|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 59
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Zorel se materialistiese geloof
59 Zinka lê sy hande nou op teenoorgestelde wyse op Zorel, wat gou-gou sy oë oopmaak en ontwaak. Toe Zorel heeltemal wakker is, wink Ek die ou gasheer Markus om hom die wyn wat met water gemeng is te gee, omdat hy baie dors was. Markus doen dit dadelik en die baie dorstige Zorel ledig `n behoorlike groot beker in één teug en vra vir nog `n vol beker, omdat hy nog meer dors is. Markus vra My of hy dit wel mag doen. En Ek gee toestemming, met die opmerking om die tweede keer meer water as wyn te gee. En Markus doen dit en dit doen Zorel goed. Noudat hy homself egter so versterk het, kyk hy om hom heen en neem die omgewing om hom in, wat hy nog duidelik kon waarneem hoewel die son al byna ondergegaan het.
[2] Na `n rukkie sê hy, terwyl hy sy oë strak op My gerig hou: "Zinka, die Man daar kom my baie bekend voor! Ek moes Hom al êrens gesien het! Wie is Hy tog, en hoe heet Hy? Hoe langer ek na Hom kyk, des te meer raak ek daarvan oortuig dat ek Hom al êrens gesien het! Zinka, ek het nou baie simpatie vir jou - vertel my daarom wie die Man is!”
[3] Zinka sê: "Die Man is `n timmermanseun uit Násaret, wat bokant Kapernaum lê - maar nie uit die gehuggie met dieselfde naam wat agter die gebergte lê en grotendeels deur die smerige Grieke bewoon word nie. Hy beoefen die amp van Verlosser en Hy is buitengewoon bekwaam in Sy kennis, want wie Hy help, is genees. Sy Naam kom ooreen met Sy karakter, daarom heet Hy 'Jesus', wat beteken Verlosser van sowel siele as siek ledemate. Nog groter is die krag van Sy wil en hande, en bowendien is Hy so goed en so wys soos `n engel. Nou weet jy alles waaroor jy gevra het. As jy dalk nog vrae het, doen dit dan - anders kan die hoë menere wel eers iets gaan doen, en dan sou daar vir ons min tyd oorbly om nog baie met mekaar te praat!"
[4] Toe sê Zorel effens hard vir Zinka: "Ek dank jou vir wat jy my vertel het, hoewel ek nou nog nie weet waar ek so baie presies aan toe is nie. Dit wil my maar nie te binne skiet waarom die Man my tog so bekend voorkom nie! Dit lyk wel asof ek iewers eendag `n groot reis met Hom meegemaak het! Ek het baie gereis, oor water en oor land, en het medereisigers gehad, maar ek kan my op geen enkele manier herinner om ooit so `n Man te siene en te prate te gekry het nie. Tog kom dit my, soos wat ek alreeds gesê het, heel bepaald voor asof ek op `n reis baie met Hom te doene gehad het! - Lê my eers uit hoe dit moontlik is!"
[5] Zinka sê: "Op die mees gewone manier in die wêreld! Jy het `n baie lewendige droom gehad, wat jy nou nog ietwat vaag onthou en dit sal bepaald die rede wees van jou huidige gevoelens!"
[6] Zorel sê: "Jy kan gelyk hê! Ek kry dikwels drome, waaraan ek my eers na `n aantal dae herinner wanneer ek deur `n ooreenkomstige voorwerp in die buitewêreld in `n sekere sin daaraan herinner word; anders gaan alles verlore en dan herinner ek my nie aan `n enkele droom nie, ook al sou ek hóé lewendig gedroom het! Maar dit sal wel so wees, want in werklikheid het ek die Nasarener waarskynlik nog nooit gesien nie.
