|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 54
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Die verhouding tussen liggaam, siel en gees
54 Ek sê: "Kyk, nou gou sal hy in die derde stadium kom, let goed op wat hy sê!"
[2] Cyrenius sê: "Heer, as Zorel nou op die weide wat vir ons onsigbaar is aan die slaap moet raak, wat is dan die bedoeling daarvan? Is dit nodig, of sou hy, sonder om op `n bepaalde manier aan die slaap te raak, nie in die derde stadium kon oorgaan nie?"
[3] Ek sê: "As sy siel suiwer was, sou dit ook sonder so `n slaap kon gebeur het, maar solank sy siel nog deur bepaalde bande met die liggaam in verbinding staan, moet vir die verwisseling van stadiums `n sekere verdowing intree waarin die siel ongemerk in `n ander stadium kan oorgaan. Wat Zorel se siel nou in die tweede stadium gesien en gesê het, was behalwe vir homself slegs `n skynwerklikheid. In die derde stadium gaan hy eers werklik helder sien, en wat hy dan sal sê, sal ook volledig werklikheid wees."
[4] Cyrenius vra: "Maar wat is die slaap dan eintlik? Hoe en waardeur ontstaan dit?"
[5] Ek sê: "Wil jy dit dan ook weet? Nou goed dan, as jy dit met alle geweld wil weet dan moet Ek dit tog vir jou vertel, luister dus!
[6] As jy `n oorkleed dra en volgens die Griekse mode `n broek aan jou bene het, lewe die kleed en die broek deur die beweging van jou liggaam, dit wil sê, dit moet homself so voeg na jou wil, soos wat jou ledemate hulle voeg na die wil van jou siel. As jy egter in die somer `n bad neem, trek jy jou klere uit, omdat jy dit nie in die bad kan gebruik nie. Oorkleed en broek neem nou, terwyl jy in die bad is, noodsaaklikerwys `n rus en wikkel of beweeg nie. Kom jy weer uit die bad, dan sal jou oorkleed en jou broek dadelik weer, soos vroeër, in beweging gebring word en in `n sekere sin saam met jou lewe. Waarom trek jy egter jou klere uit om te gaan bad? Kyk, omdat dit jou belemmer en begin te knel! In die bad is jy egter verkwik en jou klere, waarvan jy las gekry het, sal vir jou na die bad so lig soos `n veertjie voorkom.
[7] As jou siel deur die daaglikse ongemak moeg en swak geword het, ontwaak in haar die behoefte aan `n verkwikkende en versterkende rus. Die vermoeide siel trek dan weldra haar vleeslike kleed wat van ledemate voorsien is, uit en klim in `n versterkende bad van geestelike water en bad, reinig en versterk haar daarin. As sy weer fiks geword het, trek sy haar liggaamlike mantel weer aan en beweeg dié se logge ledemate weer met groot gemak.
[8] Jy het nou deur die verhaal van Zorel beslis gesien, of veeleer, lewendig waargeneem, dat daar in sy siel nog `n innerlike ligmens uit die hart van sy siel begin ontkiem het, wat homself ten opsigte van die wese van die siel byna so `n verhouding het soos die materiële liggaam ten opsigte van die siel. Wel, hierdie ligmens het voorheen in sy siel, as sy gewaad wat van ledemate voorsien is, nog nooit ooit enige impuls gekry nie. Dit het in die hart van die siel gelê soos `n eier in `n vrou, sonder `n manlike stimulus, prikkeling of opwekking. Deur hierdie spesiale behandeling is die eintlike oerlewenskern deur die woord van My en van Zinka tydelik gestimuleer, geprikkel en opgewek, en daardeur het hy begin te groei totdat hy sy hele siel, dit is sy mantel, gevul het met sy suiwer geestelike wese.
