Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 50

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Die gevare van die bedrieglike wonderwerke van die orde van die Essene

50 RAFAEL: “Jy het jou afkeurend uitgespreek oor die boetedoenings van die Indiërs! Oor vyftig jaar sal julle alreeds tienmaal erger boetedoenings ingevoer het; want as julle moontlikerwys net daarvoor gesorg het dat die grootste gedeelte van die volk julle in hulle geloof sterk sal aanhang, waartoe hulle heel maklik te bring is deur julle pseudowonderwerke, dan sal die volk hulle spoedig, ongeag en sonder enige teëstribbeling daar­volgens skik. Want in hul domheid kan hulle julle vir niks anders aansien nie as vir knegte van die gode op hierdie aarde, wat met allerlei geheime, goddelike, allesvermoënde kragte toegerus is, waarteen geen aardse wil en geen wêreldse, menslike krag ook maar enigsins iets kan uitrig nie.

[2] Deur sulke wonderwerke sal julle die volk sekerlik volkome in julle mag kry. As dit eenmaal gebeur het, hoef julle net aan die een of die ander mens te sê: “Erge sondaar wat jy is! Wat jy as iets erg gedink, gewil en ook al byna gedoen het, dit sien ons, ja ons sien reeds die bose gedagtes en begeertes wat in jou hart ontkiem, wat jy eers in die komende jare bewustelik in jou gedagtes sal hê en waardeur jy jou die volle vervloeking en toorn van die gode op jou waardelose hoof sal haal! Ons waarsku jou dat jy jouself van al jou bose gedagtes en verlange vir die toekoms moet ontdaan en dat jy vir die gode, om hulle vir hierdie keer gunstig te stem, voorlopig so `n groot as moontlike offer aan ons voete moet lê. Bowendien moet jy jouself nog gedurende drie volle jare daagliks straf deur jouself met `n tou op jou rug te slaan totdat hy byna bloei! Jy sal dit ewiglik berou as jy hierdie boete nie streng uitvoer nie!”

[3] Die arme mens, wat eintlik nooit `n bose gedagte en glad geen bose wil in hom laat opkom het nie, sal sonder enige teenspraak van julle aanneem dat hy `n groot en verdoemenswaardige sondaar is en dat hy alles gewillig sal moet ondergaan waarmee julle hom as almagtige en alwetende godsknegte opgesaal het. Ek vra jou egter volgens die oordeel van jou suiwer verstand, of die einddoel wat julle uiteindelik tog wil bereik, goed en korrek is en of hier ook die middel deur die einddoel, wat verseker daarop volg, geheilig word!”

[4] ROCLUS sê: “Ja, maar hierdie bedoeling het ons almal nog geensins gehad nie, ons was maar altyd net van plan om iets goeds vir die arm, lydende mensdom nuttig te wees, - en daarom sien ek nog altyd nie so goed in hoe my middel, naamlik om die gestorwe meisie op bedrieglike wyse weer tot lewe te wek, sleg kan wees nie! Want ek kan my met al my verstand, hoe helder dit ook is, absoluut geen enkele voorstelling daarvan maak waarheen dit volgens jou sal lei nie - en ook nie dat uiteindelik alles wat ons nastrewe, ook al is dit nou nog heeltemal nie duidelik nie, in daardie rigting sal gaan nie! Want as jy so-iets wil bereik, moet jy tog wel die wil hê om hier iets verkeerds te doen. Volgens my wete is by ons almal die volslae teendeel die geval! Waarvandaan moet nou die slegste van die slegte ons instituut binnekom?”

[5] RAFAEL sê: “Vriend, jy hoef maar net die suiwerste koring te neem en dit op die suiwerste moontlike akker te strooi en as dit opkom, sal jy altyd nog `n behoorlike hoeveelheid onkruid tussen die koring aantref! Nou, as jy en jou kollegas egter niks anders as onkruidsaad in die aarde strooi nie, hoe wil julle dan koring oes?

[6] Gedurende alle tye en in alle lande op aarde is oorspronklik deur God aan die mense die allersuiwerste waarheid gepreek deur die mond van profete wat vervul was met God se Gees. Bekyk hierdie waarhede nou na `n paar duisend aardse jare! Wat is dit nou? Vir die oorgrote deel onkruid, voorskrifte van mense, leuens en allerlei soorte bedrog wat berghoog is! Julle het julle instituut op niks anders as leuens gebou nie en dink julle om daarmee waarheid op te wek in die harte van die mense? Waarheen moet die wêreld dan gaan?!

