Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 122

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die Heer lê die innerlike van Judas bloot

122 Na hierdie woorde sien almal weer met hul liggaamlike oë, en is buite hulleself van verbasing oor alles wat hulle gesien en gehoor het, en begin My met luide stem te roem en hou daarmee so vir `n halfuur vol.

[2] Toe almal deur hul luide lofprysing duidelik kenbaar maak dat hulle My nou in die ware lewensdiepte herken het, kom ook Judas Iskáriot na My toe en sê: "Heer, lank was ek ongelowig; maar nou glo ook ek volkome dat U werklik JaHWeH Self is, of tog ten minste `n egte Seun van Hom! Maar iets kan ek van U nog steeds nie verstaan nie en dit is die volgende:

[3] Hoe kon U as JaHWeH wat oneindig is, U oneindigheid verlaat en U inpas in hierdie uiters eindige vorm? Intussen bly egter die ou, oneindige ruimte tog dieselfde wat dit van ewigheid af was! Maar U, as JaHWeH, is tog Sélf die oneindige ruimte! Hoe kan dit dan in sy onveranderde, eindelose wese bestaan terwyl U U as die Oneindige, Self in hierdie beperkte mensevorm bevind?

[4] Kyk Heer, dié vraag vind ek baie belangrik! As U my dit goed duidelik kan maak, dan word ek die ywerigste van al U leerlinge - maar anders sal `n bietjie twyfel altyd my siel vertroebel!"

[5] Ek sê: "Hoe is dit moontlik dat almal nou sien en net jy blind geword het?! Dink jy dan dat Ek opgesluit is in hierdie omhulsel?! Of is die son ten opsigte van die werking van sy sonlig maar net beperk tot die son self?! Hoe sou jy dit kon sien as dit met sy lig nie verder reik as tot aan sy buitenste omhulsel en oppervlakte nie?!

[6] Ek is slegs die ewige sentrum van My Self; maar vanuit dit vervul Ek tog ewigdurend onveranderlik die oneindige ruimte.

[7] Ek is orals die ewige Ek; maar hier by julle is Ek nou in die ewige sentrum van My bestaan, van waaruit die hele oneindigheid ewig sonder ophou en onveranderlik op dieselfde wyse bewaar word in sy eindelose, ewige uitgestrektheid.

[8] Van ewigheid af woon Ek in My ontoeganklike sentrum en in My eie ontoeganklike lig. Maar ter wille van die mense van hierdie aarde het dit My behaag om sodanig uit My ontoeganklike sentrum en uit My ontoeganklike lig na buite te tree, dat Ek in dieselfde sentrum en dieselfde lig wat ook van ewigheid vir die hoogste engele algeheel ontoeganklik was, My nou op hierdie aarde begeef het en nou vir julle mense selfs van alle kante goed bereikbaar is, en julle My lig goed kan verdra.

[9] Toe ons van Sigar na Galiléa weggetrek het en ons die namiddag op `n berg gerus het, het Ek aan talle van julle daadwerklik getoon dat My wil reik tot aan die son. Probeer jou dit herinner, dan sal jy goed insien dat Ek orals tuis is en tuis kan wees deur die uitstroming van My wil, wat orals ewe kragtig werk!"

[10] Judas Iskáriot sê: "Ek kan my wel herinner dat U daar die son, as ek goed nadink, `n paar oomblikke sy lig ontneem het! Wel, dit is sekerlik geen kleinigheid nie - maar tog word daar vertel dat die ou Egiptiese towenaars dit ook kon doen. Hoe? Dit is natuurlik `n ander vraag! In die groot natuur vind jy heel vreemde, geheime kragte; U ken hulle, en die ou towenaars het hulle ook geken en gebruik. Natuurlik het tot dusver, vir sover ons weet, nog niemand sulke dinge gedoen soos U nie!

[11] Maar sonder enige wêreldse opleiding is selfs U ook nie! Want daar word tog allerweë vertel oor die vaardigheid van U vader Josef en selfs van U moeder Maria, wat `n leerling van Simeon en Anna was; en as `n talentvolle jongmens sulke ouers het, kan hy dit wel tot iets bring. Maar dit is maar net my pure wêreldse mening; want persoonlik glo ek dat JaHWeH se Gees volkome in U woon en werk.

[12] Watter nut kan `n ewig onsigbare JaHWeH ook vir my hê, wat êrens hoog bo alle sterre in Sy ontoeganklike lig sit, en Hom nooit aan Sy skepsels vertoon, en geen wonders doen behalwe die onveranderlike van elke dag, wat egter net so goed deur die natuur self geproduseer sou kon word?! U is, ten minste vir my, `n egte JaHWeH, omdat U U voor ons oë maar al te openlik en oortuigend in woord en daad laat sien het as `n volmaakte Heer van die hele natuur en alle skepsels. Wie soos U die lewe aan die dooies kan teruggee, en die elemente kan gebied en selfs uit die lug `n paar algeheel nuwe esels en visse in bestaan kan roep en die voorraadkamers van die ou Markus met brood en wyn ewe-eens uit die lug kan vul, dié is vir my die enige, ware God buiten wie alle ander my nie interesseer nie! Laat U suiwer goddelike kundighede dan kom vanwaar U maar wil, U bly vir my tog `n ware God! Het ek gelyk of nie?

