Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 94

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die ontwikkeling van die sielelewe

94 Hierop sê Cyrenius, wat alles met gespanne aandag aangehoor het: "Heer, ek kan nie bepaald sê dat ek alles verstaan het nie; dit is vir my alles heeltemal duidelik - dit wil my net voorkom of dit alles vir my gedurende hierdie aardse bestaan ook weer eenmaal onduidelik sou kon word en dit sou my dan ongelukkig maak! Want alles wat ons nou uit U heilige mond verneem het, gaan tog selfs die mees ontwikkelde menseverstand ietwat te bowe; daarom sou `n klein nabetragting oor die een en ander miskien nie oorbodig genoem kan word nie!"

[2] Ek sê: "Vriend, julle Romeine het `n baie goeie spreekwoord, wat ongeveer so lui: ‘Longum iter per praecepta, brevis et efficax per exempla!’* Kyk, dit is hier ook baie goed van toepassing! Wag vir die voorbeelde wat later gaan volg, wat Ek vir julle op wonderbaarlike wyse sal laat sien! Dit sal dit wat vir jou nou nog nie duidelik is nie, duidelik maak; die suiwer kern van die saak sal jy egter eers te wete kom as die suiwer Gees van die ewige Waarheid oor julle sal kom en julle sal lei in alle waarheid van die hemele en van alle wêrelde. (*Lank is die pad deur middel van woorde, kort en doeltreffend deur middel van voorbeelde!)

[3] Merk jy egter nie dat selfs in die natuur daar slegs een wet geld vir die groei van alle plante en diere nie?!

[4] Kyk, alle plante groei en vermeerder hulle van binne af uit; hulle onttrek uit die vog van die aarde die stowwe en voedsel wat by hulle pas en neem dit uiteindelik, gesuiwer deur talle duisende kanaaltjies en buisies, in hulleself of in hulle lewe op.

[5] Die diere haal hulle voeding eintlik uit dieselfde bron uit –dit is maar net tevore, hetsy in die organisme van die plante of in die reeds veel meer gereinigde vlees van die laagste diersoorte, meer gesuiwer as in die oorspronklike humus van die aarde.

[6] Die mens gebruik uiteindelik reeds die allerfynste en suiwerste uit die plantewêreld asook uit die dierewêreld. Hooi, gras en strooi voed hom nie meer nie. Van die plante het hy hoofsaaklik slegs koring nodig en van die bome die edelste, heuningsoet vrugte. Van die diere gebruik hy vernaamlik die deel wat as die suiwerste geld en hy het `n afkeer aan die vlees van onrein diere.

[7] Maar hoeveel afwykings, afdwalinge en sypaaie is daar nie net al op hierdie aarde by die tot volle wasdom kom van die plante- en dierewêreld nie, en tog bereik alles sy doel! `n Ondersoeker wat alles in die natuurwêreld sorgvuldig bekyk, sal wel vasstel dat die een altyd diensbaar is aan die ander en dat die een daar is om die ander te verhef en tot meer lewe te bring.

[8] Die lewe van die siel moet deur die verskillende natuurelemente gefiltreer word. Eers bevind sy haarself in die eter; daar konsentreer sy haarself deurdat die gelyke verbind met die gelyke, die ooreenkomstige en die verwante. Daardeur word sy swaarder en daal eers in haarself in haar eie sentrum in, word swaarder en swaarder en word uit haarself die reeds swaarder en tasbare lewensubstansie.

[9] Soos lug verbind sy haarself op dieselfde wyse as bo in die eter; daaruit vorm wolke en mis hulleself en hulle verbind hulleself weer, word waterdruppels en val op die aarde as reën, hael, sneeu, dou en in bepaalde streke as blywende en voortdurende vorme van newels en vogtige neerslae uit die lug.

[10] Die water moet, weliswaar as `n element wat nog baie ondergeskik is, maar reeds bokant eter en lug staan, nou al `n baie veelsydige, dienende funksie gaan vervul vir die hoërstaande prosesse ter konsentrasie van die lewe. Water moet vereers die lewe wat heeltemal of ten dele in die growwe materie tot klip verhard het, week maak en vir opname en deursending in homself, dit wil sê in die waterelement self, opneem; dit is die eerste bediening.

[11] Vervolgens moet dit sy lewensgeeste of in `n sekere sin sy geestelike substansiële deeltjies afgee aan die plante. As die deeltjies hulle in die plante stadig maar seker altyd meer ontwikkel tot vorme met bepaalde intelligensies, dan word hulle weer deur die water en die vogtige lug opgeneem, en die water moet weer aan hulle materiaal vir nuwe en vryer lewensvorme verskaf. So bly die water dus nog steeds diensbaar in sy eie sfeer, hoewel daar uit hierdie water per uur miriades maal miriades klein intelligensiedeeltjies van die sielelewe vrykom en altyd meer selfstandig word.

[12] Maar die plantelewe moet in die tweede instansie `n aantal dienste aanvaar en verrig wat reeds meer ingewikkeld is. Die dienste van die water is nog baie eenvoudig, terwyl die dienste van die plante vir die verdere bevordering van die lewe reeds by die waarneming van die eenvoudigste plant al baie ingewikkeld blyk te wees.

[13] Nog uitgebreider en belangriker is die diensverlening vir die verdere bevordering van die selfstandige sielelewe selfs in die eerste en eenvoudigste diere, wat die naaste aan die plantewêreld staan. En so word die bediening in elke hoëre vorm altyd meer ingewikkeld.

[14] As die sielelewe eenmaal geheel en al oorgegaan het in mensevorm, dan is diening (om te dien: vertaler) sy vernaamste bestemming. Daar is verskeie natuurlike dienste wat elke mensevorm as `n dwingende 'moet' opgelê is; daarbenewens is daar dan ook tallose vryer, en `n nog groter aantal heeltemal vrye morele dienste wat `n mens moet doen. En as hy in alle opsigte `n getroue dienaar was, het hy homself daardeur verhef tot die hoogste lewensvervolmaking. Nou, dit gebeur wel by sommige mense wat reeds vanaf geboorte op `n hoër peil geplaas is; maar by ander mense, wat so te sê nog naby die lyn van die diere staan, gebeur dit nie aan hierdie kant nie, en hulle verdere ontwikkeling vind eers aan die ander kant plaas - maar altyd langs die fundamentele weg van die ‘dien.’


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205