WAAROM DIE NUWE OPENBARING? 

Inleiding

Die Jakob Lorber Stigting van Suid-Afrika het spontaan ontstaan toe ons die woorde van die profeet, Jakob Lorber, op die webwerf in Namibië, "Die onbekende profeet", gelees het. Dadelik is kontak gemaak met ons vriend in Namibië, Albert Hoffman, wat groot werk gedoen het om talle werke uit Duits na Afrikaans te vertaal en saam het ons voortgegaan om Lorber se diktate in Afrikaans te vertaal. Aanvanklik was alle diktate op die webwerf, www.siener.co.za geplaas, maar naderhand is besluit om hierdie goddelike werke op `n eie webwerf, www.nuweopenbaring.co.za te plaas.

Kon Jesus se woorde en werke tot niet gaan?

Waar is al die woorde wat Jesus gespreek het toe Hy op aarde was? Waar is Sy volledige kinder-evangelie. Wat het Hy in die tempel aan die fariseërs gesê toe hy drie dae daar was en Sy ouers Hom so gesoek het. Waar is Sy volle evangeliese boodskap, wat Hy Self aarde toe gebring het? Kon dit ooit tot niet gaan? Sou Hy dit nie weer gegee het of weer laat ontdek het nie? Kom ons ondersoek die Bybel.

Jesus gee vir ons hierdie onverbreekbare belofte in Matthéüs 24:35:
35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie

Watter woorde word hier bedoel? Sekerlik al die woorde wat Hy, Jesus, gespreek het gedurende Sy leeftyd op aarde en veral gedurende Sy drie-en-`n-half jaar predikingstyd. Besef u dat hierdie Vleeswording van die Seun `n eenmalige gebeurtenis was wat nog nooit in die verre oneindige verlede gebeur het nie, en ook nooit, ooit weer in die verre oneindige toekoms herhaal sal word nie! Dus eenmaal, en net eenmaal alleen het Hy, die almagtige Vader Self, deur die Seun, met vleeslike stembande gepraat. Dit is dus ondenkbaar dat hierdie woorde, van hierdie hele getuie-periode "verlore gegaan" het. Dit kan onmoontlik nie so wees nie, want Hy sê so hierbo.

Al waar ons Jesus se direkte woorde in die Bybel het, en wat Hy in die Vlees uitgespreek het, is die getuienis van twee apostels, Matthéüs en Johannes, wat saam 49 hoofstukke beslaan. Markus en Lukas is later geskrywe, en is grotendeels `n herhaling van hierdie voorafgaande twee boeke, alhoewel daar ook unieke beskrywings daarin voorkom, wat nie in die ander is nie.

Hoe is dit moontlik dat so `n wyse Man, vir meer as drie jaar deur Judea, deur die Griekse grondgebied, deur Romeinse grondgebied kon wandel, en met die slimste wyses kon debatteer, maar niks hiervan is opgeteken nie? Om nie eers te praat van al Sy wonderwerke wat Hy gedoen het nie. Op hierdie webwerf sal u die unieke wonderbare getuienis van hierdie verlore tydperk kry, in Jesus se eie woorde, gedikteer aan Jakob Lorber.  Kom ons kyk verder of Hy nie in die Bybel sulke beloftes vir ons gelaat het nie.

Was Openbaring te Patmos die laaste profesie?

In die kerke is daar tans verskeie opinies aangaande moderne profete, onder andere dat Jesus Sy laaste profesie aan Johannes sou gegee het te Patmos-eiland en geen meer openbarings daarna nie. Dit is onmoontlik want Jesus sê die volgende in Johannes 14:18 en 21:

18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

Hierdie stelling kan tog onmoontlik anders verstaan word nie as dat Hy Homself gedurig aan ons sou openbaar en wel deur Sy profete, soos wat Hy dit al vir duisende jare gedoen het.

Joël bewys moderne profete:

As ons verder gaan delf in die Ou Testament, sien ons ook verdere beloftes van `n tweede koms van Christus, maar voorafgegaan deur sekere hemelse lering. Mens kan dit amper vergelyk met `n tipe Johannes die Doper vooraf-lering, om Sy kinders gereed te maak en voor te berei op Sy finale Wederkoms in Sy verheerlikte vlees. So lees ons van die belofte in Joël 2:19 en 23-24:

19 En die Here het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot ’n voorwerp van smaad onder die nasies nie.

23 En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die Here julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.

24 Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.

Eerstens moet ons die simboliek van koring, mos en olie verstaan. Koring is die rou produk van brood, en Jesus, die Woord is die Lewende Brood wat uit die hemele neergedaal het, dus is koring die Woord, maar dit is ook `n nuwe Woord.

