Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 53

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus regverdig die stigting van die orde van die Essene

53 Ietwat geraak, sê ROCLUS: “Vriend, my gewete word nie gepla deur geen misdaad ookal nie! Ek het steeds streng volgens die wet geleef; waarom sou ek my die hare te berge moet laat rys? As dit al so is dat ons instituut so `n gruwel is in die oë van `n God wat vir die mense onsigbaar is en wie se bestaan ek nou inderdaad nie meer kan ontken na alles wat ek van jou gehoor het nie, dan sou die alwetende, alsiende en almagtige, buitengewoon oerwyse God tog wel `n middel hê waardeur Hy die oprig van dergelike institute maklik sou kon verhinder! Ons en eintlik ons voorvaders het nie voor, tydens en ook nie na die oprigting van hierdie instituut van enige kant een of ander belemmering ondervind nie; ook die staat, aan wie die plan tog openlik voorgelê is, het met alle bereidwilligheid toegestaan dat die instituut, wat vir hom skynbaar baie nuttig voorgekom het, opgerig word en aan ons beloof om altyd getrou te swyg en ook belowe om as dit nodig sou mag wees, ons met wapens te behoed en te beskerm. Die volk, vir wie se duidelike heil die instituut opgerig is, het ook geen beswaar aangeteken nie. Dus was daar van geen enkele kant, nòg van God, nòg van die staat en ook nie van die burgers nie, by die oprigting op een of ander manier beswaar aangeteken nie, en sodoende was dit suiwer onmoontlik om teen iemand se wil te sondig met die oprigting van die instituut en ons as lede daarvan kan daarom iedereen en ook `n God met `n heel rustige gewete onder oë kom. Ek sou daarom werklik nie weet waarmee jy op geregverdigde wyse daarvoor sou kon sorg dat my hare te berge rys nie!

[2] Jy beskik, ten minste volgens jou eie woorde, oor `n besondere krag en is miskien self wel die een wat hierdie wonderwerk verrig het en jy kan miskien ook so maar net deur woord en wil dooies tot lewe wek, soos wat nou tot ons stad die gerug van `n Nasaréner deurgedring het, wat so-iets ten aanskoue van die hele wêreld heel goed kan doen, wat ek ook heeltemal nie so baie betwyfel nie; want mense is innerlik geeste van baie verskillende groottes en so is daar reëlmatig iemand wat, hetsy uit homself of deur toeval iets uitvind waarvan miljoene vóór hom, miljoene tydens sy lewe en daarna, geen enkele benul het nie en hy voer dit uit en bring daardeur dikwels die helfte van die aardbol in die grootste verbasing. En dan is dit juis weer ons instituut, wat met geen goud te betaal is nie, wat sulke uitvinders opsoek en alles in die werk stel om hulle vir ons te wen en daarvoor te sorg dat hul afsonderlike uitvindings die hele mensdom ten goede kom!

[3] Ons Essene sal nooit `n buitengewone mens vervolg of belemmeringe in die weg lê nie, maar ons verleen nog bystand aan so iemand op alle moontlike maniere en probeer hom, indien moontlik, vir ons te wen, wat alreeds baie kere geslaag het. Dat dit met hom dan nie sleg gaan by ons nie, daar staan die hele instituut soos één man voor in! Sien, so dink ons, dit is ons standpunt en so handel ons ook, sonder die oog op enige beloning, hetsy tydens of na die lewe! Ons doen wat ons na algemene oorlegpleging as goed beskou, net terwille van die geval self. Vir watter regter moet ons dan nog bang wees?

[4] Is jy dalk self die wonderbare Nasaréner? Ook goed en eintlik nog beter; want dan leer ons die man of jongeling ten slotte immers self ken, van wie ons al soveel buitengewone dinge verneem het! Jy lyk net vir my ietwat te jonk vir die Nasaréner, wat volgens die beskrywing minstens dertig jaar oud moet wees! Maar dit maak heeltemal nie saak nie, jy hoef ook glad nie die beroemde Nasaréner te wees nie; want jy besit immers ook `n baie lewendige en werksame gees, jy het baie van die wêreld gesien en allerlei ervaringe opgedoen. Waarom sou jy daardeur nie ook vermoëns kon ontwikkel het, waarvan ek die grootsheid in die geheel nie kan vermoed nie? O, dink nie dat ek ook maar enigsins jaloers op jou is nie! Ook wil ek nie ontken dat daar buite ons skynwonderwerke ook ware wonderwerke sou kon bestaan nie; want skynwonderwerke moet altyd deur ware wonderwerke voorafgegaan word, omdat die mense andersins nie so maklik ooit skynwonderwerke kon uitgevind het nie. Maar wat één ding aanbetref, is ek dit absoluut nie met jou eens nie, naamlik dat ons met opset deur ons skynwonderwerke ooit iets wou bereik het waarvan mens algemeen erken dat dit in werklikheid sleg is.

