Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 178

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Oor die wese van engele. Hart en geheue

178 Ook die ander gaste val weer flink weg en veral RafaEl ook, wat Cornelius ten slotte tot `n enigsins lakonieke opmerking beweeg, wat hy die langs hom sittende Romeine min of meer toefluister. Hierdie Romeine was Festus en Julius, en Cornelius sê aan hulle: "Vir `n mens van vlees en bloed smaak hierdie heerlik voorbereide visse voortreflik en hy kan daar baie van eet; maar RafaEl, wat as gees geen vleis en bloed het nie, sou hom wel met die reus Hercules en met die Filistyn Goliat kon meet! Merkwaardig hoe so `n gees soveel kan eet! Nou eet hy al sy twaalfde vis, en dit is vir `n gees tog wel wonderbaarlik baie! Ek het nog maar net één vis opgeëet en die engel het in dieselfde tyd twaalf laat verdwyn! Nee, dit is nogal erg! Ek glo dat hy nog goed twaalf sou kon eet!"

[2] Die engel sê: "Nie nog één keer twaalf nie, maar wel tien maal honderdduisend maal twaalf tegelyk, ook al sou dit louter groot walvisse wees, soos dié in wie se maag Jona vir drie volle dae `n min of meer ongerieflike onderdak gevind het!

[3] Die visse gebruik ek nie om my te voed nie, maar hulle is nodig vir die vorming van die natuur-geestelike eter waaruit ek volgens die wil van JaHWeH hierdie sigbare liggaam moes vorm en tydelik in stand moet hou. Hoewel hierdie liggaam geestelik is, het dit tog ook vleis en bloed. Kyk maar eers, is hierdie nie are met bloed nie, is dit nie vleis nie?!

[4] Dat die mag wat ek van die Heer gekry het my toelaat om hierdie liggaam oombliklik te laat oplos en dit weer saam te stel, kom deur my tot nog toe hoogste lewensvolmaaktheid; maar ek is nie alleen in staat om my eie liggaam deur die krag van my wil oombliklik op te los nie, maar ook joune en op dieselfde oomblik ook die hele aarde.

[5] Maar omdat ek jou liggaam in `n oogwink kan oplos, wil dit dan sê dat dit nie uit vleis en bloed bestaan nie?! Of bestaan die aarde daarom ook nie uit allerlei vaste materie en uit water, lug en `n tallose hoeveelheid oerstowwe nie, wanneer ek dit met toestemming van die Heer in `n oomblik wat vir jou onvoorstelbaar kort is, eweneens sou kon oplos in die oergeestelike, spesifieke deeltjies wat, as hulle ook materieel sou wees, so klein sou wees dat jy daar niks van sou sien nie?!

[6] Daarom vriende, dink na, dink eers na voor julle `n woord oor julle lippe laat kom, sodat julle as leerlinge van God nooit onsin praat nie, waarmee julle jul Heer beslis geen eer aandoen nie! Julle het nou wel reeds baie gesien, gehoor en meegemaak; maar van die innerlike geestesgrootte en mag van `n - sê maar - net `n engelegees, laat staan van die ewige gees van God, het julle nog nie die minste en vaagste begrip nie! En kan julle dan spitsvondige opmerkings maak oor dít wat `n aartsengel nodig het vir die instandhouding van sy tydelike, skynbare liggaam?!

[7] Dink julle dalk dat julle my werklike oerlig-gedaante sou kon verdra as ek my as sodanig deur julle sou wou laat sien?! Weet dan dat die gloed van die lig van my oerwese kragtig genoeg is om `n ontelbare aantal sentrale oersonne te vernietig, laat staan julle en hierdie hele aarde! Om egter te voorkom dat dit deur my aanwesigheid sou gebeur, moes ek volgens die Almagtige wil van die Heer hierdie skynliggaam vorm om my eintlike wese sodanig te omhul dat elke versteuring van die orde binne die gerig van die materie vermy word. Maar die materie moet eers deur my innerlike lewensvuur voorberei word om as beskermende omhulsel te kan dien! En daarom is ek genoodsaak om meer voedsel uit die materie tot my te neem as iemand van julle.

[8] Dit het julle weliswaar nie geweet nie en dit kon julle ook nie weet nie; maar julle kon wel reeds weet dat een van ons nie deur die Heer in hierdie sigbare vorm ontbied word om tot julle ergernis as veelvraat of grapmaker of sneltowenaar op te tree nie, maar om in talle opsigte nuttig vir julle te wees en om aan julle `n tasbare bewys te lewer van die aanwesigheid en die mag van God se engele! As julle dit egter besef, hoe kon julle dan spitsvondige opmerkings maak oor my etery?"

