|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 173
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Gabi se beginsels as Fariseër
173 Ek sê: "Vir jouself was dit baie goed dat jy jou hart eens uitgestort het; ondanks dit moet jy nog één ding vertel en goed uitlê - weer nie vir My nie, maar net om jou eie ontwil! Vertel eers, toe jy jou in en vir die tempel laat inwy het, het jy jou dadelik begin toelê op bedrog en al jou sinne maar net daarop gerig om so `n regte oneerlike en geslote Fariseër in alle verraderlikheid te word, het jy toe aan geen enkele god geglo nie? Het niemand jou dan vertel dat `n Fariseër eintlik maar net priester en dienaar van God is nie, soos eens Aäron, en nooit `n self- en heerssugtige mensebedrieër nie? Hoe kon jy so `n oerslegte aandrang ooit in jou hart laat opkom het?
[2] Is dan die hulp aan mense waar dit maar moontlik is, nie reeds op sigself al `n heerlike lewensbeginsel nie, wat selfs die ou heidense wyses altyd in groot eer gehou het en in ag geneem het?! Sê Socrates nie reeds: ‘Mens, as jy as sterfling die gode waardig wil eer, dien dan jou broers; want hulle is net soos jy die kosbaarste werk van die gode! As jy die mense liefhet, bring jy `n offer aan alle gode wat goed is en die slegtes sal jou daarvoor nie kan straf nie!’ Die Romeine sê: ‘Leef eerbaar, doen niemand kwaad aan nie en gee elkeen wat syne is!’ Kyk, so oordeel die Romeine, wat heidene is; hoe kon jy dan as Judeër so `n helse ingesteldheid kry?
[3] Kon jy jou dan nie ook maar enigsins indink dat daar tog `n God moet wees wat niks anders as maar net die goeie kan wil nie en wat die mense nie net maar vir die kort tydjie van hierdie aardse lewe nie, maar vir die ewigheid geskape het?! Kyk, daarvan moet jy My nou nog baie presies rekenskap gee en jy moet volledig daarmee vorendag kom! Vertel dit dus!"
[4] Gabi sê: "God, Majesteit en Heer van ewigheid, as ek ooit geleentheid sou gehad het om ook maar `n honderdste deel te hoor van dít wat ek hier in hierdie uiters merkwaardige drie dae gehoor het, dan sou ek beslis nie sulke miserabele aspirasies gehad het nie; maar - exempla trahunt , (voorbeelde trek mens) soos wat die Romeine ook sê - ek het immers voorbeelde en modelle wat slegter as sleg was gehad! En dié slegte voorbeelde en modelle was goed verteenwoordig en hoe meer hulle die kuns verstaan het om die volk so veel moontlik te bedrieg, des te beter het dit met hulle gegaan.
[5] Want hulle sê: Nie God nie, want dit was maar net `n ou versinsel van die mense, maar die natuur het die met redelik helder verstand begaafde mens reeds vanaf die wieg `n vingerwysing gegee om, as hy werklik goed wou lewe, veral die domheid van die mense tot sy voordeel te gebruik; wie dit nie kon doen nie, bly sy lewe lank `n dwaas en moes ook as niks anders as `n met weinig verstand begaafde menslike lasdier bly lewe en hom voed met dorings en distels en op stoppels lê!
[6] As leraar van die volk moes mens slegs daarvoor sorg dat die gewone menslike lasdiere altyd in die diepste bygeloof gehou word! Solank dít nagestreef word, sou die eintlik intelligente mense goed kon lewe; as mens hulle egter die waarheid sou laat sien en hulle sou voorlig, sou die eintlike intelligente mense self die byl, die ploeg en die sekel ter hand moes neem en in die sweet van hul aanskyn die harde brood wat met moeite verwerf is, moes nuttig.
