Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 48

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus verdedig die Essenedom en die skynwonderwerke

48 ROCLUS sê: “Ek sou dit sekerlik sonder teenspraak moes duld; want waarheid bly waarheid, of dit my nou skade of voordeel oplewer! Ek weet nou egter wat jy hiermee eintlik aan my wil sê en dit sou sekerlik goed wees, dat ook ons orde iets slegs is en dat dit ten slotte sy ondergang tegemoet sal gaan op die oomblik dat God se suiwer lig uit die hemele die harte van die mense sal verlig het. Vriend, dit is weliswaar `n waarheid waarteen niks in te bring is nie - want wanneer alle mense, of in elk geval die grootste deel daarvan, in al ons geheime ingewy word, dan het daar inderdaad vir altyd `n einde gekom aan ons werk; maar mens sal in elk geval nooit van ons kan sê, dat ons al hierdie dinge ook maar met `n greintjie selfsugtige, bose wil gedoen het nie, omdat ons in hierdie hoogs droewige tyd maar net in alle opsigte altyd die aardse welsyn van die mense op die hart gedra het en ons klooster is in werklikheid niks anders nie as `n instelling op die basis van liefde en vriendskap. Ons het daarvoor dan ook nie een enkele slegte middel gekies nie! 

[2] Sekerlik, sou `n mens inderdaad kon sê: Elke bedrog is alreeds `n slegte middel! Maar dan gee ek ook aan `n God baie beslis as antwoord: Ja, bedrog is inderdaad altyd `n slegte middel, as dit ook maar enigsins gepaard gaan met een of ander slegte bedoeling om watter selfsugtige rede dan ook! As ek egter sien dat die mens op geen enkele ander manier te help is as kennelik maar net deur bedrog nie en ek dan ook uit pure liefde vir my lydende broer na die enigste moontlike middel gryp en die mens onfeilbaar daarmee help, dan is en bly selfs die allergrootste bedrog geen slegte nie, maar `n uitermate goeie en korrekte middel, waarteen `n God onmoontlik iets in te bring kan hê. Om dit te bekragtig, sal ek aan jou net een voorbeeld uit my Esseense lewenservaring gee, dan sal jy my gelyk moet gee, ook al sou jy self `n tienvoudige god wees.

[3] Daar het `n huilende man na my gekom, wie se liewe, jong, uiters brawe vrou sodanig siek geword het, dat sy van hierdie siekte enkel en alleen heeltemal genees kon word deur net één, aan my welbekende middel. Elke ander geneesmiddel sou sonder meer haar dood beteken het en haar eggenoot tot die ongelukkigste mens van die wêreld gemaak het. Die vrou het egter so `n afkeer van die bekende middel gehad dat sy eerder tien keer sou sterwe as om haar van die geneesmiddel te laat bedien waardeur sy sekelik genees sou geword het. Wat mens ook al aan haar gesê het, het niks gehelp nie en haar man was keer op keer naby wanhoop. Dit het by sulke geleenthede nog nooit gebeur dat iets goeds my nie te binne skiet nie en ek het dan ook dadelik heel ernstig en beslis in die teenwoordigheid van die man aan die vrou gesê: “O, wees jy maar heeltemal gerus, ek weet nog van honderd ander middele wat sulke siektes nog baie gouer en sekerder kan genees as die genoemde middel!” Hiermee het ek in werklikheid al `n leuen soos `n beer vertel; want ek het werklik vir alle skatte van die aarde van geen ander middel vir haar geweet nie. Hierdie werklik kardinale leuen was dus alreeds die eerste bedrog vir die heil van die siek vrou.

[4] Die tweede en dus nog groter was vervolgens noodwendig, dat ek die bekende middel `n ander naam moes gee, dit moes vermeng met iets neutraal en daardeur die vorm, kleur en ook `n bietjie die smaak daarvan moes verander en die prys daarvan ook aansienlik moes verhoog. Drie pond goud het die saak enorm verander. Die vrou het die geneesmiddel met groot vreugde geneem en is enkele ure later nie net volkome gered nie, maar was ook dadelik fris, opgeruimd en ook volkome gesond! Ek self kon byna nie my lag inhou oor hierdie geslaagde bedrog nie en tot op hierdie uur het nòg die vrou, nòg die man van die heilsame bedrieëry ook maar `n lettergreep verneem!

[5] Nou vra ek jou af of hierdie bedrog as sodanig goed of sleg was? Jy swyg en kan niks daarteen inbring nie! Ek sal jou egter nog `n ander voorbeeld gee en dan jou oordeel daaroor vra.