Mos is rou wyn en die wyn is Sy bloed en dit is Sy Gees van Liefde. Dus is mos wat verander in wyn, wat `n gistingsproses is, die begin van die ontwaking van die liefde onder Sy kinders, sodra hulle die koring begin verwerk na Lewende Brood, oftewel begin om Sy nuwe Woord te vertaal en in te neem.

Olie is altyd salwing, en deur die inneem van die Woord, begin Sion te juig, want die Salwing van die Heilige Gees word nou hulle deel, dit is ook die reëns, en in ons tyd, die laat reëns. Die belangrike woorde, "soos voorheen", bevestig dat dieselfde woorde wat Jesus 2000 jaar gelede geuiter het, (vroeë reëns) ook WEER gegee sal word, soos voorheen.

Hyself, Jesus, is tog die Leraar van Geregtigheid, en dit is weer die Woord, of die evangelie van Jesus wat belowe word. Jesus Self sê dat Hy die enigste ware leraar is in Matthéüs 23:8.

Maleagi bewys moderne profete:

Maleagi 4, wat die laaste hoofstuk in die Ou Testament is, is dan ook `n laaste profetiese waarskuwing oor die eindtyd, die tyd waarin ons nou lewe, en daarin waarsku die Hemelse Vader ons as volg:

Maleagi 4:2:

2 Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uit trek en huppel soos kalwers uit die stal.

Die enigste Son van Geregtigheid is Jesus Self, wat vir ons gestuur sal word, oftewel Sy suiwer Woord. Die "opgaan" beteken duidelik `n nuwe Woord, iets wat ons sal genees, anders as die oue wat ons tot nou toe gehad het en wat ons tot nou toe baie siek gemaak het, vanweë die talle vals vertalings wat deur die eeue heen gemaak is.

Die argument dat dit die fisiese wederkoms van Jesus sou aandui, hou nie water nie, want in die daaropvolgende verse sê Maleagi dat Elia dan eers daarna sal kom, ná die opkoms van die Son van Geregtigheid. Hy sal die kinders eers daarná onderrig, sodat Vader die kinders nie met die banvloek hoef te tref nie. Dit is ook algemeen bekend dat Jesus se finale Wederkoms eers na die getuienis van die eindtyd-Elia sal plaasvind. (sien Openbaring 11 en Sagaria 4)

Hieruit kan ons dus duidelik aflei dat daar`n nuwe Woord vir ons gegee sal word, voor die fisiese Wederkoms van Jesus.

Wie sal die ware profeet wees?

Ons taak is net om vas te stel wie se profesie in lyn met die Woord, oftewel Jesus, sal wees. Omdat Jesus se boodskap slegs die liefde behels (Johannes 15:17), sal ons dus na so `n liefdesboodskap moet soek, ook waar geprofeteer is dat daar weer so `n liefdesboodskap gegee sal word.

Nou is dit baie interessant dat Hy weer aan dieselfde lieflingapostel, Johannes, in die boek Openbaring sê:

Openbaring 10:2-4:

2 en in sy hand het hy ’n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land;

3 en hy het met ’n groot stem uitgeroep soos ’n leeu wat brul, en toe hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle stemme laat hoor.

4 En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het ’n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie.

Hierdie engel hou `n geopende boekrol, dit wil sê die inhoud is bekend, maar mag nie aan die wêreld bekendgemaak word nie, maar sal verseël bly tot aan die einde, wanneer die sewende engel sal blaas (vers 7). Hierdie boekrol het die volgende interessante eienskap:

9 En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning.

10 Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword.

Hierdie boekrol se inhoud sal dus baie aangenaam wees om te lees (die liefde is soet), maar sodra jy dit wat daarin geskryf staan, in die praktyk begin toepas (die liefde begin doen), word dit bitter in die geestelike maag, of anders gestel, die handeling volgens die instruksies in die boek raak `n bitter moeilike weg.

Die volgende vers in Openbaring 10 bevestig dan dat Johannes self die volgende openbaring sal gee vir volke.

11 En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.

Die enigste afleiding wat dus hieruit gemaak kan word, is dat Jesus weer, deur Sy kneg Johannes, die opdrag gee om die laaste groot Openbaring vir die volk kort voor die eindtyd te gee, en dit word genoem "Die Nuwe Openbaring van Johannes", of deur sommige "Die Groot Openbaring van Johannes". Hy gebruik die Oostenryker, Jakob Lorber, om die pen te stoot en hierdie groot openbaring van Jesus se volle drie-en-`n-half jaar op aarde sien die lig in 1860, volgens hierdie voorafgaande belofte in Openbaring 10.

