Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Zinka en die voedselwonder

20 Toe staan Zinka, wat `n baie groot man was, op en kyk rondom hom heen na al die tafels, wat natuurlik sonder uitsondering vol gestaan het van skottels, gevul met heerlike toebereide visse, ronde brode en ontelbare bekers en kruike gevul met uitmuntende wyn. Hy ontdek ook dat alle gaste reeds flink wegval, sonder dat die kos merkbaar op al die tafels verminder. Kortom, ons Zinka word, hoe langer hy kyk, steeds meer uit die veld geslaan, sodat dit hom ten slotte al behoorlik begin te duisel. Slegs `n behoorlike honger en die heerlike geur van die kos noop hom om te gaan sit en ook te begin eet.

[2] Ebahl lê vir hom die beste en grootste vis voor en beskryf dit as een van die edelste soorte uit die meer van Tiberias, want so heet die uitgestrekte bog van die Meer van Galilea tot in die vry verre omtrek van Césarea Philippi. Omdat die vis buitengewoon lekker smaak, smul Zinka steeds geesdriftiger. Daarby spaar hy die heuningsoet smakende brood nie en spreek hy ook die vol beker ywerig aan, wat egter nie baie leër daardeur word nie, en ook met die vis kom hy nie aan `n einde nie, ofskoon hy flink sy bes daarmee doen.

[3] Soos wat dit egter met hom gaan, so gaan dit ook met sy metgeselle. Hulle sou almal graag opgewek en vrolik en baie spraaksaam wou word, maar die steeds groeiende verwondering oor die merkwaardige verskynsels tydens hierdie feesmaal laat hulle geen tyd daarvoor nie, want vir hulle is dit verskynsels wat hulle nog nooit vroeër beleef het nie. Ook is hulle al behoorlik versadig, maar tog spoor die goeie, aangename smaak van die visse, die brood en die wyn hulle aan om nog meer te eet en te drink, en ook daarvoor verstaan hulle die rede nie.

[4] Ten slotte versoek Zinka dringend vir Cyrenius of hy nie wil vertel hoe dit alles nou te rym is nie.

[5] Maar Cyrenius sê: "As die maaltyd verby is, sal dit ook vroeg genoeg wees om oor talle sake te praat. Eet en drink nou egter na hartelus!"

[6] Zinka sê: "Vriend en edele meester en gebieder! Ek was my lewe lank geen vraat nie, maar as ek nog lank by u sal bly, sal ek sekerlik een word! Ek verstaan net nie waar al daardie ete en drinke heengaan nie! Ek is versadig en my dors is geles, en tog kan ek nou nog steeds maar voort eet en drink! En die wyn is beter en geesryker as wat ek ooit êrens te drinke gekry het. Maar ondanks dit word ek tog nie daarvan dronk nie!

[7] Ek bly nog steeds daarby dat dit hier nie natuurlik is nie! In hierdie groot geselskap moet `n towenaar homself bevind, wat sy onbegryplike wonderkrag hiermee demonstreer! Of bevind ons onsself dalk in die buurt van die groot Profeet wat ek met my negeen- twintig metgeselle gesoek het? As dít die geval sou wees, sou ek u, verhewe vriend en gebieder, heel onderdanig moet versoek om ons dertig weg te stuur na waar u ons ook maar wil hê, of u sal ons weer moet laat boei. Want as die Profeet somaar binne ons bereik sou kom, sal ons vanweë die voor Herodus aflegde dure eed, die hand aan Hom moet slaan. Daar sou ons weliswaar niks aan hê nie, maar tog sou ons dit ter wille van die eed tot ons eie ongeluk moet waag!"

[8] Cyrenius sê: "Wat - waarom dit? Waar en in watter wet staan dan geskryf dat `n slegte, gedwonge en verdoemende eed gehou moet word?! Jou eed is sonder meer al opgehef omdat jy my gevangene is, tesame met jou nege-en-twintig metgeselle! Van nou af aan is daar maar net sprake van die uitvoer van wat ek en my ondergeskikte veldhere jou sal opdra en nooit of te nimmer van wat julle dom Herodus aan julle opgedra het nie! Van julle misdadige eed is julle vir altyd en ewig onthef!

