Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 100

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die leer van Moses en die leer van die Heer

100 (Die Heer) "O, dit is by verre nog nie voldoende om maar net te weet en te glo wat volgens die orde van God en alle hemele goed, reg en waar is nie, maar `n mens moet met alle liefde en vreugde van harte daarvolgens handel, dan eers kom die ryk van God en Sy Geregtigheid waarlik onder julle mense in en maak julle eers só tot ware kinders van God!

[2] Watter nut sou alle insig en kennis vir iemand hê as hy dit nie gebruik nie, maar vashou aan die wêreldse gebruike waaraan hy van ouds gewoond was?! Is hy dan nie net so dwaas soos die man wat `n paleis heeltemal verniet gekry het om daarin, met sy eie familie in volkome rus en met alle gerief, te woon nie?! Hierdie mens sou wel baie bly wees oor die heerlike en gerieflike fasiliteite van die paleis, maar omdat hy van jongs af daaraan gewoond was aan die uiters ongerieflike verblyf in sy ou, klein, vuil hut, bly hy, ondanks die insig dat die heerlike en buitengewoon ruim paleis goed en baie doelmatig is, nogtans steeds met sy familie in die klam, ongesonde en uiters ongerieflike hut, maar kla daarby onophoudelik oor die groot gebreke van sy eng behuising!

[3] Ja, as so `n mens nie `n dwaas is nie, dan bestaan daar geen dwase op hierdie wêreld nie! Maar nog `n baie groter dwaas is hy wat My leer het en weet dat dit ewig waar is, maar daarby in al sy doen en late nogtans soos `n os die juk bly dra!

[4] Ek sê vir julle almal: Uiters sag is My juk op julle dienende skouers en buitengewoon lig die las wat julle moet dra. Wie hierdie las sal dra, sal min moeite hê. Wie dit egter nie wil dra nie, sal dit slegs aan homself te wyte hê as dit sleg, bitter en jammerlik met hom sal gaan. Bewys egte liefde wedersyds aan mekaar, dan sal julle op sagte en meer as sagte kussings rus! As julle egter eerder klippe onder julle koppe wil hê, dan kan julle dit ook kry; maar laat niemand dan op die oggend van die lewe kla dat sy kop deur die klippe seergemaak is en pyn nie!

[5] As jy `n troue en `n ontroue dienaar het, is jy dan nie `n enorme esel as jy die troue dienaar wegjaag omdat hy baie korter in jou huis is as die egte ou skurk wat jou altyd by elke geleentheid uit en uit bedrieg het nie?! Daarom moet julle heeltemal ophou met al daardie ou diensbetoning, want dit pas nie by die suiwere, hemelse leer nie, en hierdie leer is nie maar net `n nuwe lap vir die verstelling van `n ou, totaal verskeurde gewaad nie, maar dit is op sigself `n heeltemal nuwe, voltooide gewaad, wat heeltemal in die plek moet kom van die ou, slegte gewaad!

[6] Maar met die ou gewaad bedoel Ek sekerlik nie Moses en die profete nie - want dit is suiwer hemelse goud - maar met die ou verskeurde gewaad bedoel ek julle reëls wat deur mense opgestel is. Daarmee en met die voorskrifte van die tempel kan mens niks meer doen nie; want as `n mens `n splinternuwe lap op `n groot gapende skeur sou vaswerk, dan sou `n mens dit tog nie kon vaswerk nie, omdat die materiaal van die ou gewaad te erg verweer het en as gevolg daarvan geen steek meer daaraan vasgeheg sou kon word nie.

[7] Moses het weliswaar destyds `n wet aan die Israelitiese volk gegee vir die algehele huishouding en vir alle behoeftes en node van die mensdom; maar die mense het dit al heeltemal vervorm, en omdat dit vervorm geword het, sou dit nie meer by My leer pas nie. Want as `n mens ploeg, kan `n mens nie oes nie; as die gesaaide koringkorrels egter ryp geword het, dan neem `n mens maaiers in diens en dan het die maaiers nie nut van `n ploeg nie. Moses het geploeg, die profete het gesaai en nou het die maai- en oestyd gekom, waarin `n mens vir Moses met die ploeg in die hand nie meer kan gebruik nie. Daarom sal ons nou oes en alles in ons skure inbring wat ryp is; maar ná die oes sal aan julle die ploeg van Moses weer in die hand gegee word om die grond opnuut los te maak en om opnuut die suiwerste, hemelse koring daarin te saai, en daar sal wagters ontbied en aangestel word wat goed sal oplet dat daar geen vyand kom en onkruid tussen die suiwer koring sal saai nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205