[7] Die ware mens moet trag om dit so ver te bring dat hy deur die menslike lasdiere minstens as `n halfgod beskou word . As hy dit sover gebring het, moet hy sy lig soos `n Egiptiese graf verberg en hom omgewe met allerlei valse skyn en verdowende newel; die menslike lasdiere sou hom dan al gou letterlik begin aanbid en dit des te meer as hy hulle van tyd tot tyd skynbaar iets nuttigs ten deel laat val. Kortom, hy moet die menslike lasdiere baie oortuigend, maar altyd nog onwaar, kan bewys dat hulle onskatbare voordeel daarvan sou hê as hulle deur die vermeende halfgod blou- en soms selfs doodgeslaan word!
[8] Mens moet hulle harde wette gee en as sanksie daarop bedreig met die skerpste tydelike, en grimmigste ewige strawwe, en die troue uitvoerder van die wette slegs klein aardse voordele belowe, maar des te groter ewig na die dood en dan sou mens `n egte mens wees ten opsigte van al die ontelbare menslike lasdiere! As hulle opvolgers in staat was om die gepeupel in die nag van duistere bygeloof te hou, sou duisende jare hulle nie tot begrip bring nie, maar as hulle nie daartoe in staat was nie, sou hulle as bedrieërs van die mensdom binne die kortste tyd baie ellendig die hasepad moes kies!
[9] Moses en Aäron sou van dié ware mense gewees het wat deur hulle intelligensie en hul groot kennis die swakhede van die Israelitiese volk baie gou ontdek het, hulle as leiers en verlossers van die volk voorgehou het en hulle deur `n goed uitgedinkte, maar geweldige bedrog dermate dom gehou het dat die volk nou nog net so dom was as toe hulle duisend jaar gelede aan die voet van Sinai vertoef het en in menige opsig nog verskeie duisende jare so sou bly. In der waarheid was dit eintlik `n weldaad aan die volk, want die mens is van meet af aan `n lui dier en moet daarom met `n ystersepter regeer en met roede geslaan word sodat hy die goeie doen!
[10] Heer, wat ek hier vertel het, is geen ydele fantasie van my verbeeldingskrag nie, maar die volle waarheid! Elke egte Fariseër dink by homself so oor die Goddelike openbaring, wat altyd des te belangriker is namate dit onbegrypliker is. Salomo se Hooglied pas presies hier in en ook die profete en Moses bevat baie bruikbaars! En dit was dan ook nog te meer rede dat ek my so baie spesifiek op Hooglied toegelê het.
[11] Ek het nou weer klaar gepraat en glo om voldoende bewys te hê dat my vroeëre oortuigings onmoontlik anders kon wees; want soos wat die onderrig is, so is die mens, en so ook sy wil en sy dade! Dat ek nou met die diepste veragting terug kan kyk op daardie egte helse onderrig, spreek wel vanself! Ek verwag nou egter ook van U, o Heer, dat U as gevolg van U liefde en wysheid my gedagtes en dade wat ek hier getrou en waaragtig vertel het, barmhartiglik sal oorsien en sal vergewe!"
[12] Ek sê: "Hoe sou Ek jou dit kon onthou, jy het immers self al hierdie helse werk vir ewig uit jou uitgeban? En juis om dié rede laat Ek jou dit alles hardop voor ons almal uitspreek, sodat jou hart volkome vry word en jy jou nou algeheel vanuit jou diepste lewensgrond kan oorgee aan die volle waarheid! Maar terselfdertyd het Ek daarmee ook beoog dat alle aanwesiges wat hier is uit die mond van `n waaragtige getuie hoor hoe dit deurgaans in hierdie tyd staan met die Fariseërskap en dat dit daarom noodsaaklik was dat Ek Self persoonlik na hierdie wêreld moes kom om die hele mensdom nie te gronde te laat gaan nie. Maar nou moet julle beide dit ook weer heeltemal eens word en Simon moet nou wat hy in sy hart oor My dink aan ons almal vertel!"
|
|
|
|
|