|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 103
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Die ontwikkeling van die materie
103 (Die Heer:) "Toe Ek in die aanvanklike begin die geeste as My rypgeworde idees uit My na buite gebring en hulle sodanig met My krag vervul het dat hulle self begin het om te dink en te wil, moes aan hulle ook voorskrifte gegee word waarvolgens hulle moes dink, wil en ten slotte handel. Tesame met hierdie meegedeelde en gegewe reëls, moes egter ook die prikkel om hulle nie aan hierdie reëls te hou nie, in hierdie eerste wesens geplaas word, omdat hulle andersins nooit in staat sou gewees het om op een of ander wyse hulle wil te gebruik nie. Die prikkel wat in hulle geplaas was, het eers `n egte lewensgevoel in hulle veroorsaak wat tot gevolg gehad het dat hulle begin het om besluite te neem, te kies, vasbeslote te wil en te handel.
[2] As mens dít besef, is dit uiteindelik werklik maklik om te verstaan dat reeds by die eersgeskape geeste `n bepaalde soort onkruid sigbaar moes word, omdat die prikkel redelik baie van die eerste geeste van die reëls laat afwyk het en hulle, omdat hulle hul steeds kragtiger teen die reëls verset het, ten slotte moes verhard en op dié manier die fondament voorsien het vir die skepping van die materiële wêrelde.
[3] Eers is daar hoofsentraalsonne geskape en daaruit ontstaan vervolgens alle tallose ander sonne en hemelliggame, met daarby al die ander wat julle daarop, daarbo en daarin ontdek en vind.
[4] Alles wat nou materie is en genoem word, was eens iets geesteliks, wat vrywillig God se goeie orde verlaat het, en op grond van die verkeerde impulse leef en daarin verhard, wat dan die materie vorm en waaruit dit bestaan. Die materie self is daarom niks anders as iets geesteliks met `n spesifieke gerigtheid en wat uit sigself verhard het; nog duideliker gesê, is dit `n uiters growwe en swaar huid of omhulsel van die geestelike.
[5] Die geestelike kan egter, as gevolg van die harde en growwe omhulsel, nooit self volkome materie word nie, maar leef voort en bestaan in die materie, van welke aard dit ook al is. As die materie uiters hard is, dan is die geestelike lewe daarin ook uiters aan bande gelê, en dit kan op sigself nie op die een of ander wyse verder manifesteer en ontplooi as daar van buite af geen hulp aan hom gegee word nie.
[6] In die harde gesteente kan die lewe eers dan manifesteer as die rots gedurende die verloop van lang tydperke deur reën, sneeu, dou, hael, blitse en nog ander elemente week, en steeds broser en broser word. Daardeur ontsnap dan ietwat van die lewe soos eter in die lug, en `n deel vorm `n nuwe en ligter omhulsel vir homself, eers in die vorm van tere skimmels, en vervolgens as mosplante; maar op die lange duur versamel dit die vryer lewe, op sigself omdat dit ontevrede is met hierdie omhulsel, en skep weldra `n nuwe omhulling, waarin dit vryer en selfstandiger kan beweeg.
[7] Solank die nuwe omhulsel teer en week is, voel die gevange geestelike lewe goed en verlang niks beter nie. Maar die aanvanklike heel tere omhulling word deur die inwendige aktiwiteit van die geeste, wat nou onophoudelik volhard om al die stoflike wat druk op hulle uitoefen, uit die weg te ruim, ook weer harder en growwer; daarom streef die geestelike lewe na bo, vorm daardeur die grashalm, en in die verdere verloop die boomstam, en probeer om homself teen die verharding, wat van onder af ontstaan en steeds groter word, te beskerm deur van steeds nouer getrokke ringe en inkepings te maak. Maar omdat van hierdie bedrywigheid ten slotte tog geen ontkoming aan die algehele verstarring te verwagte is nie, vernou hulle die onderste deel van die stam soveel as wat maar enigsins moontlik is, en vlug verder na klein takkies, vesels, blare, haartjies, en uiteindelik na die bloeisel; maar omdat ook dít alles al gou weer harder en harder word, en die geeste merendeels sien dat al hul moeite tevergeefs is, begin hulle hulleself weldra in `n sekere sin te in te hul en hul toevlug te soek in omhulseltjies, waar hulle baie stewig vir hulle `n beter passende, materie om hulle heen maak.
[8] Daardeur ontstaan dan allerlei sade en vrugte. Maar die mees selfsugtige deel van die lewe wat in `n plant vryer geword het, vind nie veel baat daarby nie; want dit wat ingehul is in `n stewige kiemomhulsel, moet ewe dikwels dieselfde weg gaan as die aantal kere wat die saad in die vogtige en met lewe versadigde aarde kom. Die ander, meer geduldige lewensdeel, wat dit hom laat welgeval om in die onderste materie as skildwag en as draer van die ywerigste, vreesagtigste en ongeduldigste lewe agter te bly, vergaan vinnig en gaan baie gou in `n hoër en vryer lewensfeer oor, omhul homself weliswaar nog steeds, maar gewoonlik met `n diervorm wat reeds by hom pas; en van dit wat as vrug deur diere, en selfs mense verteer word, word die growwer gedeelte gebruik vir die vorming en voeding van die liggaam, die edeler deel word `n senuversterkende, en lewenswekkende gees en die edelste deel word substansie van die siel."
|
|
|
|
|