[13] Heeltemal so op my agterkop geval, is ek tog nie, soos wat my broer Thomas gedink het. Ek weet wat ek weet, en waaroor ek praat; maar as broer Thomas onophoudelik dink dat ek `n esel of `n os is, vergis hy hom geweldig met my. As ek met hom sou wou praat soos wat ek kan praat, sou hy uit `n duisend keer nie één keer in staat wees om my te antwoord nie! Sou ek in U nie reeds lankal die ware JaHWeH vermoed het nie, dan sou ek ook al lankal huis toe na my pottebakkery terug gegaan het; maar omdat ek waarskynlik die beste weet wie Hom in U bevind, bly ek en gee my baie winsgewende kuns op, hoewel ek nou juis ook geen vyand is van goud en glansende silwer nie - want U geestelike goud en silwer is vir my beter!

[14] Maar dat Thomas my so pas heimlik in die oor gefluister het toe die engel volgens U wil `n kerngesonde eselin in die lewe geroep het, dat hierdie wonder maar net ter wille van my plaasvind om my deur `n lewende beeld te laat sien wie en wat ek is, dit kan ek tog nie laat verbygaan nie! As Thomas dink dat hy wyser is as ek, mag dit volgens hom so wees; maar vir my moet hy met rus laat! Want ek lê hom niks in die weg nie en ook al noem hy my `n dief, het ek beslis nog nooit iets van hom gesteel nie!

[15] U het ons vroeër tog almal `n heerlike en buitengewoon goddelike wyse les oor die siekte van `n mensesiel gegee en aangetoon dat `n mens nog meer geduld met `n siek siel moet hê as met die siek liggaam! Alhoewel daar vir sulke suiwer Goddelike lesse nie plek in sy hart is nie, waarom neem `n wyse Thomas dan ten opsigte van my nie dit ter harte nie, terwyl dit tog kan wees dat ek ook nog `n siek siel het?! Ek eis glad nie dat hy my om verskoning sal vra omdat dit sy wysheid geval het om my `n esel te noem nie - want so deemoedig as wat hy dink hy is, is ek ook! Ek voel egter `n behoefte om hier openlik te beken dat ek weliswaar `n mens is met `n siek siel, maar daarom `n Thomas oor sy baie gesonde siel nie beny nie! Daarom wil ek ook steeds, soos wat ek altyd was, sy vriend en goeie broer wees - ek verlang slegs één ding van hom, naamlik dat hy van nou af aan sy ywer om kritiek te lewer, op iemand anders sal uitoefen en nie op my nie; want tot nou toe is ek nog steeds dit wat ook hy is, naamlik `n leerling van U, my Heer en my God wat op dieselfde wyse as hy geroep is!"

[16] Ek sê: "Dit is weliswaar nie heeltemal prysenswaardig van Thomas dat hy jou steeds in die visier van sy boog kry nie; maar dit is aan My origens ook bekend dat jy by die uiteindelike voltooiing van hierdie eselin, wat nog hier voor ons staan, eers `n heel onvanpaste grap gemaak het en dit was die eintlike rede waarom Thomas jou ietwat met jou eie woorde geklap het!

[17] Vertel eers watter rede jy het om op te merk en eintlik te meen dat al My wonders uiteindelik sou uitloop op die maak van kerngesonde esels! Kyk, dié opmerking van jou was baie boosaardig en het sekerlik die kommentaar van Thomas verdien! Ek keur jou geloof nie af waarvolgens jy My sien as die enige God en Heer nie, alleenlik keur Ek in jou af dat jou geloof en oortuiging meer in jou woorde tot uitdrukking kom as in jou sielelewe.

[18] Want in der waarheid beskou jy My tog nog meer as `n egte, oud-Egiptiese wyse en towenaar, wat met alle geheime natuurkragte baie goed bekend is en wat goed weet hoe hy hierdie kragte moet aanwend om hulle vir hom te laat werk. Sien jy, dít is so afkeurenswaardig in jou!

