Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 36

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Sielsiekes en hulle behandeling

36 (Die Heer:) "Veroordeel daarom nie die mense nie, sodat jy uiteindelik nie `n oordeel oor jouself uitroep nie!

[2] Sou dit nie `n onmenslike dwaasheid wees om `n liggaamlike siek mens te veroordeel en `n gewetenlose straf oor hom uit te spreek omdat hy siek en ellendig geword het nie? Maar die dwaasheid is nog baie groter en nog baie onmensliker as julle `n sielsiek mens veroordeel en verdoem omdat sy siel om die genoemde redes swak en siek geword het!

[3] Volgens julle wette en bepalinge noem julle sulke mense misdadigers en julle onderwerp hulle aan onverbiddelike, harde straf. Maar wat doen julle op dié manier? Julle straf `n siel omdat sy eintlik buite haar eie skuld siek geword het! Vra jouself dan af wat se `n indruk julle regspraak op God moet maak.

[4] Vra jouself eers af, My mensvriendelike Cyrenius, wat jy sonder My, as Romeinse opperregter en as maghebber oor lewe en dood, met die vyf vernaamste misdadigers sou gedoen het? Wel, jy sou jou laat vertel het dat hulle gewetenloos en verdorwe gehandel het en vervolgens al vyf aan die kruisdood oorgegee het! Sou dit ooit by jou opgekom het dat agter hierdie vyf sulke geeste kon woon? O nee! Dit sou nooit by jou opgekom het nie!

[5] Jy sou hulle ten seerste beskuldig het oor hulle misdade, baie koelbloedig ter dood veroordeel het en daarby sou jy nog die gerusstellende mening toegedaan gewees het dat jy God en die mensdom `n goeie diens bewys het! Maar wat `n skade sou jy die mensdom aangedoen het deur sulke geeste van die aarde af te verdelg wat nou, volkome genees - na siel en liggaam - soos voorjaarsonne die mense van die aarde beskyn en talle duisendmaal duisend menseharte tot die goeie en ware sal verwarm en tot lewe sal wek! Van nou af aan sal jy natuurlik wel anders handel, maar voorheen sou jy onverbiddelik gewees het!

[6] En weet jy, so staan dit met alle wêreldse regspraak op die liewe aarde! Vir die liggaamlike siektes en gebreke is daar dokters te vinde wat allerlei medisynes berei. Slegs vir die siektes van die arme siele is daar geen ander dokters en geneesmiddels as net `n baie swaar boek vol wette wat dikwels baie moeilik onderhou kan word - en agter die wette is die regsprekende swaard!

[7] Sou dit dan nie mooier, verstandiger en mensliker gewees het om meer dokters en medisynes vir siek geworde siele beskikbaar te stel as vir hulle liggame, wat in `n kort tydjie voedsel vir die wurms sal word nie?!

[8] Dat `n ver gevorderde sielsiekte moeiliker te genees is as menige liggaamlike siekte, weet Ek wel die beste. Maar daar is nie één wat heeltemal ongeneeslik is nie, terwyl daar tog vir elke liggaam ten slotte `n laaste siekte is waarteen op die hele aarde geen kruie opgewasse sal wees nie! En tog doen julle mense soveel verkeerde dinge!

[9] Vir die brose, algeheel sterflike liggaam stig julle die een herstellingsoord na die ander, vestig julle apteke en baddens, bedink julle salwe en pleisters en heilsame dranke, maar vir die onsterflike siel het julle nog nie één herstellingsoord gestig nie!

[10] In julle hart sê julle nou natuurlik wel: 'Hoe sou dít sonder U, o Heer, moontlik gewees het! Waar sou ons dit vandaan moes gekry het en van wie sou ons dit kon geleer het?' Dit is ongetwyfeld waar. Hierdie kennis vereis natuurlik wel `n dieper ondersoek van die totale menslike natuur as dat `n mens maar net uit jarelange ervaring weet watter kruieaftreksel die klagtes van `n oorlaaide maag die vinnigste stopsit. Maar die onsterflike mensesiel is dit ook werd dat `n mens hom `n bietjie meer daaroor moet bekommer oor haar veelsydige geaardheid as die toestand van `n maag wat uit vraatsug oorlaai is!

[11] Daar was wel ten alle tye ook egte, met God se Gees vervulde, siele-artse in hierdie wêreld ingestuur, wat die regte weg vir die genesing van siele verkondig het. Baie het hulle daarheen gerig en is ook sonder uitsondering genees. Maar die sogenaamde grotes en magtiges van die aarde meen dat hulle sonder meer `n gesonde siel het en kyk neer op die siele-artse wat deur My na die aarde gestuur is en het hulle uiteindelik vervolg. Hulle is verbied om hulle genesingswerk vir siek siele uit te voer en so was die aardse maghebbers steeds die oorsaak daarvan dat die barmhartigheidsleer vir die genesing van siek siele nooit sodanig wortel kon skiet by die mens, dat dit kon uitgroei tot `n kragtige boom van genesing nie.

[12] En ook as daar êrens `n baie gesonde en kragtige saad gelê is, het die selfsugtige en heerssugtige mensekinders van hierdie aarde geweet om die boom solank te snoei, die oorbodig lykende takke en lootjies van hom af te sny en aan sy onontbeerlike bas te skaaf totdat die hele boom uiteindelik moes verdor. Sodoende is daar dan ook vir die genesing van siek siele tot dusver geen ander genesingsinstituut opgerig en geskik gemaak behalwe die strengste wette, gevangenskappe, ondersoekgevangenisse, verskriklike strafkerkers, die skerp, onbarmhartige swaard en allerlei kwel- en martelinstrumente om mee tereg te stel en dood te maak. Dit is egter ook produkte van louter siek, maar sterk siele. Hulle moet éérste gehelp word, as die genesing van die klein, swakke en mindere siele ook nog maar enige gunstige resultaat op hierdie aarde sal hê."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205