|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 185
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Die verblyf van die Nubiërs in Egipte
185 (Die owerste): ‘Maar laat ons nou na buite gaan na die plek wat ek julle sal aanwys om daar te woon! Terselfdertyd sal ek egter, ter beskerming van julle tydens die hele duur van julle verblyf hier, `n wag saamgee, wat hierdie slegte volk van julle weg sal hou; want hulle sou sonder enige beswaar julle sowel fisiek as moreel deur en deur bederf. Ek vra julle glad nie of julle my heeltemal verstaan het nie, want ek weet dat julle my goed verstaan het en my verder nog beter sal verstaan!"
[2] Na hierdie woorde gee die owerste `n teken deur `n slag op `n luid galmende metaalplaat, en asof deur `n wonder kom `n aantal gewapende manne, wat heel donkerbruin van kleur is, te voorskyn en die owerste gee hulle in `n taal wat ons nie verstaan nie, `n opdrag. Maar toe die waaragtige, goeie owerste my verwondering bemerk, troos hy my deur in my taal uit te lê wat hy aan die gewapendes gesê het. Dit gaan daarom om ons so goed moontlik te beskerm teen die opdringerigheid van die verdorwe bewoners van die stad, wat hy glad nie meer as mense sien nie.
[3] Een van die leiers van die wag, wat byna net so geklee is as die vriend wat ons die pad hierheen gewys het, maak teenoor die owerste die opmerking dat dié plek, wat andersins wel baie welig begroei en grasryk is, `n egte slange- en adderweiveld is waarop geen mens en geen vee dit goed kan uithou nie.
[4] Die owerste sê: 'Verdorwe mense en hul vee weliswaar nie, maar hierdie is nog egte oermense, wat ook nog regtig heer en meester is oor die hele natuur en haar skepsels, van watter aard dit ook al is! Die talle slange en adders sal hulle verseker nie net niks doen nie, maar tesame met hul gebroedsel sal hulle baie gou maak dat hulle wegkom. En julle as hulle wagte sal met die ongediertes ook nie die minste moeilikheid hê nie, daar kan julle van volkome seker wees! Maar gaan haal nou twee-en-twintig paar leerbandskoene, daarmee wil ons hierdie onbedorwe mense uitrus sodat hulle nie hulle voete onnodig op ons skerp sandveld beseer nie!'
[5] Sommer gou bring die mense die skoene. Vir my en my dienaar word dadelik die gemaklikste aangebied en vasgemaak; die ander twintig word op bevel van die owerste deur vier wagte na ons metgeselle gebring, en toe hulle hulle ook van soortgelyke skoeisel voorsien het, kry hulle van die wagte die opdrag om hulle na die nuwe weiplek te volg. Die owerste, ek en my dienaar en die ander wagte trek deur die talle strate van die stad na buite, na die vrye veld waar die mooi en groot weiveld is, heeltemal begroei met pragtige gras, baie dadels en vye en pampelmoese en met nog meer ander vrugte. Maar ek sien ook goed dat die weiveld baie min deur mense besoek moes wees, want reeds op `n afstand hoor ons die geritsel van ontelbare ratelslange.
[6] Gou-gou na ons kom ook my metgeselle met die talryke kuddes en kamele. Toe hulle by die weiveld kom, wag hulle nie totdat die ongediertes moontlikerwys voor ons en ons kudde sou wegtrek nie, maar hulle neem dadelik sonder die minste huiwering volledig besit van die weiveld en sy vrugte, loop dadelik heen en weer oor die groot terrein van die weiveld en al die ongediertes verdwyn so haastig na die Nyl dat die oppervlakte daarvan ongeveer `n halfuur lank heeltemal daarmee bedek was; ook vier Nyldrake slaan haastig voor my metgeselle en my kuddes op die vlug.
[7] Die owerste lê hierdie verskynsel nou ook uit aan die wagte wat aan ons saamgegee is en sê aan hulle dat hulle saam met ons sonder enige vrees alle dele van die weiveld kan betree, want hy was volkome daarvan oortuig dat daar die nag al geen enkele adder of slang meer op die hele weiveld te vinde sou wees nie. En so was dit ook; reeds na `n uur was die weiveld vry van alle ongediertes in watter vorm dan ook.