[9] Cornelius sê: "Beste, voortreflike boodskapper van die Heer uit die hemele, wees daarom asseblief nie kwaad vir my nie; want jy sien tog wel dat ons geestelik niks anders as nouliks pasgebore wiegkinders is nie, en meer `n droomlewe lewe as `n heeltemal bewuste! Eet in die vervolg soveel jy maar wil; van ons almal sal niemand dit ooit weer in sy kop kry om daaroor, hoe sag ook, `n opmerking te bedink nie, laat staan uit te spreek nie. Maar terselfdertyd bedank ons jou hiermee vir die buitengewone les wat jy ons in jou te regte verontwaardiging oor ons hardnekkige domheid gegee het. As ons soos nou die oorsaak weet, sal ons in die vervolg beslis nooit `n verkeerde oordeel vel nie! Maar as ons die oorsaak nie weet nie, hoe kan ons dan met die gevolg bekend wees? Daarom nogmaals my heel besondere dank vir die groot en belangrike les wat jy ons nou gee!"

[10] RafaEl sê: "Die dank kom alleen die Heer toe, want sowel julle as ons Vader is van ewigheid af! Gebruik hierdie les egter ook by alle ander ervarings en verskynsels wat julle in julle lewe meemaak, dan sal julle ons engele binne `n kort tydjie as waardige broers ter syde staan! Niks moet julle bekritiseer of daaroor lag nie, uitgesonder leuens en bedrog! Want die leuenaar moet altyd aan die kaak gestel word en die bedrieër moet aan die skandpaal kom om die vrug te proe van leuens en bedrog!

[11] In alle ander gevalle moet julle die dwalende mensdom vriendelik onderrig. Rig hulle hulleself daarvolgens, dan is alles in orde; rig hulle hulleself nie daarvolgens nie, dan kan julle julle snare bietjie stywer span! Help dit ook nie, sluit dan sulke eiesinniges op in `n opvoedingstehuis en laat hulle vas en indien nodig ook tugtig met roedes, want by `n regte en goeie opvoeding mag die roede nie ontbreek nie! Ook ons, julle geheime opvoeders, bedien ons daarvan by mense wat eiesinnig en baie halsstarrig is. Dus, bewaar ook hierdie leer en pas dit toe waar dit nodig is, dan sal julle julle te midde van mense bevind, anders alleen maar te midde van allerlei wilde diere wat menslike maskers dra!"

[12] Cyrenius sê: "Heer, het die engel dit van homself - of het hy alles net maar van U gekry?"

[13] Ek sê: "My vriend, jou geheue laat jou weer behoorlik in die steek! `n Aantal dae gelede het ek julle tog breedvoerig vertel wat engele is en hoe hulle dink, wil en handel, en nou vra jy alweer daarna! As hulle net vorms is wat deur My wil bestuur word, wat het hulle dan van hulleself? Wat kan hulle self dink terwyl hulle tog net `n uitvloeisel van My wil en `n vergaarhouer van My gedagtes, idees en planne is?

[14] As hulle selfstandig moes dink, wil en handel, sou hulle net soos julle eers aan die kindertafel moes eet en in julle liggaam hierdie aarde moes seën! Daaruit blyk tog wel sonhelder dat wat die engel RafaEl nou vir julle gesê het, My woord, My taal en My wil is wat julle op gelyke wyse in ag moet neem as wanneer Ek dit Self regstreeks uitgespreek sou hê.

[15] Julle moet My woorde beter ter harte neem, dan vergeet julle dit nie so gou nie, want alles wat julle eenmaal regtig ter harte geneem het, bly beslis ook vas in julle herinnering sit en as julle dit nodig het, laat julle geheue julle nie in die steek nie. Maar as julle dit wat Ek gesê het, maar net in julle geheue wil opneem, sal julle dit vir die grootste deel in `n jaar minstens honderd keer vergeet; want op latere leeftyd is die geheue nie meer so soepel as in die jeug nie. En die jeug vergeet al maklik wat hy geleer het, laat staan die ouere. Maar wat julle eenmaal ter harte geneem het, het in die lewe oorgegaan en bly vir ewig!

[16] Ek sê vir julle, van alles wat julle op hierdie wêreld net in julle geheue opgeneem het, sal in die hiernamaals geen jota oorbly nie; alle dorre, wêreldse geleerdes verskyn dan ook in die hiernamaals as dowes, blindes en stommes; hulle weet heeltemal niks en kan hulle aan niks herinner nie. Dikwels kom hulle sonder enige begrip daar aan, soos wat `n kind op hierdie wêreld uit die moederliggaam kom. Hulle moet daar alles vanaf die eerste beginsels opnuut begin leer en ondervind, omdat hulle anders tot in ewigheid doof, blind en stom sou gebly het en alleen maar `n vae gevoel van bestaan sou hê, sonder om egter te voel dat hulle dit is wat reeds op aarde bestaan het. Dit moet vir hulle allereers geleidelik op praktiese wyse bygebring word.

[17] As dit by die mens in sy hart donker is, is die hele mens dadelik donker; as dit daar egter lig en helder is, is die hele mens lig, en dit kan by hom nooit weer donker word nie! Neem wat julle hoor daarom dadelik in julle hart op, dan sal dit ook weldra lig in julle word!

[18] As julle dit alles verstaan en in julle hart opgeneem het, laat ons onsself dan nou op iets anders voorberei! Wat nou weldra sal kom, sal julle baie stof tot nadenke gee; maar julle sal baie daarvan leer en ter gelegener tyd ook baie goed gebruik daarvan kan maak."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205