Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 44

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Roclus vertel oor die toorkuns van `n Indiese towenaar

44 ROCLUS, wie se oë steeds groter geword het, hoe langer hy na die vermeende jongeling geluister het, het met groot verbaasde opgewondenheid aan RafaEL geroep: “Maar luister eers, jongeling! Jy is skaars sestien jaar oud en het kennis en ervaring wat `n ander eerlike mens in geen sestig jaar met die grootste inspanning sy eie kon gemaak het nie! Ek wil nie nou daaroor praat dat jy my werklik tot die aanneem van `n ware God, wat daar presies so uitsien soos my hart alreeds lankal stilweg wens, bekeer het nie, en dat ek hier nou glad niks daarteen kan inbring nie, maar ek wil jou maar net vra hoe en wanneer jy hierdie kennis en ervaring opgedoen het.

[2] Jy ken `n ryk wat nog anderkant Indië lê, waarvan ek nouliks `n paar keer en maar net in Indië van gehoor het; `n Indiër het my hieroor naamlik heel trouhartig sulke wonderlike dinge vertel, dat ek my lag soms nouliks kon inhou. Eers nou, deur jou woorde, kan ek my `n meer korrekte voorstelling maak van hierdie fabelagtige ryk, waarvan die bewoners dalk die grootste kultuur skyn te besit op die gebied van industrie, kunste en ambagte. Ja, jy het sekerlik heeltemal gelyk en jy skyn ook goeie kennis te hê oor die magie van alle volke; andersins sou jy sekerlik nooit van `n sekere almag, wat eie aan jou is, melding gemaak het nie!

[3] Ek sien nou goed in, ook al is dit nog ietwat vaag, dat die Godheid om waarlik hoogs wyse redes, alles soos wat dit nou is, op aarde laat bestaan en gebeur, omdat dit vir Hom alleenlik gaan om die ontwikkeling van die siel en nie om die liggaamlike welsyn van die mense nie! Maar om my algehele volledige insig of geen insig in hierdie saak, gaan dit nou ook heeltemal nie, bowendien kan geen ou seder van die Libanon met één slag gevel word nie, maar dit gaan nou heel eenvoudig enkel en alleen maar net daaroor, en dit is vir my van die grootste belang, hoe jy aan alles gekom het!

[4] Jy hoef my nou ook heeltemal nie meer te vertel hoe die nuwe paleisagtige huis van die bejaarde Markus, met die tuin, die hawe en al die nuwe skepe ontstaan het nie; want dit is immers duidelik dat jy, as die wonderwerkende boumeester daarvan voor my staan, en jou as sodanig reeds verraai het, waarskynlik met opset, om my op die proef te stel en te kyk of ek, ondanks my goed ontwikkelde verstand, nie te dom is om wat jy so terloops gesê het, te verstaan nie.

[5] Die gebied van die magie is enorm en onbegrensd en selfs die grootste meester op hierdie gebied is en bly niks anders as `n gebrekkige beginner nie. Ons Essene verstaan sekerlik baie daarvan, onder ons gesê, omdat ons immers Persiese en Egiptiese towenaars in diens het wat wonderwerke kan verrig wat vir mense soos ons gewoonweg duiselingwekkend is, hoewel ook ekself op hierdie gebied geen leek is nie; maar afgesien daarvan het ek in Indië towenaars gesien wat dinge verrig het, waarby vergeleke die hele magie van ons as suiwer kinderspeletjies beskou moet word! Ek sou duisend pond goud daarvoor gegee het, as die koninklike towenaar van Thebe my net enkele van sy onoortreflike toorkunste sou geleer het; maar hy was vir geen geld daartoe oor te haal nie.

[6] En netso kan jy ook in geheime ingewy wees waarvan ek nog nooit gedroom het nie, en kan jy van jou onsigbare handlangers en diensbare natuurgeeste gebruik maak soveel jy maar wil en daarom is dit vir jou altyd maklik om `n hele berg en nog makliker om `n huis en ander dinge in `n oomblik te maak. Want ek het van die vroeër genoemde towenaar in Thebe gesien, hoe hy in `n oogwink van `n uitgestrekte landskap `n meer gemaak het waaruit baie eilande opgerys het en waarop baie skepe rondgedryf het; gedurende enkele oomblikke was die meer te sien, daarna het die towenaar `n gebaar gemaak en die hele omgewing het weer presies soos tevore daar uitgesien. 

