|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 135
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Die rabbi probeer die ou Lasarus weer tot lewe bring
135 Toe my vader my beskrywing gehoor het, wend hy hom dadelik tot die, al ietwat ongeduldig wordende, klein rabbi en sê: ‘Vriend, soos wat ek dit nou sien, sou dit jammer wees om hom selfs net `n druppel lewensbalsem te gee, ook al is dit hóé sterk, want sy siel sweef al manshoogte bo die reeds so goed as heeltemal dooie liggaam. Hef daarom nou maar jou klaagpsalm aan en stel as priester die mense in kennis dat geen aardse hulp hier iets kan uitrig nie!'
[2] By hierdie verklaring lyk die klein rabbi `n bietjie suur en vra my vader hoe hy dit kon vasstel. Maar my vader was nooit te erg vriendelik nie en sê droogweg aan die klein rabbi in sy gesig: ‘Hoe en waarom ek dit sien en weet, gaan jou niks aan nie; doen jy maar wat jy moet doen en ek weet baie goed en presies wat ek te doene het!’
[3] Op daardie oomblik kom die siel heeltemal los van die liggaam, verskeie verhewe geeste met `n wyse voorkoms neem hom dadelik in hul midde, gee hom `n wondermooi, geplooide gewaad wat lyk asof dit gemaak is van wit sydraad en één neem die ligsuil, buig dit om die lendene van die nou vrye siel en daaruit vorm daar `n gordel wat so helder straal soos die son. Terselfdertyd plaas `n magtige gees `n net so `n helder stralende kroon op die kop van die vrye siel en sê: 'Broer, wees vir ewig getooi met die lig van die Wysheid wat vanuit God in jou straal!'
[4] Hiermee verlaat egter alle aanwesige hoë geeste tesame met die nou vry geworde siel onmiddellik die huis, wat ek dadelik aan my vader meedeel en my vader sê aan die rabbi: ‘Wel, noudat die siel van die bejaarde man volledig geskei is van sy liggaam, gaan jy tog wel na die mense wat hulle byna blind ween, om hulle te vertel dat die bejaarde man heeltemal dood is?’
[5] Toe sê die klein rabbi: ‘En waarom dan! Nou sal ek hom eers `n lewegewende druppeltjie op die tong gee en dan sal ons dadelik sien of sy siel – op voorwaarde dat daar `n siel as sodanig in die menslike liggaam aanwesig is - wel regtig reeds uit die liggaam gegaan het! Volgens my mening, wat op baie ervaring berus, het geen enkele mens `n siel wat met `n eie geestelike lewe verder reik as die lewe van die bloed en die senuwees nie. Die mens is, as hy eenmaal dood is, net so dood soos `n klip of `n uitgedroogde stuk hout en by alles wat ek gewyd kan noem, sweer ek vir jou dat daar dan in die mens niks meer bly lewe nie. Maar daar is nog geheime middele in die natuur om die lewe in die byna dooie liggaam opnuut op te wek, en dit wil ek nou doen en vir jou, starre Judeër, sal ek bewys dat die siel nog lank nie uit sy liggaam gegaan het nie en ook nie kan gaan nie, omdat daar nooit so-iets soos `n siel daarin gewoon het nie!’
[6] Toe haal die rabbi `n goue flessie uit die sak van sy mantel, laat dit deur my vader sien en sê: ‘Hier, vriend, kyk! Daarin sit die siel van `n mens wat al dood is!’
[7] My vader sê glimlaggend: ‘Gaan maar jou gang! My hele groot besitting wat jy wel sal ken, is joune as die dooie hom ook maar enkele oomblikke beweeg as gevolg van die druppels wat jy hom gee, want jou geheime middel ken ek. Ek besit dit ook en dit het my by skyndooies al baie goeie dienste bewys; maar by skyndooies bevind die siel hom nog lank in die liggaam. Daarom kan hierdie geheime middel by alle gestorwenes wat nog geen Hippokratiese simptome vertoon nie, baie nuttig gebruik word; maar as die gesig van `n oorledene eenmaal oorduidelik die Hippokratiese tekens vertoon, dan het die siel vertrek en dan kan jy in die dooie tienduisend van sulke flessies leeg giet sonder dat die liggaam hom sal begin beweeg, maar dit sal volkome dood en ongevoelig bly lê soos `n klip of `n verdroogde stuk hout. Maar begin nou jou proef met jou egte Persiese varingolie, en soos wat ek hier in die teenwoordigheid van getuies gesê het: my besitting is vanaf daardie oomblik alles joune waarop hierdie dooie, wat nou al so saggies `n geur van ontbinding begin versprei, ook maar één reaksie op jou druppels laat sien!’
[8] Die klein rabbi is weliswaar `n bietjie onthuts deur hierdie kragtige teenspraak van my vader se kant af, maar gaan tog na die dooie, open sy mond en laat, in plaas van die normale twee tot hoogstens drie druppels, tien druppels op die reeds heeltemal uitgedroogde tong val. Daarna sluit hy die mond weer en wag met volle aandag op enige beweging van die dooie. Maar `n volle uur verstryk en nog `n volle uur, dit begin al heeltemal dag word en die dooie maak nog geen aanstaltes om hom te beweeg nie.
[9] Dan vra my vader die klein rabbi of hy nog van mening is dat die dooie deur sy egte Persiese varingdruppels sal begin beweeg en miskien selfs sal begin praat.
[10] Die klein rabbi sê: ‘Laat ons nog `n uur wag, laat ons op die sonsopkoms wag, dan sal die dooie wel begin beweeg; hy sal ook praat!’
[11] My vader sê, nogmaals glimlaggend: ‘Gaan jou gang, ek sal daar niks op teë hê nie; inteendeel, ek bied graag my besittings aan vir die terugwin van die lewe van hierdie ou, godvresende, eerbare man, wat ek baie goed geken het! En as jy verloor, verlang ek van jou maar net dat jy glo in die ware, ewig lewende God van Abraham, Isak en Jakob en aan die volle onsterflikheid van die menslike siel!’
[12] Die rabbi sê: ‘Ja, vriend, dit wil en sal ek; maar ek sien al by voorbaat dat jy by hierdie transaksie sal verloor! Want ek behoort in die geheim tot die intellektuele sekte van die Sadduseërs, en ek sou my tempelwyding wel na Afrika se groot sandwoestyn wou verwens! Maar mag jy nou werklik wen, dan sal dit my regtig weer goed doen om met huid en haar aan die tempel te behoort!'
[13] Toe word almal stil en kyk verlangend uit na die oomblik dat die ou Lasarus weer lewend sou word."
|
|
|
|
|