BIOGRAFIE VAN JAKOB LORBER EN INLEIDING TOT SY GESKRIFTE pic_lorber.jpg

Bron: 'Jakob Lorber - Lebensbeschreibung' deur Karl Gottfried Ritter von Leitner {1884}, Lorber-Verlag 5de uitgawe 1969.

(Onderstaande is net verkorte uittreksels van bogenoemde biografie)

BIOGRAFIESE DATA

Gebore: 22.7.1800 in Kanischa, Suidsteiermark (Oostenryk), vandag Slowenië

Oorlede: 24.8.1864 in Graz (Graf in Graz, St. Leonhard-Begrafplaas)

Vader, Michael Lorber, het as kleinboer en as kapelmeester van die Wandermusiekgroep ‘Schwarzenbacher' die familie onderhou. Moeder was Maria, gebore Tautscher. Kinders was Jakob, Michael en Josef. Woonagtig in Kanischa (vandag in Slowenië), Bergholden-Gründe.

Jakob Lorber was nooit getroud nie.

OPLEIDING, WERKSAAMHEDE EN PERSOONLIKHEID

Hy het begin skoolgaan op negejarige ouderdom in Jahring. Vroeë vordering in musiek op harp, viool, klavier, orrel en ander instrumente soos geleer deur sy vader en skoolonderwyser Anton Udl. Besoek tussen 1817 tot 1819 die voorbereidende skool vir volksskoolonderwysers in Marburg. Ondergaan 1819-24 gimnasiumopleiding in Marburg. Gaan in 1824 na die gimnasium in Graz. Hou skool gedurende 1824-29 as privaat huisonderwyser vir 5 kinders en gee die vakke algemene kennis, musiek en kuns by `n familie in Graz. Kry `n paar lesse musiekopleiding by Paganini in 1828. Slaag in 1829 die eindeksamen vir hoërskoolonderwyser in Graz. Woon en werk in Graz, nie as skoolonder­wyser nie, maar as private musiekonderwyser vir sang, viool en klavier. Komponeer liedjies en konserte en bied vioolkonserte aan. Skryf musiekresensies vir die plaaslike tydskrif. Werk in 1844-46 by sy broers in Oberkärnten. Hou konserte by die Mailänder Scala as solis. Skryf meeste van die tyd gedurende 1846-57 en verdien sy lewensonderhoud deur konserte en private musiekonderrig te gee. Toer vir `n paar maande in 1857 met twee harp- en kitaarspelers in die hoofstede van Oostenryk en gee konserte. Tot sy dood in 1864 skryf hy nog net en verdien sy onderhoud deur private musiekonderrig te gee en om klaviere in te stem.

Lorber se stokperdjie was amateur-sterrekunde en het hy die sterre bekyk met `n selfgeboude teleskoop en later met `n Steinheil teleskoop. Lorber self het nie baie gelees nie, maar die enigste boek wat hy gereeld gelees het was sy Bybel. Hy was `n vriendelike, beskeie, saggeaarde en nederige mens wat min ag geslaan het op sy voorkoms en kleredrag.

Na die afsterwe van Lorber se vader, het Jakob Lorber twaalfduisend Gulde geërf. Dit het egter nie lank gehou nie, omdat hy die volle bedrag vir sy broer geleen het wat dit nooit kon terugbetaal nie. Wanneer hy egter iets verdien het, het hy dit net so vinnig aan behoeftiges wegge­gee. Die mediese dokter dr Zimpel, wat verskeie maande in Graz deurgebring het, om Lorber te ontmoet en om hom dop te hou tydens sy skryfsessies, en wat op grond daarvan die eerste werke laat druk het (Die ‘Huishouding van Elohim', die ‘Jeug van JaHWèshua' en ‘Die Maan') beskryf Lorber soos volg:

"Hierdie eenvoudige stil en vrome mens, sonder enige fundamentele wetenskaplike opleiding, het `n voortreflike hart en deel met almal wat nog armer is as hyself die bietjie wat hy het, wat ook maar net uit aalmoese bestaan wat hy van vriende ontvang het. Ja, hy stel hom tot so `n mate bloot dat die wêreldse verstand hom onbesonne verklaar."

