Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die nuwe huis van Markus, `n wonderwerk deur RafaEL

4 Markus het rondgekyk en was heeltemal verleë by die aanskouing van alles wat daar in `n oogwink ontstaan het. Regs van die ou vissershuis in `n noordoostelike rigting het `n mooi, voltooide huis gestaan wat uit bakstene gebou was, wat met die suidoostelike voorkant tot naby aan die see uitgestrek het. Dit het `n verdieping gehad met `n gerieflike gang rondom die hele huis en op die grond het dit bestaan uit `n ruim kombuis, `n groot voorraadkamer en verder uit agtien vertrekke, waarvan vyf woon­kamers was en dan dertien groot vertrekke vir allerlei landboudoeleindes, asook bergruimte vir allerhande graan, vleis, vir vrugte, groente, vir peulvrugte en wortelgewasse. In `n groot ruimte was daar `n watertenk wat met wit marmer bedek was, wat ruim twintig kwadraatvaam* gemeet het en deurgaans gemiddeld ses voet water kon bevat; die water het nou egter maar vier en `n half voet hoog gestaan, wat vir die bewaring van edelvisse, dit wil sê, goeie kwaliteit visse, diep genoeg was. *(1 Klafter = vaam ≈ 1,8m; HAT.)

[2] Hierdie visreservoir, wat binne-in was, het sy baie suiwer water uit `n volkome nuwe, ryk bron ontvang; die water het van die ondersy deur klein, maar talryke openings van `n klipplaat in die tenk tot aan die vasgestelde hoogte gedring. Vandaar het `n afvoerbuis na buite na die see geloop wat, as mens die tenk vol water wou hê, van buite afgesluit kon word. Om die watertenk heen was `n pragtige, oopgewerkte leuning van twee en `n half voet hoog, eweneens van wit marmer. Aan die een kant was, vir die geval dat mens die watertenk vol water wou laat loop, `n baie sierlike afvoerkanaal gemaak, wat natuurlik deur die muur van die huis gegaan het en eweneens nie ver van die laerliggende afvoerbuise in die see uitgemond het. Die wande en die vloer was eweneens met wit marmer beklee, die plafon van die vertrek het egter uit die suiwerste en hardste sederhout bestaan sonder kwaste en splinte. Die vertrek het sy lig deur vyf vensters ontvang, wat almal `n marmeromlysting gehad het en elkeen was vyf voet hoog en drie voet breed. Die vensters was voorsien van baie suiwer kristalplate en kon net soos alle ander vensters van die huis oop- en toegemaak word.

[3] Die hoofdeur was gemaak van goudagtig glansende brons. Alle kamerdeure, wat sierlik en smaakvol afgewerk was, was van die beste sederhout gemaak en doelmatig voorsien van grendels en slotte. Die eerste verdieping was deurgaans uiters sierlik beklee met paneelwerk van sederhout en elke vertrek was pragtig om te sien. Terselfdertyd was sowel op die grondvlak as op die eerste verdieping alle vertrekke ryklik voorsien van alle geriewe wat die beste herberg vereis en die graankamer was vol graan en die voorraadkamer vol met al die moontlike dinge wat maar in `n kombuis nodig is. Kortom, die gevraagde huis was nie net `n soliede weergawe van die idee wat Markus al so lank as lugkasteel gekoester het nie, maar dit was ook nog uiters ryklik voorsien van kosvoorrade en ander voorrade vir jare.

[4] Agter die huis was nog stalgeboue vir alle veesoorte en daar was verskeie smaakvolle en terselfdertyd doelmatige hutte vir die visgerei, volledig ingerig met en ryklik voorsien van alles wat nodig is en om alle nuwe geboue was daar `n twintig juk* groot, baie dig omheinde tuin, wat voorheen `n sandvlakte was wat aan niemand behoort het nie, maar nou uit die vrugbaarste grond bestaan het en beplant was met `n groot aantal van die beste vrugtebome. `n Paar juk was heeltemal beplant met die beste wynstokke, wat almal ryklik belaai was met die pragtigste, sappigste druiwe, wat alreeds ryp was om gepluk te word. Ook aan groente was daar geen gebrek nie. *(Joch = juk = ongeveer `n halwe hektaar, `n ou vlaktemaat )

[5] In die middel van die tuin was nog `n uitstekende geneeskrag­tige bad met `n tempel uit marmer opgerig. Dit het twee afsonderlike komme gehad: Die een met baie warm bronwater vir die genesing van jiglyers en die ander vir die genesing van melaatses, was voorsien van lou swawel- en wassodabronne, wat deur RafaEL se mag volgens My wil uit die binneste van die aarde daarheen gelei was. Terselfdertyd het hy `n seehawe gesien wat met louter vierkantige klippe omlys was en vyf groot, deeglik geboude skepe met seile en roeirieme in die baie ruim hawe, waarvan die ingang, hoewel ses vaam breed, snags heeltemal met `n ysterketting afgesluit kon word. Hierdie hawe het presies so daar uitgesien volgens dit wat die bejaarde Markus hom alreeds dikwels voorgestel het. Hy het by die besigtiging van alles, wat so wonderbaarlik ontstaan het, steeds maar sy oë gevryf, omdat hy voortdurend gedink het dat hy slaap en hierdie dinge dus in `n droom gesien het.

[6] Toe hy klaar was met die besigtiging, wat byna `n uur geduur het, het hy (MARKUS) byna heeltemal duiselig teruggekom en vol verbasing gesê: “Ja, is dit dan alles wel werklikheid of sien ek dit alles maar net in `n soort droomtoestand wat my gelukkig maak? Nee, nee, dit kan geen werklikheid wees nie! Want so het ek my dit alreeds meermale in my ydele fantasieë `n herberg voorgestel en ook alreeds etlike kere in my oggenddrome gesien en jy, vriend uit die hemele, het my in `n kunsmatige slaap gebring en ek het my eie idees nou weer eens in my droom bekyk!”

[7] RAFAEL sê: “Wat is jy tog `n kleingelowige Romein! As dit alles `n droombeeld was, sou dit nou nie meer te sien gewees het nie en dan sal jy tog nie wil beweer dat jy nog slaap en nog steeds droom nie? Stuur nou jou vrou en kinders om ook te kontroleer wat daar alles is, dan sal hulle kom en jou wel uit die droom kom help!”

[8] MARKUS sê, terwyl hy nog `n keer na die nuwe huis omkyk: “O, dit is geen droom nie, dit is baie duidelik werklikheid! Sal dit egter standhou?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205