Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 166

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die bekering van die Fariseërs

166 CYRENIUS: 'Wel, my vriend, kan jy nou ook ontken dat jy daarstraks met die ou Markus woordeliks so gepraat het en ook so by jouself gedink het, maar dan tog noodgedwonge anders gepraat het?! Wat het jy nou hierop te sê en wat is jou mening?"

[2] Nou staan die Fariseër asof versteen teenoor Cyrenius en weet nie wat om te sê nie.

[3] Maar agter hom staan MARKUS en hy sê vir hom: 'Wel, hoogste wyse natuurfilosoof, sou jy dié wonderwerk vir my ook op die natuurlike wyse wil verklaar? Ek is werklik baie benoud om van jou te hoor wat die handige Romeine hier vir `n geheime lis toegepas het om hom selfs van jou mees geheime gedagtes meester te maak!"

[4] Na `n oomblik sê die FARISEËR eindelik: 'Nee, hier is waarlik geen natuurlike dinge op die spel nie! Ek wil van wat ek openlik met Markus in die hawe bespreek het, niks sê nie, want dit sou immers kon wees dat daar iemand is wat so `n skerp gehoor het dat hy ons gesprek op `n afstand sou kon verstaan; maar om nou ook te hoor wat ek heimlik by myself gedink het, dit gaan die diepste menslike kennis te bowe! Dit is `n wonderwerk; waar egter `n wonderwerk van die hoogste soort moontlik is, is daar ook die moontlikheid vir al die ander aanwesig, en ek begin nou ook al ernstig te glo dat die pragtige huis op wonderbaarlike wyse ontstaan het! Meer kan ek nou nie sê nie. As dit egter alles deur die mag van die beroemde Nasarener gebeur het en nog steeds gebeur, dan moet hy sonder meer `n hoër wese wees, `n God in volle erns, aan wie alle geeste van die lug, die aarde, die water en die vuur onderdanig en gehoorsaam moet wees en waar geen enkele menslike mag hom teen kan verset nie.

[5] Dit is met ons Fariseërs gedaan en ons sal voortaan niks anders meer te doen hê as om in die graf te gaan lê en daar soos `n dier te krepeer nie! Wat moet ons met ons ou bedrog doen, terwyl hier van alle kante sulke waarhede hom bo ons soos berge begin opstapel? Soos die wild in die bosse sal ons opgejaag en vervolg word, en ons sal ten gronde gaan in die slyk van ons nag en duisternis! Maar ja, dit is nou eenmaal so en ons kan niks daaraan doen dat op hierdie liewe aarde dae en nagte mekaar steeds aflos nie. Soos wat die dag die nag verteer, so verteer die nag ook weer die dag, en nou eers volg op `n lang nag `n baie kort en koue dag, en dan weer omgekeerd. Op die winter volg die somer, en daarop weer die winter; op hierdie liewe aarde is alles aan `n voortdurende wisseling onderworpe. Wie vandag lag, kan môre treur, ween en weeklaag!

[6] Dit is nou eenmaal so en sal op hierdie aarde nooit anders wees nie. As iemand vir `n lang tyd iets so heerlik, goed en verhewe besit, maak dit hom uiteindelik selfs onverskillig soos met iets wat mens `n lang tyd in volle oorvloed besit het. Maar as mens uiteindelik die lank genoemde besit verloor, dan weet mens eers wat mens besit het en leer mens die waarde daarvan te beoordeel.

[7] Ons mense is dom en verstaan nog steeds nie hoe en waarom dit alles so gebeur en so is nie, en daarom is ons ook met niks ooit volkome tevrede nie, nie met die goeie - en nog minder met die slegte! Die graf lyk my `n ware gelukshawe te wees; hierin verander byna niks meer nie en die bewoner daarvan voel geen behoefte meer aan wat dan ook nie, en so bly ons aardse wurms by al die duisende verliese tog nog die troos dat ook ons oor `n tydjie baie tevrede bewoners van die grafte sal word, en hulle wat by ons grafte verbyloop, sal sê: 'Hier rus hy in vrede!'

[8] Ja, hier is `n groot lig wat daar nog nooit gewees het nie, dit sien, voel en glo ek; maar dat selfs `n groot nag op die lig sal volg, sal nie uitbly nie! Gelukkig is hulle wat hul vandag in die lig kan koester; maar meer ongeluk vir hulle wat ingehaal word deur die nag wat op die dag volg! Hulle sal baie hardop om lig gaan roep en daardeur die geeste van die nag wek en flink toegetakel word. Ek het nou gepraat en julle as maghebbers staan dit vanselfsprekend vry om my volgens julle wil te bereg!"