In `n persoonlike boodskap van JaHWèshua deur Lorber aan Johann Busch (eerste Uitgewer van die Lorbergeskrifte) word onder andere die volgende gesê:

"My dienskneg (Lorber) is werklik ter wille van My arm; hy kon baie ryk gewees het aangesien hy as klankkunstenaar ook deur My barmhartigheid die beste vaardighede daarvoor ontvang het. Maar hy het aanstellings en voordelige opdragte van die hand gewys - alles uit groot liefde vir My. En het hy 2 Gulde geld, dan neem hy 40 Kruisers vir homself en 1 Gulde en 60 Kruisers verdeel hy weer onder die armes.

Maar daarom het Ek aan hom ook al die skatte van die hemel geopenbaar ... " As gevolg van sy groot vrygewigheid was dit nodig dat hy die laaste paar jaar van sy lewe finansiële hulp van vriende nodig gehad het om aan die lewe te bly.

Lorber word beskryf as `n mens van vrolike geselskap. Selfs gedurende die jare waarin hy geskryf het, het hy gereeld saans nadat die dag se skryfwerk voltooi was, met `n glasie wyn by sy vriende in opgewekte geselskap deurgebring. Net so opgewek as wat hy oor wêreldse dinge kon praat, net so ernstig en bonatuurlik rustig kon hy raak wanneer die gesprek oor die diepere dinge gegaan het.

Op musikale vlak het hy kontak behou met o.a. Paganini, Ernst, Vieuxtemps en Eduard Jäll. Hy het ook noue lewenslange vriendskap gehad met die komponis Anselm Hüttenbrenner; waar­skynlik ook met Franz Schubert wat `n noue vriend was van Anselm Hüttenbrenner. Verdere vriendskappe was met die dokters Justinus Kerner (skrywer van ‘Die Siener van Prevorst'), dr CF Zimpel (stigter van die Spagyrik genesingsmiddele), Andreas Hüttenbrenner (Burgemeester van Graz); Karl Gottfried Ritter von Leitner (digter en biograaf van Lorber).

UITVERKIES DEUR DIE VADER

Presies op die tydstip toe Jakob Lorber sy eerste vaste aanstelling met aanvaarbare vergoeding as tweede kapelmeester in Triest bekom het, het sy geestelike beroeping op 15-3-1840 gevolg.

Nadat hy sy oggendgebed afgehandel het, hoor Lorber in die innerlike omgewing van sy hart die duidelik waarneembare woorde: "Staan op, neem jou pen en skryf!" Dadelik gee hy gehoor aan die opdrag en ontvang onmiddellik die eerste paar bladsye van die `Huishouding van Elohim' (3 Volumes oor die skepping, die val van die engele en die geskiedenis van die mensdom van Adam tot Noag) woordeliks gedikteer deur die innerlike stem.

Op grond van sy goddelike oproep aanvaar hy toe nie meer die aanbod as kapelmeester nie. Hy het ook geen verdere aanbiedinge aanvaar wat hinderlik kon wees vir sy skrywers­aktiwiteite nie.

Daarna het hy vir 24 jaar tot en met sy dood, slegs met kortstondige onderbrekings die innerlike hoorbare, woorde­likse diktaat neergeskryf, waar die oorsprong Homself as JaHWèshua, die Messias, geopenbaar het. Soms het hy ook die innerlike woord aan van sy vriende gedikteer wat dan die skryfwerk gedoen het.

Hyself sê: "Met betrekking tot die innerlike woord, hoe `n mens dit ervaar, kan ek oor myself net sê dat ek die gewyde woord van JaHWeH in die omgewing van my hart soos `n uiters duidelike gedagte verneem, lig en rein soos `n uitgesproke woord. Niemand wat naby staan kan egter enige stem hoor nie. Vir my klink hierdie barmhartigheidstem egter helderder as elke harde materiële klank."

Ooggetuies beskryf die skryfsessies as volg: By sy volle bewussyn skryf hy effens vinnig, totaal na binne gekeer, maar sonder tussenposes om na te dink of om korreksies te maak van dit wat reeds geskryf is, ononderbroke soos iemand wat van iemand anders iets voorgesê word. En wanneer die diktate vir `n paar dae of selfs weke onderbreek was, kon hy sonder om die vorige werk weer op te lees, die nuwe deel in die regte samehang voortsit.