[8] Aan die ander oewer van die Nyl sien ons `n hele Egiptiese trop skape vlug vir die giftige emigrante wat hulle agtervolg, en hulle herders vlug saam met die trop. Die herders skreeu ontsettend, maar ontkom tog oor `n Nylbrug; maar die trop lei skade, want heelwat lammers word deur die groot ongediertes ingehaal en opgevreet. Ook was daar aan die ander oewer groot getalle konyne vir wie hierdie onverwagse besoek ook uiters ongeleë kom, want `n aantal kleintjies word deur die kruipende ongediertes opgevreet.
[9] Die bewakers kyk begerig na die voorheen onbereikbare pragtige dadels, vye en pampelmoese en ook na die mooiste Roscize (vrugte van die Johannesbroodboom), wat daar gewoonlik as voer vir die kamele gebruik word.
[10] Die hoof van die wag sê aan die owerste: ‘Eer aan Isis en Osiris! Eindelik kan ons hier ook oes, iets wat sedert menseheugenis nie moontlik was nie!’
[11] Maar die owerste sê: ‘Alleenlik hulle wat hierdie weide gereinig het, sal vir `n volle jaar daarvan oes; net wat hulle julle toestaan om te neem, mag julle neem, maar eiemagtig mag julle nog geen blaar van `n boom neem nie! Pas ook daarvoor op dat julle in die teenwoordigheid van hierdie onbedorwe mense op geen enkele wyse julle waardelose landsgode aanroep nie, want onder julle is daar nie één wat ek nie bekend gemaak het met die enigste ware God nie! Hou julle daaraan, dus geen Isis en ook geen Osiris, nog die een of ander Apis meer nie! Want dit alles is en bly ewig niks!’
[12] Daarna sê die owerste aan my: ‘Soos wat julle nou self sien, is julle met die hulp van die Allerhoogste baie goed versorg. Ek sal julle nou alleen laat, maar môre teen die eerste oggendskemering is ek weer by julle; dan sal ek julle hier in die groot, oop tempel van die Allerhoogste die regte onderrig gee! En julle sal dan dit wat julle van my gehoor het, ook aan julle metgeselle deurgee! Laat dit nou met julle almal goed gaan onder die beskerming van die Allerhoogste!’
[13] Met hierdie woorde keer hy na die stad terug. Hy moes geruime tyd lank al in groot aansien gestaan het by die Egiptiese volk, want elkeen wat hom teëkom, buig diep voor hom. Maar hy maak asof hy niks merk van al daardie eerbetoon nie en gaan, asof diep in gedagtes versonke, vinnig regstreeks huis toe.
[14] Toe die son onder gegaan het, kom daar weldra baie kyklustiges uit die stad, maar niemand waag dit verder as twintig treë op die berugte slangweiveld nie. Verskeie roep ons toe om van die weiveld af weg te gaan omdat ons andersins onvermydelik baie skade sou ly. Maar die wag druk die nuuskieriges terug en verduidelik aan hulle dat daar nêrens meer gevaar aanwesig is nie, omdat deur ons geheime krag al die giftige ongediertes lankal oor die Nyl geswem het.
[15] Toe gaan die nuuskieriges gou terug en ons versorg ons kuddes, wat ons vir hierdie aand soveel goeie en voedsame melk gee dat ons dit nie heeltemal kon opdrink nie. Ons vra die wagte of hulle ook melk drink. Hulle beaam dit met vreugde en ons gee hulle soveel melk te drink dat hulle nie in staat was om nog meer daarvan te drink nie. Die res, wat nog aansienlik was, gooi ons in vate wat ons saamgeneem het om kaas daarvan te maak.
[16] `n Jaar lank bly ons daar woon en ons het van die goeie owerste uiters baie geleer, by name oor die ware kennis van die Allerhoogste, Goddelike Wese. Met die grootste vriendelikheid laat die mense ons na `n jaar weer gaan en ons trek opgeruimd na ons land terug.
[17] Spoedig daarna kry ek my visioene. Ek stel dadelik `n karavaan saam en wou eintlik maar net na Memphis gaan om die owerste van die visioen te vertel. Dié het egter al van U gehoor, baie Verhewene en verwys my eintlik hiernatoe. Hy wys my die baie lang pad tot by Alexandrië en vertrou my toe aan `n kundige skipper om my hierheen te laat bring. Hy gee my ook `n tolk mee, wat ek egter nie hiernatoe saambring nie.
[18] Nou weet U, mees verhewe Mens van alle mense, hoe ek aan my geringe wysheid gekom het en sê U my nou ook eers met sekerheid of ek op die regte plek is, of dat ek nog verder moet trek! Want lank kan ek nie bly nie, omdat my pad na ons vaderland baie lank is."
|
|
|
|
|