Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 5
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 206

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264, 265, 266, 267, 268, 269, 270, 271, 272, 273, 274, 275, 276, 277.

Hiram se getuienis oor die Heer

206 HIRAM sê: “Wel, is dit dan nie by U soms die geval nie?! Wie soos U feitlik met alle goddelike eienskappe toegerus is, mis ook nie die goddelike natuur nie; en wie dit het, is ook `n ware Seun van die Allerhoogste. En die Allerhoogste moet wel `n allerhoogste vreugde aan so `n Seun beleef en deur hierdie vreugde ook volledig één wees met Hom.

[2] Want omdat God `n suiwerste en almagtige Gees is, vervul van die diepste Wysheid, kan Hy immers ook slegs Sy vreugde aan diegene beleef wat in die hoogs moontlike graad na Hom aard, en nie aan die vleisdamp van verbrande osse, kalwers en skape nie. U aard egter besonder baie na Hom en in die gees is U selfs bykans Homself! Wat is daar nog meer nodig om as tydelike aardse mede-seun ook tegelyk `n volmaakte Elohimseun te wees?! By U, Majesteit en Heer, is dit egter onmiskenbaar die geval en daarom kan U ook die Middelaar van alle volke na God toe wees, heeltemal afgesien van die feit dat U ons in hierdie verborge hoek van die aarde besoek het, asof ons die enigste mense op aarde was waarvoor U in volle erns beplan het om hulle te verhef na U Gees.

[3] Nou, Majesteit en Heer, het ek my opvatting oor die Messias in die algemeen, asook in die besonder en qua (in die hoedanigheid van) U persoon uiteengesit, en ek, soos ook Asiona, is dit nou hierin volkome eens.

[4] Ek, van geboorte af `n heiden, weet van die Judese godsdiens slegs soveel soos wat ek gedeeltelik van Asiona, en deels ook van ander Judeërs verneem het. Veral in hierdie tyd word daar deur die Judeërs oor `n Messias gepraat, omdat die Romeinse onder­drukking hulle nie aanstaan nie, en daarom is dit begryplik dat hulle vir hulleself allerlei belaglike en wonderlike voorstellings van Hom sal maak, en Hom so na hierdie wêreld toe sal wil laat kom. Vanweë die Romeine hoef daar slegs nog lank geen Messias na die Judeërs te kom nie; want die Romeine is in menige opsig self `n soort klein messias vir die Judeërs, by name vir die armes, wie se laaste druppel bloed sonder die beskerming van die Romeine lankal deur die dienaars van die tempel uitgesuig sou gewees het.

[5] Maar juis vanweë die te brutale tempeljode wat al die hoër, suiwer en ware met die smerigste voete vertrap, en vanweë die Israelse volke wat onwetend en dom deur hulle gemaak is, is `n Messias van U soort nou reeds in die hoogste graad noodsaaklik, en vir die armes `n ware verlossing uit die hemele. Ek het nou gespreek, Majesteit en Heer; wil U nou ook weer `n paar woorde tot ons spreek!”

[6] EK sê: “Ja, Ek moet eerlik beken dat Ek vir julle, wat dit aanbetref, nie baie meer hoef te sê nie; want beide van julle neem nou alles vanuit so `n korrekte standpunt op dat hieroor weinig of niks meer te sê is nie! Waarlik, soveel ware begripsvermoë het Ek in die hele Israel nie gevind nie! Ek is daarom ook in alle waarheid Hy vir Wie julle My beide beskou. Maar nou het julle net eers die Verlossing van julle lewe herken; daar is in hierdie plek egter meer mense wat by julle hoort. Hoe wil julle dit vir hulle bybring? Op één slag, plotseling, mag julle dit nie doen nie, maar stukkie vir stukkie, omdat hul vrye wil andersins groot skade sou ondervind; maar dan bly daar nog die vraag oor hoe julle dit sal aanpak.” 

[7] ASIONA sê: “Dit sal natuurlik `n bietjie moeilik wees; want die ander is nog meer sinies as ons! Maar kom tyd, kom raad, dit sal wel slaag. Ek is van mening dat dit ook op geloofsgebied `n bietjie makliker is om met intelligente mense om te gaan, as net met liggelowiges wat wel iets gou as heeltemal waar aanneem, maar later heeltemal nie in staat is om te beoordeel wat hulle aangeneem het nie. Hierdie mense hier koop egter nooit `n kat in die sak nie, maar hulle bekyk die waarheid van alle kante in die lig; en as hulle dan `n gunstige oordeel daaroor kan fel, neem hulle `n egte en goeie saak ook teen elke prys aan. En daarom glo ons dat ons dit ook met ons verwante en metgeselle wel maklik en goed sal kan beredder.

[8] Dit begin nou egter ook in die Ooste al lig te word, spoedig sal dit baie druk word in die baai, - want `n mens moet hier vóór sonsopgang gaan visvang as `n mens iets wil vang; oordag visvang loon nie die baie moeite en werk nie. Die bure begin hulle al te roer om hul visgerei gereed te kry. Ook ons twee moet nou vinnig aan die gang kom, sodat ons `n vars oggendete kan kry. Omdat ons gedurende hierdie nag van U soveel heerlike dinge vir ons siel buitgemaak het, is dit nou vir ons ook `n eerste plig om daarvoor te sorg dat julle hier goed versorg sal word, nie slegs as gevolg van julle wonderbaarlike vrygewigheid nie, maar as gevolg van ons verhoogde aktiwiteit.

[9] EK sê: “Laat dit maar! Dat julle genoeg vis sal hê, daarvoor sal gesorg word! Maar as julle dan tog iets wil doen, raap dan eers die lanse, spiese, swaarde en kettings op wat hier rondlê, en bring hulle in veiligheid; ruim daarna ook die skip op en neem die kosbaarhede in ontvangs! Daarna sal julle die skip baie goed kan gebruik as julle op groot skaal gaan visvang. Bring beide vissers wat hier verblyf, nou hierheen, sodat hulle van My instruksies kan kry hoe hulle hulleself altyd voortaan sal moet gedra!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205