Vriend en biograaf Ritter von Leitner skryf: "Alreeds op 19 of 20 Maart (sy beroeping het begin op 15/3/1840) het ek Lorber by `n heldermaanligaand op die Hoofplein van Graz ontmoet en na ons gegroet het, sê hy vir my: ‘Luister! Ek ontvang `n openbaring!' "

Ek was, soos `n mens natuurlik sal verwag, besorg oor die verstand van die arme, nuwe profeet. Slegs omdat ek vir sy diep innerlike geaardheid agting gehad het, het ek sy aanbod aanvaar om na die ‘fantasië' soos ek sy skrifte aanvanklik beskou het, te kyk.

En reeds die volgende dag bring hy vir my `n paar bladsye... die skrif was sy handskrif, skoon en sonder enige stylverbeterings... die eenvoudigheid, betekenisvolheid en deels verhewendheid het `n ongewone indruk op my gelaat en my genoodsaak om voortaan my volle aandag aan hierdie merkwaardige verskynsel te skenk.

Reeds op 25 Maart kom ek `n uitnodiging van Lorber na om self getuie te word van sy skryfaktiwiteite. `n Rukkie na my daag my vriend die komponis Anselm Hüttenbrenner ook op, waar ons Lorber wat reeds besig was om te skryf, aangetref het en wat nou in ons teenwoordigheid sy werk rustig voortgesit het, matig vinnig, maar sonder tussenposes en sonder `n boek voor hom, slegs geheel na binne gekeer... "Ek het Lorber nou byna elke dag besoek wanneer hy skryf, en telkens was ek een tot twee ure lank getuie van sy geheimsinnige werksaamhede, waartydens tonele van die diepste ontroering herhaaldelik voorgekom het."

Ander wat hom gereeld tydens sy skryfsessies dopgehou het, was dr. Justinus Kerner (bekende doktor en skrywer); dr Ch F Zimpel (mediese dokter); die burgemeester van Graz, Andreas Hüttenbrenner en sy broer die komponis Anselm Hüttenbrenner; die digter Karl Gottfried Ritter von Leitner; dr Anton Kammerhuber; Leopold Cnatily die apteker van Graz, en verskeie ander mense soos Antonia Grossheim. Mev Grossheim was baie skepties oor die hele aangeleentheid en het in Lorber se afwesigheid sy laaie en kaste deursoek vir boeke en ander skrifte wat hy as hulpmiddele kon gebruik het. Maar die enigste boek wat sy by hom kon kry was sy Bybel.

Op `n vraag van `n vriend aan JaHWèshua deur Lorber op 26/5/1840 hoe die profete gelees moet word, kry Lorber die antwoord: "`n Mens het `n kragtige vergrootglas daarvoor nodig". Die vriende kon hierdie simboliese antwoord nie bevredigend vertolk nie. Lorber self het onder die woord `vergrootglas' die barmhartigheid van Elohim verstaan. Op Lorber se herhaalde vraag aan JaHWèshua, volg hierdie antwoord:

"Dat die ander My woorde nie verstaan het nie, is nie verbasend nie, maar dat jy dit ook nie verstaan nie! Die vergrootglas is die nederigheid, wat `n baie wyer begrip is as wat julle haar gewoonlik beskou. Dit is sy wat die eie ek baie klein, maar alles wat buite hom is, baie groot laat vertoon."

Dit moet duidelik gestel word dat Lorber nie in `n ‘trance' toestand op `n meganiese wyse geskryf het nie. Wanneer die innerlike stem gedikteer het, was Lorber passief maar het hy by sy volle bewussyn na binne geluister en geskryf, of dit wat gehoor is aan sy vriende weergegee. Hy kon die skrywery op enige tydstip beëindig al was dit in die middel van `n sin.

Lorber kan nie as `n skryfmedium beskryf word nie omdat sy hand nie meganies deur `n vreemde intelligensie gelei was nie.

Hy het uit vrye wil neergeskryf wat hy gehoor het. Hy het volle vryheid van wil gehad en het `n vrye oordeel gehad oor wat hy geskryf het. Van tyd tot tyd het dit gebeur dat Lorber ook `n beeldelike voorstelling gesien het van dit wat aan hom gesê was.

Lorber het na homself net as die "Skryfkneg van Elohim" verwys. Niks wat hy geskryf het, is van sy eie oorsprong nie.