[19] Wat vir honderde `n suiwere waarheid is, is vir jou nog altyd aanleiding tot herhaalde twyfel en openlike beweringe wat My altyd by enkele swakker broers in `n twyfelagtige lig moet stel. Jy het tog, toe Ek aan verskeie verdrinktes die lewe teruggee het, dadelik na vore gebring dat die plek self en die stand van die sterre groot rol sou gespeel het en dat dit daarom maklik vir My was om allerlei wonderwerke te doen; op `n ander plek sou dit My by verre nie weer so goed geluk het nie! In Násaret, Kapernaum en in Kis, in Jesaira en selfs in Gennésaret, het Ek weliswaar ook groot wonderwerke gedoen het - maar lank nie so baie soos op dié plek nie. - As jy My egter in alle erns beskou as jou enige God en Heer, waarom maak jy My dan verdag voor vreemdes?!"

[20] Heel parmantig en vasberade sê Judas Iskáriot: "As jy die wêreld en die natuur egter bietjie van nader bestudeer, skyn dit tog so te wees dat God altyd baie rekening hou met die geskiktheid van die plek waarop Hy iets spesiaals wil skep! As ons na `n hoë berg gaan soos byvoorbeeld Ararat, sal ons niks anders as kaal gesteentes en sneeu en ys aantref nie. Waarom groei daar dan geen druiwe en vye, appels, pere, kersies en pruime nie? Ek veronderstel dat JaHWeH die plek nie geskik genoeg ag om hierdie soet wonders ook daar teweeg te bring nie! Dan wil dit lyk asof JaHWeH Self heel baie rekening hou met die geskiktheid van `n plek, omdat Hy andersins beslis ook op Ararat die voedende, soete wonders sou neergesit het!

[21] En ek glo dat ek U niks van U Goddelikheid ontneem nie as ek beweer dat U vir die uitvoer van wonderdade altyd die een plek tog geskikter vind as `n bepaalde ander, soos byvoorbeeld Násaret, waar U Uself nou nie juis oortref het met die doen van wonderwerke nie. U sou, as JaHWeH wil, die groot woestyn van Afrika ook maklik kon verander in die mees geseënde en bloeiende landerye as U daardie gebied daarvoor geskik en gunstig sou vind! Maar omdat daardie genoemde gebied nog steeds `n woestyn is en dit ook hoogs waarskynlik nog baie lank sal bly, glo ek dat U niks sal inboet op U Goddelikheid as Afrika se groot Saharawoestyn nog baie lank dit sal bly wat dit is nie. Dit is my oortuiging, hoewel broer Thomas dit daarmee miskien wel nie heeltemal eens sal wees nie!"

[22] Thomas kom op My wink daar naby staan en sê: " Wat jy sê, sou baie goed gewees het as jy dit ook in jou hart so sou voel, en as volledig waar sou aanvaar; maar daarvan is in jou geen spoor te ontdek nie! Volgens jou innerlike standpunt is die Heer nog steeds in die eerste instansie `n wysgeer wat in staat is om uit die talle leringe wat aan hom bekend is, `n hoogtepunt van wysheid te distilleer en ten tweede, iemand wat alle toorkuns so volmaak sy eie gemaak het dat dit hom by bepaalde geleenthede en onder gunstige omstandighede nooit laat misluk nie. Jy het slegs die idee en dit is taamlik nou verwant aan dié van die satan, dat `n egte, groot towenaar wat met sy wil alle hóé geheime kragte sou kon beheers, uiteindelik `n egte god sou moes wees!

[23] Nou doen hom hier die geval voor dat die Heer Jesus uit Násaret volkome aan jou voorwaardes voldoen, en daarom bedink jy jou ook geen oomblik om die ou God van Abraham, Isak en Jakob algeheel te onttroon en in die plek daarvan jou towenaar op sy troon te stel nie! Want dat jy die gees van hierdie Heilige uit Násaret vir presies dieselfde sou hou as die Een wat eens op Sinaï ons vaders Sy wette onder donderende mag gegee het, daarvan is in jou hart geen spoor van enige begrip te vinde nie.

[24] En omdat daar by jou nog steeds geen verandering ingetree het nie, het ek nou geen ander keuse as om jou gewis te vermaan om by elke geleentheid waar jy op die voorgrond wil tree en jou altyd verraderlike, onopregte mond wil oopmaak nie; want elkeen wat anders dink en voel as wat hy praat, is `n verraaier van die gewydheid van die waarheid. Daarom moet jy jou op hierdie wyse sekerlik laat vermaan en in die hele toekoms nie anders praat as wat jy dink en voel nie! Want dit is die aard en die manier van die verskeurende wolwe, wat in skaapspelse rondsluip om des te makliker `n onskuldige en sagte lammetjie in hul dodelike kloue te kry. Verstaan my goed; want ek deursien jou geheel en al, en ek waarsku jou maar net dan as jy jou stem laat hoor, want dan val dit my altyd op dat jy leuens vertel, omdat jy anders praat as wat jy dink en voel. Ek staan sekerlik nie vyandig teenoor jou as `n mens met `n siek siel nie, maar wel teenoor die siekte self!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205