[9] In die geval dat die groot Profeet nou êrens vandaan in ons midde sou kom, sou niemand van julle dit ook maar mag waag om Hom met `n vinger aan te raak nie. Wie dit egter vanweë sy dom eed tog sou doen, sal alle swaarte van die Romeinse erns moet dra!

[10] Vriend Zinka, ek het jou vanweë jou vroeëre geesryke uitlatings as `n wyse man beskou, maar deur hierdie laaste opmerking het jy baie in my agting gedaal! Was daardie vroeëre uitlatings alles net huigelary van jou?"

[11] Zinka sê: "Nee, nee, absoluut nie, verhewe meester en gebieder! Ek en ons almal dink en wil nou presies dieselfde as wat ons vroeër gedink, gewil en gesê het. Maar u moet tog goed verstaan dat jy by verskynsels soos wat hier voorgekom het en nog voorkom, as mens met `n bietjie verstand tog jou oë begin te rek en ten slotte in jou hele denke, wil, spraak en doen ietwat verleë en verward moet raak!

[12] As ek so iets al van te vore sou gesien het, sou ek my hier net so rustig as al die ander gedra het, maar my wyse buurman het skaars gesê dat die middagete sou kom, of etlike oomblikke daarna buig alle tafels alreeds onder die gewig van die kos en drank wat daarop geplaas is! Daar kan op sy beste een of ander kunstige apparaat bestaan waarmee daardie werk bietjie vinniger as gewoonlik gedoen kan word, maar só vinnig? Dit kan geen enkele meganiese apparaat doen nie! Kortom, wat mense ookal vir my sê, ek bly tog sê: ‘Dit was óf `n buitengewone soort towery, óf `n volkome wonderwerk!’

[13] U, verhewe vriend en meester, kan maklik kalm bly, omdat u sekerlik die oorsaak ken, maar vir ons is dit iets heel anders! Kyk maar net eers na die vis wat ek nou nog eet! Ek het daarvan steeds maar geëet en geëet en nog is verreweg die grootste deel oor! Ek is heeltemal versadig, en kan tog nog aangaan met eet! Hierdie is my beker, waaruit ek tog gewis meer as `n volle maat (2 liter) gedrink het, en kyk nou - nouliks drie vingers staan die wyn onder die rand! Ja, dit kan mens dan tog as denkende mens nie so sonder meer aanneem asof daar so te sê niks besonders aan sou wees nie! Ek is hier u gevangene en kan geen verklaring van u eis oor hierdie wonderbaarlike verskynsel nie, maar vra kan en mag ek tog wel? Ek vra dit egter vir u en u sê dat ek moet wag!

[14] Die gewag sou wel kon gaan as daar in my in plaas van `n weetgierige siel, `n dooie klip gelê en uitrus het, maar my siel is geen klip nie, maar `n altyd na lig dorstende gees. Haar dors is nie met `n koele drank te les nie, maar deur `n verklarende woord wat uit die mond van `n reeds verrykte gees kom. U het hierdie geestelike drank in oorvloed en u loop daarvan oor. Maar by my, die van dors smagtende, wil u uit u oorvloed ook nie één druppel op my gloeiende tong laat drup nie! Kyk, dit is nou wat my die meeste verdriet aandoen en my verstand in die war bring! As ek onder sulke omstandighede `n bietjie verward word - kan u, verhewe vriend, u dan daaroor verwonder?

[15] Maar nou niks meer oor dit alles nie! Ek word nou al daardeur innerlik behoorlik kwaad en laat al daardie wonderbaarlike vir wat dit is! Die mens moet nie alles weet en hoef ook nie alles te weet nie! Vir die noodsaaklike verkryging van die daaglikse brood hoef die mens glad nie baie te leer, te beleef en te weet nie. Slegs `n egte dwaas wil meer! Daarom nou slegs eet en drink solank dit daar is! As ek niks mag weet nie, dan wil ek liewers niks weet nie! Want wat `n mens self wil, kan `n mens maklik verdra; slegs die wil van `n vreemde is vir elke eerlike siel moeilik te verteer. Van nou af aan hoef u uself nie daaroor te bekommer dat ek u ooit weer met een of ander vraag sal lastig val nie!"

[16] Na hierdie woorde sê Zinka niks meer nie, eet rustig verder aan sy vis en neem daarby meermale brood en wyn. Ook sy metgeselle doen so en trek hulle weinig aan van wat rondom hulle heen gebeur of gesê word.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205