[5] Inderdaad weet ons sekerlik nie dat die morele sielesfeer van die mense deur sulke bedrieglike wonderwerke totaal ten gronde gerig sal word nie, wat vir die mense `n groot kwaad is; maar ons was almal sonder uitsondering ateïste en daarom kon ons natuurlik ook geen ander sfeer van menslike lewensgeluk voor oë gehad het as die aardse nie, omdat ons nie aan `n lewe na die dood van die liggaam glo nie, ten minste nie aan `n lewe waar mens van homself bewus is nie! Wat ons egter van die bestaan van `n Goddelike Wese afgelei het en wat ons tot volkome ateïsme gelei het, het ek alreeds so rasioneel en aanskoulik moontlik per ‘longum et latum’ (lank en breed) aan jou daargestel en ek glo nou om voor jou, ook al sou jy God Self wees, so suiwer moontlik te staan.

[6] Daar is ook geen enkele siek plekkie in my gewete wat ek geheim gehou het nie en daarom staan ek hier ook heel moedig teenoor jou! Die dood vrees ek nie, ofskoon ek waarlik geen vriend van pyn en lyding is nie. Wat is daar verder nog waarmee jy die hare van `n man, wat ook van homself kan sê 'Si totus illabatur orbis, impavidum ferient ruinae!”'(Ook al sou die hele wereld inmekaarstort, sal die onverskrokkene deur die puin gedra word!) van angs te berge sou kon laat rys? Laat ons nou liewer goeie vriende bly en mekaar in alles wat goed en waar is, ondersteun, wat sekerlik die beste is vir alle mense, dan sal dit volgens my heeltemal nie nodig wees dat ons mekaar se hare te berge laat rys nie! Verder kan jy doen wat jy wil, die wêreld sal oor die algemeen nogtans nooit beter word as wat dit nou is en ook altyd al was nie!

[7] Ek sou dit verkies om nou met my kollegas weer hiervandaan te gaan! Want ek het nou net verskeie Fariseërs hier opgemerk en - vergewe my, vriend! - hulle kom ek liewer nêrens teë nie, omdat hulle ‘ex diametro’ (lynreg) teen elke vooruitgang is. Ek bespaar jou alle verdere verklaringe en moeite! Ek weet nou waaraan ek toe is en waarvolgens ek my geestelik moet rig om die ewige lewe uit God te bereik; meer het ek voorlopig nie nodig nie en die verdere uitleg oor die wonderwerk met betrekking tot hierdie huis bespaar ek jou ook, ofskoon ek dit graag fundamenteel sou wou verneem het! Maar al die Fariseërs; selfs die owerste uit Cesaréa-Filippi, met sy stram bene, is ook al hier! O, daarom maak ons dat ons spoedig wegkom!”

[8] RAFAEL sê: “O, vanweë hulle kan julle wel bly; want hulle is net so min Fariseërs as jy! Elkeen wat hier rondwandel, is `n suiwer mens, op één na, wat intussen vanweë die Skrif geduld word. Dus die Fariseërs wat hier is, hoef jy nie meer te vermy nie! Maar jy beweer dat jy iets gehoor het van die wonderlike Nasaréner? Vertel my iets daarvan, dan sal ek daarvan afsien om jou hare te berge te laat rys! - Wil jy dit doen?”

[9] ROCLUS sê: “Waarom nie? Ek weet weliswaar nie baie nie; maar wat ek weet, is geloofwaardig, dit blyk op waarheid te berus en verdien om geglo te word. Ek vra net `n klein bietjie geduld om dit in woorde uit te druk!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205