[7] Maar nou nog iets, beste vriend! Kyk, ek het hierheen gekom om van die verhewe stadhouer die bepaalde aalmoes te kry. Wat dink jy, sal hy daarvoor oop wees? As daar niks te verwagte is nie, dan kan jy in elk geval jou bes by hom probeer dat ek weer huis toe mag gaan. Want wat moet ek verder hier doen? Ek gee niks om vir al die teosofiese en ook filosofiese, wyse ophef nie. My teosofie en filosofie bestaan in kort hieruit: ‘Ek glo aan dit wat ek sien, dus aan die natuur, wat hom die eeue deur altyd weer vernuwe. Verder glo ek ook dat eet en drink die twee allernoodsaaklikste voorwaardes is om te lewe; maar aan meer as dit glo ek nie so maklik nie.’
[8] Daar is wel genoeg wat vreemd is in die wêreld, soos wat alle soorte magie en ander kunste en wetenskappe is. Maar tussen dié dinge en my bestaan dieselfde verhouding as tussen vuur en my: ‘Solank dit my nie brand nie, blaas ek nie!’ Ek voel geen behoefte om meer te weet en te verstaan as wat ek nou weet en verstaan nie. Dit sou dus baie dom van my wees om nog langer te wil bly om uiteindelik die een of ander moeilik verstaanbare wysheidsleer op te vang, waarmee ek dit dan êrens teenoor dom mense sou kon opskep.
[9] In my sien jy `n natuurmens, wat `n hekel het aan al die sogenaamde wyse, menslike instellings en wette, omdat dit sy aangebore vryheid dikwels op `n harde wyse beperk en dit maar net sodat daar enkeles baie ryk en magtig kan word en `n hoë aansien kan kry, terwyl daarvoor natuurlik miljoene dikwels in die diepste ellende moet versmag. As ek nog meer daarvan verstaan het as nou, sou ek nog dieper tot op die bodem van sulke ongeregtighede kon sien, maar dit sou my sekerlik nie gelukkiger maak nie. Maar soos wat dit nou is, word ek in my domheid waarskynlik baie ellende bespaar, omdat ek geen grondige insig in die oorsaak van al die menslike gemeenhede het nie.
[10] Waar die slegte, sogenaamde wyse mense self nie genoeg wette kan bedink om die mensdom onder druk te plaas nie, stel hulle denkende en baie spitsvondige leiers aan wat rondgaan met gesigte wat in ekstase vertrek is, wat met baie self versinde godewette te voorskyn kom om daarmee die arme en swak mensdom opnuut te pla. Daarby bedreig hulle die mense op die belaglikste manier met verskriklike, ewige strawwe en beloof hulle hoë belonings, natuurlik eers na die liggaamlike dood, waar jy goed kan beloon omdat die dooies niks meer nodig het nie.
[11] Maar wat die strawwe aangaan, dít stel die mense nie uit tot na die dood nie. Daarmee loop hulle vooruit op die dade van hulle bedinkte, leë gode en hulle straf die misdadigers teen die goddelike wette liewer dadelik maar hier, sodat niemand in die hiernamaals, vir wat betref die straf waarmee gedreig was, te kort sou kom nie. Slegs op die beloning laat hulle die vromes wag tot na die dood. In hierdie liewe lewe kry jy vooraf nooit iets vir niks nie, behalwe wanneer jy jou vir `n belangrike persoon letterlik dood sou laat slaan het! Alles wat in die menslike samelewing `n rol speel, is so sporadies op die werklike belang van die mens gerig, dat elke nugtere denker dadelik al kan sien waarop dit gebaseer is: ‘Die element van die goddelike wet en die menslike samelewing!’
[12] Vriend! Sodra daar iemand is wat so `n bietjie volkome vry wil lewe en alle heerlikhede van die aarde wil besit, dan moet die orige mensdom, wat willoos en kragteloos is, natuurlik huil en ook die aardbodem waarop hulle staan! Natuurlik sou vir die onderdrukkers van die mensdom, meestal hartelose tiranne, in die hiernamaals `n paslike vergelding wel goed wees, maar wie sal dit kan uitvoer?! Kortom, dit lyk na niks nie! `n Suiwer, nuttelose poppespel!
