Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 76

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die geheim van die innerlike geesteslewe

76 Na hierdie woorde van Cyrenius, buig Zorel hom so diep moontlik voor ons en gaan dadelik daarna weer na Johannes toe, wat hom opnuut vriendelik ontvang en hom vra hoe dit nou met hom gegaan het.

[2] Zorel sê: "Dit het met my buitengewoon goed gegaan, wat jy wel aan my klere kan sien, want as jy eenmaal in besit is van `n behoorlike hemp en toga en `n Griekse mantel van blou merino om jou skouers dra, dan gaan dit met jou, aards gesien, tog sekerlik uitstekend! Wat die geestelike welsyn en welstand ewenwel aanbetref, sê ek vir jou dat ek nog heel onbehaaglik voel! As God wou gehad het dat ek geestelik net so nuut geklee moes loop soos wat ek nou liggaamlik is, dan sou dit seker met my beter gaan, maar dit sal nog sy tyd nodig hê!

[3] Vriend, één vraag kan jy my egter wel toestaan en dié lui: ‘Julle is mense soos wat ek is, julle is van vlees en bloed en het dieselfde sintuie as ons almal. Jy het my egter bewyse gegee van `n geesteskrag wat alles wat ek tot op hede meegemaak het, hemelhoog en ver oortref! Nou is my vraag hoe jy daaraan gekom het. Wie het dit vir jou en jou vriende geleer? Hoe kom julle daaraan?’"

[4] Johannes sê: "Jy sal weinig daaraan hê as ek dit vir jou sou uitlê; maar as jy egter sal doen wat ek nou vir jou sal sê, sal jy die weg daartoe in jouself vind en jou ontwikkelde gees sal jou, gesterk deur God se Gees, in alle Waarheid en Wysheid lei. As jy `n bepaalde kuns wil leer, moet jy na `n kunstenaar toe gaan en jou deur hom laat inwy in die kuns; dan volg die vlytige oefeninge ten einde jou die handgrepe sodanig eie te maak dat hulle volkome ooreenstem met dié van die meester, en dan sal jy net so `n kunstenaar wees soos jou meester.

[5] As jy wil leer dink, moet jy na `n filosoof toe gaan. Hy sal jou opmerksaam maak op oorsake en gevolge, en daardeur sal jy begin te dink en gevolgtrekkings maak en jy sal sê: ‘Omdat water vloeibaar is, kan dit maklik beweeg word. Deur sy swaarte moet dit na benede in die dal stroom, omdat, volgens die algemene ervaring tot op hede, alles wat gewig het, as gevolg van `n aantrekkende krag uit die binneste van die aarde, hulleself ook altyd op die binneste van die aarde gerig het en dit sonder ophou sal bly doen volgens die onveranderlike wil van die Skepper wat alles in die hele natuur beheers.

[6] As die water in die see die diepste moontlike bedding bereik het, tree daar, betreffende verdere stroming wel `n rus in - maar op sigself bly dit tog altyd `n vloeibare liggaam; en as daar `n stormwind oor die wye oppervlak waai, bring dit die origens rustige oppervlakte van die water in `n golwende beweging, en hierdie golwe van die water is op sigself weer niks anders as `n strewe na rus van die vloeibare waterliggaam nie. Maar omdat niks anders so `n drang na rus het soos water nie, kan dit ook die maklikste en vinnigste uit die ewewig van sy rus gebring word.

[7] Daaruit volg uiteindelik die gevolgtrekking: ‘hoe vloeibaarder `n liggaam is, des te meer rus soek dit; en hoe meer sy liggaamlike wese na rus streef, des te makliker kan sy rus versteur word. Maar hoe makliker die rus van `n elementêre liggaam versteur kan word, des te vloeibaarder moet dit wees. Uit hierdie voorbeeld sien jy hoe mens in `n filosoweskool begin om te leer dink en hoe mens gevolgtrekkings begin maak van oorsaak na gevolg en ook omgekeerd.

[8] Alle dergelike denke beweeg hulleself egter in `n sirkel waar dit nie uitkom en ook nie kan uitkom nie. Sulke gedagtes baat die mens dan ook weinig of niks met betrekking tot sy innerlike, geestelike welsyn, wil en denke nie. Maar soos wat jy jou die één of ander kuns slegs by `n kunstenaar, en `n ordelike, rasionele denke, slegs by `n filosoof eie kan maak, so sal jy die innerlike, geestelike denke slegs by `n gees, en wel by die alles deurdringende Gees van God, in jouself kan leer. Dit beteken: ‘slegs `n gees kan `n gees leer’; want een gees sien en herken die ander gees, soos wat die een oog die ander sien en besef dat dit `n oog is en hoe dit geaard is.

[9] Die gees is die innerlike gesigsvermoë van die siel, wat alles met sy lig deurdring omdat dit `n innerlike en daarom suiwer lig is. Daaruit sien jy nou hoe dit gaan met die leer van verskillende dinge, en hoe `n mens vir alles wat `n mens wil leer, altyd die geëiende leraar moet hê omdat `n mens andersins `n ewige knoeier sal bly. Maar dit kom dan ook baie daarop neer om, ook al het `n mens die allerbeste leraar gevind, alles presies en vlytig te doen wat die meester beveel of aangeraai het om te doen en te oefen.

[10] As die gees in jou ontwaak, sal jy sy stem waarneem soos helder gedagtes in jou hart. Daarna moet jy goed luister en jou in jou hele lewensfeer daarvolgens rig, dan sal jy daardeur jou eie gees `n steeds groter werkgebied verskaf en so sal die gees in jou groei tot die grootte van `n man en jou hele siel deurdring en daardeur jou hele materiële wese.

[11] Het jy in jouself by hierdie punt gekom, dan is jy ook net soos een van ons in staat om nie net dít te sien en te herken wat alle natuurlike mense met hulle sintuie kan sien en waarneem nie, maar ook die dinge wat vir die gewone mens onnaspeurlik is, soos wat jy dit by my ontdek het. Ek kon, sonder dat ek jou vroeër gesien of geken het, alles wat jy ooit êrens op hierdie aarde gedoen het en wat jy hóé verborge gehou het, haarfyn vertel.

[12] Nou het ek jou slegs `n klein voorsmakie gegee van die feite, sodat jy kan sien en besef hoe dit gesteld is met die geestelike dinge. Maar aan dit alles het jy nog weinig of niks nie; jy moet nou verneem wat jy moet doen om jou gees te ontwikkel. Ek is egter nog lank nie geregtig om dit vir jou uit te stippel nie, maar dít is wel `n ander een wat ook by ons is en wie se hele wese volkome deurdronge is van God se Gees. Hy sal jou eers die weg van die 169 Waarheid wys en omdat Hy Self Gees der geeste is, sal Hy deur jou vlees teen jou gees roep: 'Ontwaak in die liefde tot God en daaruit tot jou broers, in die Naam van Hom wat ewig was, is, en ook ewig sal wees!' - En sê my nou wat jy dink van alles wat ek jou nou vertel het!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205