[9] CYRENIUS sê: 'Ek het in jou woorde niks ontdek wat voor die regter gebring moet word nie. Wat jy vir jou eie saak gespreek het is baie begryplik; maar hier het jy, tog ietwat moeisaam, tot `n beter oortuiging gekom en opgehou om `n vyand en agtervolger te wees van Hom wat jy tevore baie graag sou wou vernietig het. En meer wil ek nie van jou en jou metgeselle hê nie, en sodoende kan julle weer in vrede van hier af vertrek! Wil julle egter meer weet, dan moet julle dit sê, dan sal julle alles wat billik is, gegee word!"

[10] DIE FARISEËR sê: 'Wat moet ons nou doen? Ons het tuis in die tempel `n eed teenoor die hoëpriester afgelê dat ons nie vroeër sal rus en terugkeer voor ons die Nasarener volledig onskadelik gemaak het nie. Wel, dit het nou totaal onmoontlik geword! Ten eerste is julle, magtige Romeine, sy vriende, dit het ons almal maar al te duidelik verneem; teen julle kan ons niks onderneem nie en dit sal ons ook nie doen nie; ten tweede is Hy self, soos wat blyk uit alles wat hier van Sy mag te sien is, so onoorwinlik in alle dinge en op al sy weë, dat geen aardse mag iets teen hom kan uitrig nie; en ten derde het ons self diep vanuit ons innerlike lewensgrond almal vriende van hom geword vanweë sy onvergelykbare hoë eienskappe wat nog nooit vroeër voorgekom het nie, en daarom kan daar by ons in die verste verte geen sprake van wees dat ons Sy persoon verder sal vervolg nie.

[11] Maar wat moet ons nou doen? Die beste is om sy leerlinge te word sodat ons die dag kan betree, waarvan ons hier die môrerooi volledig te sien gekry het, en dat ons vergun sou word om in sy voetstappe te kan tree! Wel, dit sal ons nouliks toegestaan word! Onverrigtersake na die huis terugkeer mag ons ook nie! Wat moet ons dan doen? As ons vir ons maag en ons veiligheid wil sorg, moet ons tog nog steeds, in elke geval skynbaar, vervolgers bly van Hom wat ons liewer op ons hande sou wou dra! Hier is dus dringend goeie raad nodig, ook al is dit duur?'

[12] CYRENIUS sê: 'As julle dit ernstig bedoel, waaraan ek nouliks meer twyfel, dan sal daar wel gou raad kom. Of julle nou dadelik leerlinge van Hom kan word, beslis Hy natuurlik en nie ek nie. En omdat julle, soos wat ek uit julle woorde verstaan het, verder baie verstandige en ervare mense is, kan ek julle self gebruik en in diens neem, te meer nog aangesien julle ook die Griekse en Romeinse taal magtig is. Ek het Sy lewensleer in `n boek geskryf, waaruit julle almal Sy wil kan leer ken! Dan sal daar wel weer `n passende oomblik kom waarop julle met Hom nader kennis kan maak, en wel in waardiger klere as nou. Van die gewade van die Fariseërs hou Hy nie, omdat hulle gesalf is met die slegte en bederfde olie vir die pleeg van bedrog. Tot sover my daadwerklike raad. As julle hierop wil ingaan, sê dit dan, dan sal julle geholpe raak!"

[13] DIE AANVOERDER sê vir sy metgeselle: 'Julle het dit ook gehoor! Is julle met die buitengewone vriendelike aanbod tevrede, sê dit dan, want elkeen van julle het `n volkome vrye wil! Ek het geen besware daarteen nie."

[14] ALMAL sê: 'Ons ook nie; ons sou slegs graag, as dit gepas is, die verhewe Nasarener persoonlik nog wil leer ken!"

[15] CYRENIUS sê: 'Nie nou nie; maar sodra julle beter bekend sal wees met Sy leer, dan wel. Vir nou neem my lyfbediende julle oor; volg hom, dan sal hy julle met `n goeie geleentheid na Sidon bring, waar julle ander klere sal kry en `n diensbetrekking wat by julle kennis pas! Gaan en volg hom?'

[16] Met hierdie woorde kom één van die talle lyfbediendes van Cyrenius hulle tegemoet; hy verskaf hulle `n goeie geleentheid en reis dadelik self met hulle saam na Sidon.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205