[13] Wie die ander, die naaste, aan hom diensbaar kan maak, doen reg en goed, want `n dom mens is nie meer werd as `n dom hond nie! Laat die sterker en slimmer hom maar doodslaan, sy goedere in besit neem en dit dan op elke moontlike manier om lewe en dood probeer beskerm teen aanvalle van buite af! As hy slaag, word hy weldra `n groot en vry meester; kan hy dit nie, dan geskied aan hom ook reg, omdat hy met iets begin het waarvan hy, as wyse man, lank genoeg vooruit moes gesien het dat dit hy nie sou slaag nie. Kortom, vir die dommes is daar niks beter as vernietiging nie. As hulle nie meer daar is nie, het vir hulle alle wette, alle vervolginge en alle onmenslike strawwe vir ewig opgehou! Liewer nie bestaan nie, as ellendig bestaan; tienduisend jaar van groot geluksaligheid weeg nie op teen één uur ware ellende nie!
[14] Kyk, beste vriend Zinka, dit is so effens my eenvoudige geloofsbelydenis, waarteen op hierdie wêreld moeilik iets in te bring is. Dit is `n waarheid wat die mense nou nêrens wil hoor nie. Almal weeg hulle bestaan af in louter leuenagtige fantasieë en bevind hulle baie gelukkig daarin! Gaan so voort! Laat elkeen maar in die ryk van die leuen wroeg en in die mees fantastiese fantasieë troos soek as die ellende hom met ystere hiel die nek begin te vermorsel!
[15] Ellendiges, verdoof julle met die opium van die leuen en slaap solank julle leef onder die soete druk van die waansin, dan geskied aan iedereen reg soos wat dit hom gelukkig maak. Net aan my geskied onreg, omdat ek my onder die adelaarsvleuels van die waarheid buitengewoon ongelukkig moet voel wanneer ek vanuit die helder hoogtes steeds dieselfde dodelike val moet sien, voel en self bereken, wat wag op my en die andere wat soos ek lyk! Wie sal my val breek as die losse band breek waarmee my dwaasheid my met die magtige vleuels van die adelaar verbind het?!
[16] Mense, laat my tog in alle rus my prooi verteer, ek doen julle tog niks nie. Gee my van julle oorvloed slegs so veel dat ek my dit weer kan aanskaf wat die bose toeval my ontneem het, dan sal julle aan my geen ondankbare bedelaar hê nie! As julle my egter soos gebruiklik glad niks wil gee nie, laat my dan ten minste ongehinderd huis toe gaan, sodat ek as `n arme sater, (bosgees) natuurlik via onwettige weë, soveel hout kan versamel dat ek my `n baie gebrekkige hut kan bou, wat in elk geval nie slegter sal wees as die van `n bewer nie! Julle sal my óf die een óf die ander hopelik toestaan. Om my egter nog ellendiger te maak as wat ek alreeds is, sal julle tog gewis nie doen nie! Maar as julle so iets met my beplan het, maak my dan liewer dadelik dood! Want ellendiger as wat ek nou al is, wil ek sekerlik nie word en wees nie! Want maak julle my nie dood nie, dan weet ek wat my te doen staan! Ek sal weet hoe om myself te dood!"
[17] Toe sê Zinka uiteindelik: "Daarvan is geen sprake nie! Ook sal jy, met jou besondere goeie kennis en ervaring, nie genoodsaak word om so `n kranksinnige daad uit te voer nie, want terwyl jy geslaap het, het Cyrenius al gesê dat hy die beste met jou voor hande het - maar eers wanneer jy sal insien dat juis dit wat jy nou as waarheid sien, die grootste onwaarheid is! Wees dus onbesorg en aanvaar `n beter leer, en dan sal jy eers waaragtig en geheel en al gelukkig word!"
|
|
|
|
|