Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 137

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die rabbi hou nie sy woord nie.

137 (Mathaël:) "Maar alle aanwesiges was verbaas en bly oor die onbegryplike, hartverheffende blydskap van die kinders van die ou Lasarus. Behalwe ek en die drie kinders van Lasarus, het niemand iets gesien nie, maar tog was alle aanwesiges diep onder die indruk daarvan. Sommiges meen dat die drie `n gesig gesien het wat hulle troos. `n Paar Fariseërs wat ook daar aanwesig was, meen dat die kinders deur die groot verdriet buite hulle sinne geraak het; die klein rabbi dink egter dat my vader hulle op `n bepaalde, heel geheime wyse betower het.

[2] Maar toe gee ek die klein mannetjie die wind van voor en sê luid: ‘Mens, het jy dan heeltemal vergeet welke belofte en welke ooreenkoms jy van man tot man met my eerlike vader gemaak het?! Hoe kan jy nou dan so teen God se buitengewone barmhartigheid in oordeel?! Pas op dat JaHWeH jou nie duidelik tereg straf nie, want jy is nie `n mens nie, maar `n ellendige dier!’

[3] Wel, hierdie woorde van my het so `n indruk op die klein rabbyn gemaak, dat hy net so Hippokraties bleek word soos die lyk op die bed en oor sy hele liggaam begin te bewe.

[4] My vader merk dit, gaan na hom toe en vra hom wat hom nou tog oorgekom het dat hy so lykbleek daar uitsien. Die klein man vertel hom met bewende stem watter erge dinge ek alles aan hom gesê het.

[5] Maar my vader sê aan hom: ‘Dit het jy gewis verdien! Waarom bly jy dan nie in die geloof wat jy my so plegtig beloof het nie? Met God en sy geeste kan jy beslis geen grappies maak nie! Verstaan jy dit? Òf jy glo, ook al is dit op gesag van hulle wat die volste ervaring besit - òf jy bly soos wat jy was!

[6] Wat jy is, wees dit heeltemal, hetsy `n engel of `n duiwel! Die slegste van die slegste is egter om `n dubbele wese te wil wees, `n engel en `n duiwel in één en dieselfde persoon! Die twee Fariseërs wat nou-net aangekom het, het jou deur hul koms die kop warm en jou hart brandend gemaak, nie waar nie?! Jy het banggeword en begin, soos `n vroeëre aanhanger van die sekte van die Sadduseërs, na hul pype te dans, soos wat die Grieke tans hul bere vir ons na hul pype laat dans; daardeur kon jy vergeet ten opsigte van wie jy in `n sekere sin jou eed verbreek het! Wat wil jy nou doen, beklaenswaardige?’

[7] Die rabbi bedek egter sy gesig en gaan weg en het hom waarskynlik in Jerusalem in sy woning teruggetrek om oor al sy doodsondes na te dink. Wat daar verder met hom gebeur het, weet ek tot op hede nie; net dié een ding weet ek, dat sowel my vader asook ek hom daarna nog etlike male in Jerusalem ontmoet het, waarby hy ons egter al op `n afstand skielik ontwyk. Waarom dit was, uit toorn of uit `n soort angs, weet ek ook nie. Hy het ook nooit weer na die huis van Lasarus gekom nie, hoewel hy sy toorflessies daar vergeet het, wat ons maklik te wete gekom het omdat die jong Lasarus en sy susters ons later nog heel dikwels besoek het.

[8] Wel, Heer, dit is die gebeurtenis wat ek met my vader in Bethanië so waar en waaragtig beleef het soos wat ek nou vertel het. Destyds was alles vir my natuurlik `n onoplosbare raaisel. Nou is baie daarvan verstaanbaar vir my, slegs twee verskynsels is vir my nou nog `n raaisel, en ondanks alle verklarings wat U nou al gegee het, begryp ek dit nie. En dié twee verskynsels is: Ten eerste die ligmeteoor wat aan die natuurlike hemel om middernag opgeduik het en die geeste wat dit na die weste begelei het en ten tweede die ooreenkomstige, suiwer geestelike lig bo die kop van die reeds heeltemal vry siel, wat bo sy dooie liggaam gesweef het.

[9] Ook het ek by hierdie siel vooraf geen duidelike werklike newelwolk gesien nie, maar meer dadelik `n baie goed gevormde menslike gestalte, wat slegs met `n uiters ligte violetdraad met die liggaam verbind was, wat baie gou heeltemal afgebreek het, waarop die siel dadelik volledig vry in `n glansende wit, geplooide gewaad van die fynste sydraad in die midde van `n paar wyse en magtige geeste gestaan het soos wat ek nou net vertel het.

[10] Ek en sekerlik ook alle andere sou graag uit U mond wou verneem hoe hierdie dinge en verskynsels nou met mekaar saamhang! O Heer, verduidelik dit aan ons!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205