Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 109

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Verlossing, wedergeboorte en openbaring

109 Niemand was om redes wat maklik verstaanbaar is, op hierdie uitleg voorbereid gewees nie, en deur alle aanwesiges gaan daar `n gevoel van verbasing en verwondering, wat net soos My uitleg met niks te vergelyk is nie.

[2] Baie slaan hulself op die bors en roep met verheffing van stem: "Heer, Heer, Heer, dood ons, want ons staan hier as erge, growwe, sondige mense voor U, en dit alles deur ons eie bewuste en onbewuste skuld! U alleen is goed en gewyd, al die ander wat egter `n stoflike omhulsel het, is sleg en doemwaardig. O Heer, hoe lank sal ons in ons eie materie bly rondloop? Wanneer sal ons van die ou vloek verlos word?"

[3] Ek sê: "Juis nou, noudat Ekself alle materie seën deurdat Ek Myself in julle ou vloek gehul het en dit daardeur die seën gebring het! Die hele ou orde van die hemele hou op, en ook die hemele hou op, en nou word op die fondament van die materie wat nou deur My geseën word, `n nuwe orde en `n nuwe hemel gemaak, en die hele skepping moet, net soos hierdie aarde, opnuut ingerig word.

[4] Volgens die ou orde kon niemand wat eers in materie gehul was, in die hemele kom nie; maar van nou af aan sal niemand werklik tot My in die hoogste en suiwerste hemel kan kom wat nie, soos Ek, die weg van die materie en van die vlees deurloop het nie.

[5] Elkeen wat van nou af aan in My Naam gedoop word met die lewende water van My liefde, en met die gees van My leer, en in die krag en die daad van My Naam, is vir ewig verlos van die ou erfsonde, en sy liggaam sal daardeur nie langer `n ou, moordkuil van sonde wees nie, maar `n tempel van die Heilige Gees.

[6] Maar laat elkeen oppas dat hy hierdie tempel nie opnuut verontreinig deur die ou, giftige onkruid van eieliefde nie! Neem julle veral dáárvoor in ag, dan sal julle ook julle vlees en bloed heilig; en as die rein gees in julle die alleenheerskappy verkry, sal in hom en deur hom nie alleen die siel nie, maar ook die liggaamlike vlees en bloed met huid en haar opstaan tot die volmaakte, ewige lewe!

[7] Kyk wat `n verskil daar is tussen vroeër en nou! Maar soos wat dit nou ingestel word, sal dit ook in ewigheid bly.

[8] Die son, wat voorheen vol vloek was, sal van nou af aan vol seën wees, en eweneens alles wat daar maar in die oneindige ruimte bestaan, van watter aard ookal! Want soos wat Ek julle gesê het, maak Ek nou alles nuut (2 Petrus 3:13) en alle ou toestande moet verander word, omdat Ek Myself verander het deur Myself te beklee met materie.

[9] Maar Ek voeg die volgende daaraan toe: ‘Vir diegene wat nie glo nie, en nie in en deur My Naam en My Woord gedoop word met water en gees nie, sal alles dieselfde bly! Diesulkes sal in die ewigheid nie in My ryk kom en My aanskou nie, maar hulle sal aan die buitenste grense van My ryk bly, waar baie duisternis en nag sal wees, en baie gehuil en gekners van tande. En die suiwere lewenslig van die hemel sal hulle slegs bereik soos wat die lig van `n klein vaste ster tot hierdie aarde deurdring, en hulle sal van My ware lewenshemele eweveel weet as die mense hier nou van die uiterlike van die vaste sterre, en wat daarin is. En ook al dink die mense dag en nag gedurende duisend maal duisend eeue daaroor na wat die glansende punte daar bo is, dan sal hulle na hierdie lang tydsduur eweveel weet as nou. Wel sal daar in die loop van die tyd mense kom wat apparate sal uitvind om ver verwyderde voorwerpe so te kan sien asof hulle vlakby staan; maar met die vaste sterre sal hulle dit nooit bereik nie omdat hulle veels te ver van die aarde af is.’

[10] Net so sal ook die heidene, wat nie glo en nie gedoop is nie, in die hiernamaals in hul beste sfeer hulle op so `n plek bevind dat hulle van heel ver af My hemele sal sien en daaroor sal oordeel soos wat die mense tans oordeel wanneer hulle na die aardse sterrehemel kyk. Hulle sal na duisend jaar wel iets meer weet as nou en hulle sal in elk geval ontdek dat dit almal sonne is; maar wat `n son is, hoe hy skyn, hoe groot hy is en hoe ver verwyderd, hoeveel planete daarom wentel en hoe dit daarmee gesteld is, watter bewoners hy dra, watter sedes, tale en gebruike daar voorkom - dit sal hulle nie met hulle verstand ontdek nie!

[11] En as julle, wat nou baie weet, dit vir hulle moontlik sou sê, sou hulle julle tog nie glo nie, want `n suiwer wêreldse verstand soos wat dit nou eenmaal by baie heidene rotsvas aanwesig is, glo niks wat nie sigbaar en tasbaar is nie.

[12] Ja, Ek sal in die toekomstige tye ook hier en daar by die ware gelowiges in My Naam manne en maagde opwek aan wie alle geheime van die hemele en die wêrelde deur My ontsluit sal word vanweë hul liefdevolle hart (Hand. 2:17; Joël 3:1); maar dit sal maar min wees wat dit as `n onomstootlike waarheid sal aanneem!

[13] Hulle egter wat so `n openbaring ontvang, sal waarneem en baie vreugde beleef, en die Naam die Een loof en prys wat so volkome waaragtig en oortuigend dié dinge aan hulle geopenbaar het waartoe anders geen menslike verstand ooit kan deurdring nie.

[14] Ja, eendag sal daar op hierdie aarde selfs nog mense wees voor wie se oë die hele skepping soos `n verborge geskrif van God uitgerol sal wees; maar niemand wat nie eers in My Naam geglo het en daarin gedoop is, sal so `n barmhartigheid ontvang nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205