[7] Watter nut het dit vir jou om `n groot, diep kuil in die grond te grawe, in die middel van die weg, sónder om in die verste verte die bedoeling daarmee te hê dat daar ooit `n mens sal inval nie?! En as die mense dan snags op hierdie weg loop, sê my, sal hulle dan nie oor die rand van die kuil val en daarin verdwyn soos wanneer jy die kuil wél in die aarde gegrawe het met die bedoeling om mense daarin te laat val en te laat verdwyn nie?!

[8] Of daar kom `n siek man na jou, wie se siekte jy met al jou helder verstand verkeerd beoordeel het en jy gee aan hom dan `n middel wat in sy geval juis `n gif is! Hy gaan daaraan dood. Kan die middel dan goed genoem word, omdat jy as arts die beste bedoeling daarmee gehad het?!

[9] Mense wat in die weg, waar dit baie moerasagtig was, `n kuil of `n diep afvoerkanaal grawe sonder om `n brug daaroor heen op te rig met `n goeie leuning, het ook `n goeie bedoeling, naamlik selfs om die weg droog te lê; maar deur hul kortsigtigheid kan hulle nie so ver vooruit sien nie, want anders het hulle immers tog onfeilbaar moes insien, dat so `n kuil of so `n diep kanaal vir diegene wat snags oor hierdie weg moet gaan, wel baie gevaarlik sou moes wees.

[10] Die middel waarmee die weg drooggelê moet word, was sodoende ook met die beste bedoeling `n slegte middel, omdat hulle met hul goeie bedoelings heeltemal nie bereken het dat die kuil of die diep kanaal snags vir die reisigers tog duidelik baie gevaarlik sou wees nie. Ja, as die wegverbeteraars die moeras met klippe en hout opgevul het en die weg op hierdie manier drooggelê het, of oor die kanaal minstens `n goeie en stewige brug gebou het, dan sou beide, sowel die middel as die bedoeling, goed gewees het. Maar omdat hulle net gedink het: “Nou, oordag sal elke reisiger die kuil of die kanaal tog wel vroeg genoeg opmerk en dit ontwyk, - en snags moet niemand tog reis nie!”, was die middel dus sleg en kan dit nie deur `n sogenaamde goeie bedoeling geheilig word nie!

[11] En net so is ook julle bedrieglike wonderwerkinstituut vir die heil van die mensdom tot in die kern `n slegte middel, omdat julle by die oprigting daarvan gladnie bereken het watter onuitspreeklike groot nadele hieruit vir die mensdom sou ontstaan nie. Watter nut het dit vir jou dat jy die dogter van jou vriend sogenaamd tot lewe gewek het, as hy van iemand wat hy volledig vertrou, te hore sou kry dat sy eie dogter netjies begrawe is en `n heeltemal vreemde kind as sy sogenaamde weer lewendgemaakte dogter aan sy sorg toevertrou is? Dink jy wel dat jou vriend hom ook hierna met so `n bedrog tevrede sal stel? Of kan jy jou nie voorstel nie, dat `n dergelike verraad `n uitsonderlik vernietigende lig op julle hele instituut sou werp en dit hierdeur alle geloofwaardigheid en al die vertroue sou verloor?!

[12] Dink maar eers daaroor na wat die gevolge van sulke verraad vir beide kante is, dan sal jy dit wel duidelik begin verstaan of slegte middele wel, ernstig beskou, deur `n onberekenbare, totaal blinde, goeie bedoeling en deur die bereiking van `n net skynbaar goeie doel, as goed en geheilig beskou kan word voor die forum van die heilige regtersamp van die ware en alleen geregverdigde Wysheid van God en Sy ligvolle geeste!

[13] Of heet dit nie om die waaragtige Krag van God se Gees, waarmee mense op hierdie aarde dikwels vervul is, te wil verswak of selfs te vernietig nie? En gebeur dit nie ten dele uit valse eersug en deels uit afguns en groot jaloesie, en uit vrees vir die vermindering of selfs die algehele ten gronde gaan van inkomste nie?! Wat moet daar wel nie omgaan in `n geharde Esseen, as hy hier hierdie wonderwerk, wat op `n klaarligte dag ten aanskoue van alle mense oop en eerlik verrig word, goed in oënskou neem en vervolgens, ten slotte, as hy eerlik wil wees, heimlik by homself in die volste waarheid moet dink: “Sien, tot so-iets sal jy ewig nooit in staat wees nie! Wat stel die wonderwerke van die Essene eintlik voor, vergeleke met hierdie wonderwerk!?!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205