Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 263

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Barnabe onthou die twaalfjarige Jesus in die tempel

263 Nou gaan Elisa na haar vader toe wat haar onder trane van dankbaarheid teen sy hart druk, haar toe tussen homself en sy vrou `n plek aanwys, en haar te eet en te drinke gee van alles wat daar was; in besonder van My wyn wat van water gemaak was en wat baie goed gesmaak het.

[2] Toe sy dogter so heeltemal gesond eet en drink, vra DIE HERBERGIER My met alle eerbied: “Majesteit en Heer van alle meesters! Dit is weliswaar baie dom van my om U te vra hoe U kan weet dat ek “Barnabe” heet en hierdie dogter van my “Elisa”; want as daar vir U, deur God gegee, sulke dinge moontlik is, waarom sou dit dan nie ewe moontlik vir U wees om te weet hoe ek en alle ander heet nie? Maar ek het by myself gedink dat U my miskien al vanuit Jerusalem by die een of ander geleentheid gesien en herken het. En as dit moontlik was, dan sou dit vir my van dubbele belang wees!”

[3] EK sê: “Sê My wat jou nou op hierdie gedagte gebring het!”

[4] DIE HERBERGIER sê: “As U my maar by voorbaat vergewe wanneer ek my enigsins onbetaamlik mag uitdruk, - want ek het nou al baie wyn gedrink, en dit het my tong miskien ietwat losser gemaak; maar ek sal my uiterste bes doen dat my tong my geen te groot skande veroorsaak nie!

[5] Sien U, ongeveer twintig jaar gelede was ek in Jerusalem nog `n Leviet en eintlik al `n opkomende Farisieër*. Dit gebeur op `n keer - soos daarvoor en daarna nooit weer nie - dat ons by die gebruiklike toetsing van die twaalfjarige jong seuns, `n Seun met die naam Jesus uit Násaret in Galilea voorgestel word. Hierdie Seun weet toe reeds meer as alle tempeldienaars tesame, en Hy was eintlik die belangrikste rede waarom ek spoedig daarna die tempel vir altyd verlaat het. *(VARISAR = herder, ook leier van die herders)

[6] Maar hier kom nog by dat ek openlik moet beken dat U, Heer van alle meesters, buitengewoon baie lyk soos die werklik wonderbaarlike jong Seun, veral in U gesig. Ek wil daarmee egter gladnie beweer dat U nou die man is wat vroeër hierdie jong seun was nie, maar dit is ook nie bepaald onmoontlik nie; maar ek wou maar net hiermee sê dat dit hoogs merkwaardig is dat verwante groot geeste, wanneer hulle één en dieselfde tendens volg, ook baie dikwels in hul gesig na mekaar lyk.

[7] Hierdie gedenkwaardige jong Seun het ons gedurende drie dae in die tempel haarfyn bewys dat Hyself die beloofde Messias was! Daarna het ek om verskillende redes vrywillig die tempel verlaat, en het na hierdie eensame plek gegaan; later het ek nooit meer daar gekom nie, ook nie êrens anders nie, en ek kan dan ook nie weet wat daar van hierdie Seun geword het nie. Ek was weliswaar toe `n teenstander van Hom; maar dit het nie so lank geduur nie, of die bewerings van die Seun het vir my steeds duideliker geword, die tempel het my daarenteen steeds meer begin teenstaan en steeds ondraagliker geword.

[8] Ja, die woorde van hierdie jong Seun was my redding uit die ware hel van die tempel! En ek sou van U graag ook nog wil hoor wat van hierdie Seun geword het! Wat my toentertyd van die ou verstokte tempelhelde die meeste verbitter het, was dat hulle heimlik `n prys beloof het aan diegene wat hierdie Seun by een of ander gunstige geleentheid uit die weg sou ruim. Solank ek nog in die tempel was, het dit weliswaar nie gebeur nie; maar noudat ek tog al byna twintig jaar hier is, - wie weet wat daar intussen alles deur die tempel teen hierdie Seun onderneem is! U, Heer van die meesters, sal dit sekerlik alles weet, daarom vra ek U of U my nie hieroor iets kon vertel nie!”

[9] EK sê: “Sien, juis om die rede het Ek nou na jou toe gekom; want Ekself is die Seun wat dit toe in die tempel vir die oudstes, Fariseërs en skrifgeleerdes baie lastig gemaak het! En noudat jy dit weet, sal dit vir jou ook baie maklik duidelik word waarom Ek dadelik by My koms aan jou gesê het: “Vrede sy met jou en jou huisgenote! God se ryk het naby gekom!” Maar môre sal Ons eers verder hieroor praat! Laat nou egter vir Ons goeie slaapplekke gereedmaak, sodat Ons van ons klein vermoeidheid kan herstel en môre weer daadkragtig is!”

[10] Hierop gee die herbergier Barnabe sy dienaars bevel om onmiddellik `n goeie slaapplek vir Ons gereed te kry, en hulle doen wat hul beveel was.

[11] Toe ons van tafel opstaan, het die genese dogter nog `n keer na My toe gekom en My innig gedank vir die genesing van haar kwale, en dit doen die herbergier, sy vrou en sy ander kinders eweneens; want almal het baie van die mooi en opgewekte Elisa gehou, en hulle was daarom so bly dat hulle hul Elisa nou weer heeltemal fris en gesond voor hulle gehad het. Ek gee hul almal My seën en begeef My toe met My leerlinge gou ter ruste.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205