[9] Tog het die siel, hoewel sy vir die oomblik soveel moontlik gereinig is, nog sekere materiële dele in haar wat dit vir die suiwer gees te moeilik maak, omdat hy voorheen nooit opgelei was om so `n las te dra nie. Hierdie geesmens, wat in `n sekere sin slegs kunsmatig geestelik opgewek is en tot `n vinnige groei genoodsaak is, is vir die dra van die onbeholpe siel nog veels te swak en verlang na rus en versterking. Hierdie skynslaap van die siel op die bergweide, is derhalwe niks anders as die aflegging van die mees stoflike dele van die siel deur die gees nie. Slegs dit in die siel wat aan hom verwant is, behou hy. Die ander moet intussen rus, soos wat die liggaam stil rus terwyl die siel kragte opdoen, of soos wat jou kleding rus as jy jou liggaam in `n bad `n verkwikkende versterking gun.
[10] Maar daar bestaan tydens die rus van die buitenste growwer en onedele dele ter wille van die versterking van die edeler mensdele, tog altyd `n onderlinge verbinding. Kom daar iemand, terwyl jy jou in die bad verkwik, wat jou uitgetrekte klere neem en gaan verniel, dan sal jou natuurlike en noodsaaklike liefde vir jou klere dadelik `n baie kragtige en woedende veto uitspreek. `n Nog hegter verbinding bestaan daar tussen die liggaam en die siel. Wie voortydig die liggaamlike mantel sou wou neem en verniel, sal `n baie merkwaardige behandeling kry.
[11] Maar tussen siel en gees bestaan die mees hegte verbinding. `n Siel, veral `n baie reine, is naamlik self `n geestelike oerelement en die gees sou vreeslik te kere gaan as `n mens hom sy liggaam en sy kleed sou ontneem. Hy sal dan dadelik in ligte laaie wees en alles vernietig wat in sy omgewing kom.
[12] Maar die siel moet tog eers die materiële algeheel aflê voordat die gees dit in die siel wat aan hom verwant is tot homself kan aantrek as sy eie en daarmee `n volmaakte eenheid kan vorm. Die materiële van die siel is vir die gees sigbaar as dít waarmee die siel beklee is. Jy het gehoor hoe Zorel oor `n vuil hemp praat wat hy self in die meer skoongemaak het, daarna uitgewring en nog nat aangetrek het. Kyk, hierdie kledingstuk vorm nou nog die materiële buitekant van die siel, wat eers afgelê moet word en wat moet gaan rus voordat die innerlike, goddelike geesmens volledig kan oorgaan in sy siel, wat hom nou baie verwant is en waarmee hy dan één geheel kan vorm.
[13] Die oomblik van oorgang neem altyd `n tydjie in beslag, omdat alles wat binne die eintlike bereik van die vrye lewe hoort, homself eers ten volle met die nuwe en meer edele wese moet verbind (geestelike huwelik). Daarna kan die nuwe wese of die nuwe, hemelse mens wat nou self alles voel, dink, sien, hoor, ruik en proe, selfstandig optree. In dié bepaalde slaap vind hierdie noodsaaklike geestelike verhuising plaas. Nadat die verhuising plaasgevind het, is die nuwe mens klaar en behoef hy in sy algeheel suiwere, geestelike bestaan vir ewig geen verdere verandering meer nie.
[14] Maar in dié toestand is die mens dan ook heeltemal volmaak en kan hy as wese nie nog verder vervolmaak word nie. Slegs in die stadige meer en meer volmaak word deur die suiwere hemelse Liefde en Wysheid en haar Mag wat die hele oneindigheid reël, bestuur en lei, en in die kennis daarvan, kan `n mens vir ewig `n stadige toename verwag, en ten gevolge van die steeds hoër liefde, wysheid en mag daardeur ook die bereiking van `n altyd hoër saligheid.
[15] Zorel sal nou aanstons as so `n volmaakte geesmens optree en hy sal - steeds nog deur sy liggaamlike mond - vertel oor die voltooiing van sy wesenlike, volmaakte, menslike natuur. - Let nou op, hy sal dadelik weer begin praat."
|
|
|
|
|