[7] Weliswaar het hy ons vir hierdie doel na `n baie donker kamertjie gebring en het hy ons die omgewing deur `n venster laat sien wat heeltemal dieselfde soos buite die kamertjie vrylik te siene was. Toe het hy die venster gesluit, `n paar tekens gemaak en die venster weer `n keer oopgemaak en van die vroeëre natuurlike omgewing was geen spoor meer te siene nie, maar ons het die meergebied, wat voorheen beskryf is, na alle kante uitgestrek gesien en dit alles so natuurlik as wat dit maar kan wees. Daarby het ek slegs `n effens eienaardige trek in my oë gevoel, wat blykbaar veroorsaak was deur die groot verrassing.

[8] Die towenaar het daarna aan ons gesê dat hy ons deur dieselfde venster nog talle van die wonderlikste omgewings sou kon optoor, maar dit sou ons `n hele klomp goud kos; daarom het ons ons nuuskierigheid maar hierna laat vaar. Ek het hom gevra of hy ook in staat sou wees om so `n gebied permanent te maak, sodat dit blywend sou wees. Hy het positief daarop geantwoord en het toe plotseling verdwyn. Toe ons daarop na buite gegaan het, was daar van die meergebied geen spoor meer te ontdek nie.

[9] Ek het gevra hoe so-iets moontlik was en het self die vraag hierop beantwoord, naamlik dat die towenaar uit Thebe duidelik nog baie meer tuis was in die geheime kragte van die natuur. Hoe sou dit andersins moontlik gewees het om deur een en dieselfde venster, waardeur ek vantevore baie goed die werklike natuurlike omgewing gesien het, `n gebied met `n meer te voorskyn te toor en die vorige landskap heeltemal te laat verdwyn? Hy het toe die meer weliswaar weer laat verdwyn en die oorspronklike landskap weer laat ontstaan; maar hy sou die gebied met die meer ook vir altyd kon laat bestaan het, wat hy egter nie wou gedoen het nie, omdat die oorspronklike gebied al baie lank tot een van die mees vrugbare streke behoort het en omdat sulke mooi akkers, weivelde en tuine vir die mensdom immers duidelik van meer nut was as `n ver uitgestrekte meer met enkele eilande en skepe.

[10] Vir hierdie toorwerk sou ek graag tweehonderd pond goud aan hom gegee het; maar hy wou niks daarvan hoor en weet nie. Sy huis moes wel vol gewees het van allerlei enorme magtige natuurgeeste, sonder wie se hulp die towenaar die genoemde gebied met die meer nooit tot stand sou kon gebring het nie!

[11] En so het jy, jong towenaar, dit dan ook tot stand gebring, wat ons, deurdat dit plotseling opgeduik het, eintlik hierheen gelok het! Dit is `n toorstuk wat heeltemal soortgelyk is aan dit wat ek en my elf metgeselle in Thebe gesien het; vir die geheim, hoe mens dit te voorskyn kan bring, sou ek baie goud betaal, maar ek weet dat jy dit ewemin sou verkoop as daardie towenaar in Thebe. Want jy is nog jonk en sal hiermee nog baie geld en ander skatte kan verdien.

[12] Deur wat ek nou het gesê, sien jy sekerlik duidelik in dat ek nie eers sal probeer om van jou die geheim te ontlok nie; maar daar is één ding wat ek uit jou mond sou wou hoor, naamlik hoe, waar en wanneer jy aan hierdie wysheid en hierdie magiese kuns gekom het! Jy het my en my metgeselle tot die aanneem van `n ware, hoogste Goddelike Wese gebring en dit sal dus ook heeltemal geen probleem vir jou wees of jou van stryk af bring om my maar net te sê, waar jy op so `n jong leeftyd aan al hierdie dinge gekom het nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205