Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 232

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Leiding aan die anderkant en wederbeliggaming

232 EK sê: “Wanneer dit vir die vreemde nasies en volke werklik so daaruit sou sien soos wat jy dit in jou vraag gestel het, sou dit wel `n bietjie treurig gestel gewees het met die sieleheil van die mense op aarde; maar dit sien tog wel `n bietjie anders daaruit, en derhalwe is aan elke mens die geleentheid gegee om homself, van watter geloof hy ookal is, meer na die geestelike, as na die materiële te rig. As dit die geval is, kan `n siel aan die anderkant glad nie meer heeltemal deur die materiële pool aangetrek word nie, maar verkeer met haar altyd volkome vrye wil in `n soort sweeftoestand, waarin sy nóg tot die een, nóg tot die ander pool behoort. Hierdie toestand van die siele noem Ek `n middelryk, waarin die siele deur reeds voltooide geeste meestal na die beter pool gelei word.

[2] Natuurlik gaan die proses van `n volledige ommekeer nogal langsaam; maar dit maak nie saak nie, omdat dit tog nooit so kan wees dat `n siel totaal verlore gaan nie. En sou sy deur `n te groot verstoktheid volledig deur die volle teenpool verslind word - wat uit die aard van die saak baie erg sou wees, sal sy haarself na `n lang tydsiklus weer moet laat welgeval om nogmaals `n liggaamlike lewensproef deur te maak, miskien op hierdie aarde of ook wel op `n ander, waarvan daar in die eindelose ruimte tallose is, sonder om te weet of ook maar te vermoed dat sy reeds `n keer `n liggaamlike lewensproef deurgemaak het. Sy sou ook niks voordeel daarin hê om dit te weet nie, omdat sy daardeur noodsaaklikerwys dadelik weer in haar ou euwel van sinlikheid sou verval en daardeur sou `n tweede lewensproef suiwer tevergeefs en sinneloos wees. Om julle dit makliker te laat insien, gee Ek vir julle `n voorbeeld.

[3] Ongeveer tweeduisend jaar gelede was daar `n uiters heerssugtige en wrede koning wat uit louter moordlus duisende mense op die mees gruwelike wyse laat teregstel het, en hom ook verder aan alle moontlike boosheid oorgegee het. Waar sy siel na sy liggaamlike dood beland het, kan maklik geraai word!

[4] Soos wat Ek julle al vroeër vertel het, kan so `n siel nêrens anders beland as net by haar gelykes nie. Elkeen van julle kan hom maklik voorstel hoe dit na `n kort tyd daar met haar gesteld sal wees; haar geselskap is immers presies soos syself, en na `n tyd nog veel erger, omdat haar boosheid en woede na `n bepaalde periode steeds erger sal word; want by die materiële siele het alles nog sy grense, net die hoogmoed en die heerssug het nie, wat reeds menige koning in die voorgeskiedenis gedurende sy lewe maar al te duidelik gemaak het, deurdat hy hom vir sy volk as `n vors aangebied het en verlang het dat hulle hom as die enigste ware god sou aanbid, en om hom met allerlei offers wat hy vereis het, te vereer. Die bekende geskiedenis van die vroeëre koning Nebukadnesar van Babilon maak dit maar al te duidelik.

[5] En dit gebeur aan die anderkant in `n nog baie hoër graad. Elkeen van hierdie siele bied haarself baie gou aan die ander as die allerhoogste en almagtige god aan, neem daarby dadelik `n vreeslik gebiedende houding in en verlang onmiddellik alles van die ander gelykgesinde en gelyksoortige siele.

[6] Met watter woede die ander soortgelyke siele dan, wat reeds geruime tyd om dieselfde rede met almal geveg het, op so `n aanmatigende siel afkom en haar die vreeslikste proef laat aflê, kan julle julleself natuurlik nie voorstel nie; en so `n oerdom siel laat haarself selfs vir `n tydlank ook nog alle moontlike martelings en kwellings welgeval, omdat sy in die blinde veronderstelling verkeer dat, nadat sy alle ware helse proewe deurstaan het, deur die ander as `n god en heerser oor alles erken en aangeneem sal word.

[7] Maar omdat sy na die lang verstreke tye tog begin om in te sien dat sy vir die gek gehou was, ontbrand sy in toorn en woede teenoor haar pynigers, en dit het dan gevegte en vuur van die ergste graad tot gevolg; hierdie siele los dan gewoonweg op in so `n dergelike toornvuur en sy sou haarself ten slotte selfs nog heeltemal wou vernietig het, as so-iets net moontlik was!

[8] Maar so `n toegelate storm, hoe afskuwelik sy ookal tekere gaan, hou altyd iets goeds in, vanweë die feit dat dit in sulke siele `n groot deel van die skadelikste materie verwoes en so die siel `n bietjie suiwerder maak. Na talle dergelike storms word `n enkele siel hier en daar nugterder en probeer haar van die opstandige geselskap bevry en soek sy `n uitweg; en dan word dit gewoonlik toegelaat dat sy by `n beter geselskap kom, of sy word weer geïnkarneer. 

[9] En nou is ons weer by die koning van ons voorbeeld, wie se siel so `n weg deurgemaak het soos wat Ek julle nou baie kortliks akkuraat beskryf het. Die teruggekeerde siel van so `n eenmalige koning uit die vroeë geskiedenis, wat hom byvoorbeeld so in die uiterste Oos-Asië wangedra het, kom nou op `n heeltemal ander deel van die wêreld, langs die gewone weg van die vlees, in die liggaam van `n kind in die wêreld in, natuurlik gebore uit `n arm vrou. Dan is so `n siel weer heeltemal kind en het nie die geringste kennis van haar vorige toestand nie, en dit sou ook heeltemal verkeerd wees as sy maar net die minste herinnering daarvan sou gehad het. 

[10] Die kind, weer soos voorheen van die manlike geslag, groei nou in armoede op tot `n man en word na `n gebrekkige opvoeding en `n ander ontwikkeling `n baie eerlike en ywerige dagloner wat werk verrig in die huis of op die land, hy ken God en bid tot Hom en dank Hom vir die daaglikse brood. Uiteindelik put hy egter plesier daarin om die ander mense teen `n karige loon te dien en van nut te wees. Ten slotte word ons arbeider oud, swak, vermoeid en siek en sterf soos alle mense op aarde.

[11] Wat gebeur daar nou met sy siel? Sy kom aan die anderkant weer by die goeie, werksame en aktiewe siele aan en beleef vreugde daarin om `n nederige plek in te neem en almal volgens behoefte te dien. Hierdie goeie rigting van haar gemoed bewerkstellig die spoedige opwekking van haar gees uit God wat haar alter ego (tweede ek) van die anderkant is.

[12] As dit eenmaal met sekerheid plaasgevind het, dan sal die volle éénwording daarmee ook nie lank op homself laat wag nie. Eers wanneer dit gebeur het, keer die volle bewussyn in so `n siel terug en hiermee die helder herinnering aan alle vorige toestande; sy loof dan God se Wysheid, Mag en Liefde wat haar selfs uit die mees jammerlike toestand weer na die ware ewige lewe teruggelei het. 

[13] Hieraan kan julle dus voldoende en duidelik sien hoedat God elke siel langs Sy ondeurgrondelike weë vir elke sterfling na die ware lewe en lig kan lei, al is sy volgens julle mening hoe verdorwe ookal.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205