sy liggaam veg en uiteindelik ook nog aan die kortste end trek. Ja, waarom is dit dan so? Waarom moet die bose beginsels die goeie beginsels byna altyd op hierdie aarde oorwin?
[6] Ons sê - en ook tereg: - Die hele mensdom, of die morele wêreld, is boos en sleg. Maar as ons nagaan wat die oorsaak hiervan is, dan moet ons dit min of meer soek in diegene wat ek nou net genoem het! Wat ons mense ookal doen, ons kon nóg onsself nóg die ander verbeter het nie; want die magte van die wêreld vorm steeds `n beperking vir ons wat orals geld: 'Slegs tot hier, - en geen handbreedte verder nie!' Ons mag nie ondersoek nie en ook nie nadink nie. Die ysere wet dwing alle hoofde onder één hoed. Wie hom durf verroer, is vir die wêreld verlore; maar is hy daardeur vir `n ander wêreld gewen? Wel, daaroor het ons nog baie minder oortuigde sekerheid as wat daar oor honderd jaar met die mensdom gaan gebeur!
[7] Slegs ware sieners en profete sou hier kon help. Daardeur sou die mense dan steeds die ewige onoorwinlike krag en mag van God voor oë hê, die ware geloof behou en daardeur egte, goeie mense word. Van tyd tot tyd word daar wel hier en daar `n profeet opgewek wanneer die mense reeds tot onder die toestand van die diereryk gedaal het; hy predik dan `n tyd lank wyse lesse en lê dan vir die mense deur allerlei verbasingwekkende wonderkragte `n volwaardige getuienis af van die goddelikheid van sy sending; maar hoe lank duur dit?
[8] En omdat die mense wat na God en waarheid smag, in groter getalle na hom toe stroom, word die ou orakels en hoogste egoïstiese en materialisties ingestelde priesterkaste boos en jaloers en begin die profeet te vervolg, omdat hulle vrees dat hul valse geloof verraai sal word en hul aansien en ryklike inkomste geweldig sal afneem. `n Tyd lank kan hulle niks teen hom doen nie, omdat hy hulle met die goddelike krag wat sy eie is, hulle in die stof terugdruk.
[9] Maar na `n paar jaar, as hy reeds talle duisende siende gemaak het, trek die goddelike krag hom terug en val hy ten prooi van die gemeenste menslike wraak! Diegene wat deur hom bekeer is, word dan vol vrees, hulle kan dan teen geen kant meer op nie. As hulle nie meer so baie is nie, word die leerlinge bevange deur angs, vrees, skrik en twyfel; en as hulle met mekaar al `n aansienlike leër gevorm het, dan ontstaan daar gewoonlik, terwille van hul geloof en opvattinge, `n gruwelike oorlog wat nie ophou voordat die een party die ander geheel en al uitgeroei het nie.
[10] Nou vra ek my egter die volgende af: As jy as `n ervare en verstandige denkende mens sulke dinge en prosesse nugter bekyk, hoe kan `n mens dan so tot `n lewende geloof aan `n God kom? Of moet mens nie eerder dink: 'Kyk, louter mensewerk!'?! God is egter ewig ver en nie naby volgens die woorde van die Skrif nie! Het ek gelyk of nie?"
[11] CYRENIUS sê: 'Vanuit jou denktrant bekyk is daar wel iets oor jou mening te sê, maar slegs in menslik-maatskaplike sin, vir sover dit betrekking het op hierdie wêreld. Maar ons is nou al ietwat dieper ingewy in die hoogste wyse planne wat God met die mensdom van hierdie aarde het en ken die groot goddelike 'waarom'! Ek kan jou daarom niks anders sê nie as dat jou mening fundamenteel onwaar is. Maar ek hoop dat ook jy nog anders sal gaan dink. Nou moet jy en jou metgeselle egter weer gaan; en kom weer, wanneer jy geroep word! Bekyk eers die wonderwerke, dink daaroor na en dan sal dit vir julle daaruit duidelik word hoe dwaas en gewaag julle vervolging van die groot Heer uit Násaret was.'
[12] Die Fariseërs maak `n diepe buiging en gaan na die huis van Markus om dit te besigtig. Op `n teken van My begelei Markus hulle self na sy nuwe wonderbaarlike huis, sy tuin en dan na die see, om hulle alles te laat sien en uit te lê.
|
|
|
|
|