[6] Sien, `n jaar gelede het dit gebeur, dat die enigste, dertienjarige dogter van `n hoogs respektabele en buitengewoon welgestelde egpaar oorlede is aan `n vreeslike melaatsheid. Dit het toevallig tot my ore gekom en ek het plotseling na die huis gesnel waar groot droefheid geheers het. Die vader en moeder was ontroosbaar vanweë hierdie verlies. Ek het aandagtig na die meisie, wat volkome dood daar gelê het, gekyk en verseker vasgestel dat sy `n groot ooreenkoms met `n meisie in ons groot versorgings- en verpleeginriging getoon het en ek het by myself gedink: “Hierdie egpaar wat treur, kan en moet gehelp word!”

[7] Ek het dadelik die vader na my toe geroep en aan hom gesê: “Moenie treur nie! Ek is `n ware Esseen en sê aan jou dat ek hierdie slapende meisie weer tot lewe sal kan wek deur my geheime geneesmiddel in die klooster! Laat haar daarheen bring met alles wat sy ooit besit het en gee aan my `n uiters noukeurige beskrywing van haar hele karakter, haar simpatieë en antipatieë, kortom van alles waarmee sy ooit te make gehad het en ek waarborg jou dat ek jou nou dooie dogter uiterlik op die langste binne twee maande in jou arms sal terugbring!”

[8] Ek het dit ernstig gesê en dit het dus vanself gespreek dat beide ouers nie lank daaroor hoef na te gedink het nie, omdat hulle my by voorbaat alreeds heeltemal nie tot enige bedrog in staat geag het nie. Alles wat dus ooit aan die meisie behoort het van die wieg tot aan haar dood, moes saam na die klooster gebring word. Omdat ek gedurende my dienstyd die huis baie dikwels besoek het en die meisie baie goed geken het en omdat die meisie van die genoemde versorgingsinrigting baie soos die oorlede meisie gelyk het en daarby `n baie goeie vermoë besit het om haar aan te pas en dinge in haar op te neem, was `n uitwisseling wel maklik moontlik. Toe daar `n paar maande verstryk het, was die meisie uit die versorgingsinrigting alreeds heeltemal die weer tot lewe gewekte dogter van beide ouers wat gelowig op haar terugkoms gewag het.

[9] Ek het self die tot lewe gewekte meisie na die ouerhuis gebring. Toe beide ouers my alreeds in die verte gesien en goed herken het, het hulle van vreugde hul hande omhoog gesteek en hulle het my tegemoetgehardloop, terwyl hul pseudodogter op my aandrang dieselfde gedoen het, want ek het haar vantevore vertel hoe sy haar moes gedra. Jy moes `n getuie gewees het van die geluksaligheid van beide ouers en jy sou dan saam met my van vreugde gehuil het!

[10] Deur hierdie beslis buitengewoon fynsinnige, maar tog wel kolossale bedrog, het drie mense volkome gelukkig geword; die twee treurendes, die vader en moeder het hul verlore dogter ongetwyfeld teruggekry en die andersins baie arme meisie het na `n paar weldoeners gekom, so goed as wat haar hart maar ooit kon verlang het. En wat het dit my opgelewer? Ek sê jou, so waar as ek hier staan: Niks nie, behalwe die aangename besef dat ek drie mense baie gelukkig gemaak het!

[11] Nou vra ek jou of hierdie bedrog ook sleg genoem moet word! Ja, ekself noem elke bedrog sleg wanneer dit deur iemand uit selfsugtigheid en verwerplike winsbejag teenoor sy onskuldige medemense gepleeg word; maar as ek dan maar net my toevlug neem tot werklik fynsinnige bedrog as ek volkome daarvan oortuig is, dat `n baie ongelukkige mens op geen enkele ander manier te genees is nie, dan is `n nog so groot bedrog iets heel goeds en kan dit deur `n verstandige en wyse God nie sleg genoem word nie en dan moet mens bowendien nog baie dankbaar wees vir die vindingryke mensegees wat in ons orde allerlei middele uitvind om die lydende mensdom gelukkig en gesond te maak!

[12] Of het julle God ook nie Hom volgens julle Skrif duidelik van bedrog bedien teenoor die ou en blinde vader Isak, om Sy volk in Jakob `n beter stamvader te gee as die eersgebore, ruwe Esau nie? Ek is dit wel met jou eens dat elke kwaadwillige bedrog, as dit eenmaal sy hoogtepunt bereik het, homself ten gronde moet rig, maar `n bedrog ten gunste van die mensdom sekerlik nooit nie, maar wel wat moedswillig geskied deur die een of ander kwaadwillige verraaier! Dit is dan tog egter wel duidelik dat die vriend van die waarheid wat ons goeie bedrog verraai, duisend keer slegter is as die ergste volksbedrieër uit ons orde! Bewys die teendeel, as jy dit kan doen! Ek is bereid om elke stryd met jou oor hierdie vraag te deurstaan.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205