Nie net dit alleen nie, maar ook talle ander boeke oor verskeie onderwerpe sien die lig gedurende die 25 jaar wat Jakob Lorber as skryfkneg opgetree het. Die volgende aanhaling uit Die Nuwe Openbaring van Johannes bevestig presies dit wat ons tot nou toe afgelei het, naamlik dat Jesus ons eerstens sal nader deur Sy profetiese Woord, gedikteer aan Sy knegte, die profete.

Bewys in die "Nuwe Openbaring" self:

Aanhaling uit: Die Nuwe Openbaring van Johannes - Boek 9 Hoofstuk 94

"[2] By My tweede wederkoms sal Ek (Jesus) nie weer êrens as `n kind uit `n vrou gebore word nie; want dié liggaam bly verheerlik, soos wat Ek as gees in ewigheid is en derhalwe het Ek nooit meer `n tweede liggaam nodig soos wat jy dit bedoel nie.

[3] Eerstens sal Ek onsigbaar kom in die wolke van die hemele, wat soveel wil sê as: Eers sal ek begin om die mense te benader deur waaragtige sieners, wyses en nuwe opgewekte profete, en in die tyd sal ook vroue profeteer en jongmanne helder drome hê, waardeur hulle My koms vir die mense sal verkondig, en vele sal daarna luister en hulle lewe verbeter; maar die wêreld sal hulle as waansinnige fanatikusse uitmaak en hulle nie glo nie, netsoos dit ook by die profete die geval was.

[4] So sal Ek ook van tyd tot tyd mense opwek aan wie Ek alles wat daar nou tydens My aanwesigheid is, gebeur en gespreek word, via hulle hart in die pen sal gee; wat dan slegs eenmaal geskryf sal word op `n spesiale vernuftige manier, wat die mense van die tyd goed sal ken, in die korte tyd van enkele weke en dae in vele duisende gelykluidende eksemplare vermenigvuldig en so onder die mense gebring kan word. En aangesien die mense in die tyd bykans algemeen die kuns van die lees en skryf sal beheers, sal hulle die nuwe boeke ook self kan lees en begryp.

[5] Met die manier van versprei sal My leer, wat weer nuut en rein vanuit die hemele gegee word, baie sneller en doeltreffender by alle mense op die hele aarde gebring kan word as nou deur boodskappers in My Naam van mond tot mond.

[6] As My leer op dié manier onder die mense gebring sal word, wat van goeie wil is, en `n lewende geloof sal hê, en minstens een derde deel van die mense dit sal verneem het, sal Ek ook hier en daar persoonlik en liggaamlik sigbaar (in die verheerlikte geestelike liggaam; sien vers 2)  tot diegene kom wat My die meeste liefhet en die grootste verlange na My wederkoms en ook die volle en lewende geloof daarvoor sal hê.


[7] En Ek sal Self gemeentes uit hulle vorm, waarteen geen wêreldse mag meer verset en weerstand sal kan bied nie; want Ek sal hulle Leëraanvoerder, en hulle ewig onoorwinlike Held wees en alle dooie en blinde wêreldse mense oordeel. En so sal Ek die aarde van haar ou vuil reinig.

[11] Ek sê: “Die aarde behoort orals aan My, en Ek weet op welke plek My wederkoms die nuttigste sal wees vir die hele aarde! In die tyd sal die mense egter van die een einde van die aarde na die ander met mekaar in verbinding kan tree, en wel so vinnig soos wat `n bliksem uit `n wolk skiet;"

Hieruit is dit duidelik en voor die hand liggend dat Jesus profete sal gebruik, dat hierdie Woord, in verskeie tale gedruk sal word en met behulp van boeke (vers 4) na die mense gebring sal word, waar Hy self gemeentes sal begin vorm.

Ook is dit verstommend dat Jesus self 2000 jaar gelede geprofeteer het dat die Internet medium Sy Woord bliksemsnel van die een einde van die aarde na die ander sou neem!! Waarlik verstommend.

Ten slotte:

Indien u tot hier gelees het, en u nuuskierigheid is geprikkel, versoek ons u in alle liefde, om op u knieë te gaan , te bid tot ons Hemelse Vader, deur Jesus, en Hom te vra vir leiding wanneer u hierdie Nuwe Openbaring gaan lees, hierdie nuwe Wonderboodskap, wat u gees so gaan verryk. U gaan kennis bekom oor dinge waarvan u nog nooit gedroom het nie, van dinge oor die siel, die gees, die Godheid, die heelal, die ontstaan van die aarde, die hemelliggame, die val van Lucifer, u gaan die Nuwe Jerusalem besoek en vele wonderlike dinge meer ervaar. Ons loof en prys Sy Naam, dat ons hierdie groot genadegawe kon ontvang. 

Die Jakob Lorber Stigting van Suid-Afrika