|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 201
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Skenking van die skatte aan Cyrenius
201 Effens van die eerste skrik herstel, buk die Moor af en tel die taamlike groot klont op en plaas dit op die tafel, verwyder die riet en die linne en gou lê die goudklont oop en bloot op die tafel; en baie kom nader en bekyk hierdie groot skat. Ook ons Judas Iskariot kan sy nuuskierigheid nie bedwing nie, bekyk die skat en vind dit heimlik baie jammer dat hy nie die besitter daarvan was nie.
[2] Toe die skat voldoende bekyk en bewonder was, vra die Moor aan die engel, aan wie hy nou paslik hierdie klont kon skenk, omdat hy dit tog nie meer op die lang weg na sy huis wou dra nie.
[3] En die engel wys na Cyrenius en sê: "Kyk daar, aan die regterhand van die Heer sit die opperstadhouer (oppergoewerneur) van Rome! Hy gebied oor Asië en `n groot deel van Afrika; die hele Egipte val onder hom en dus ook die owerste van Memphis! Gee hierdie skat aan hom! En Oubratouvishar, ook jy kan die steen eerder aan hierdie opperstadhouer oorhandig as aan die owerste in Memphis, wat weinig of niks omgee vir so `n skat nie! - Maar dit is maar net advies van my, jy kan doen wat jy wil!"
[4] Die aanvoerder sê: "Jou wyse raad is vir my al `n gebod waarvoor ek my lewe sou gee, omdat jy my maar net die mees wyse en beste raad kan gee!"
[5] Toe staan beide op - die twyfelaar met sy goudklont en die aanvoerder met sy groot diamant - en gaan daarmee na Cyrenius.
[6] Daar aangekom sê die aanvoerder: "Ek het voorheen nie geweet wie u was nie. Ek het ook na niemand anders gevra as maar net na die Heer nie, omdat ek gedink het: “Daar kan maar net één Heer en Gebieder wees, alle ander is Sy knegte en dienaars!” Maar nou eers het die stralende blanke, wonderbaarlike jongman my vertel, dat u, in `n aardse sin, ook `n groot meester en gebieder is, en daarom het ek na aanleiding van daardie wyse raad van die lieflike, wonderlike jongman, tesame met my metgesel uit vrye wil, besluit om hierdie skatte wat op so `n wonderbaarlike wyse hierheen gebring is, aan u te skenk vir gebruik, in ruil waarvoor ons dan graag `n paar van die hoognodige, mees bruikbare stukke huishoudelike gereedskap van u af wil ontvang, sodat ook ons daarmee ons huise kan inrig vir die vervaardiging van brood wat so goed is en so lekker smaak.
[7] Ons hak- en snygereedskap is sleg en word gou stomp, want hulle is baie moeisaam uit hout en beendere van diere gemaak. In Memphis het ons egter allerlei snywerktuie leer ken wat nie eers op steen so maklik stomp word nie - en sulke werktuie sou ons baie beter kan gebruik as ons geelglansende metaal, wat sag en onbruikbaar is! - Neem daarom hierdie twee stukke in welwillendheid aan!"
[8] Cyrenius sê: "Goed, vriende, ek neem van julle die twee buitengewone waardevolle stukke aan; maar nie vir myself nie, maar vir die verarmde Galilese volk, wat al `n behoorlike belastingagterstand by Rome het! Met hierdie twee stukke is alle belasting van dié land aan Rome vir tien agtereenvolgende jare vooruit betaal en gedurende hierdie tyd kan die land tot verhaal kom.
[9] As julle weer na julle huise toe teruggaan, sal ek daarvoor sorg dat genoeg van allerlei hoognodige en goed bruikbare werktuie en stukke gereedskap vir julle saamgegee word en as julle julleself vrywillig onder Romeinse beskerming wil stel, dan sal julle elke jaar nuwe werktuie en gereedskap kry! Andersins sou julle minstens elke jaar in Memphis, natuurlik in ruil vir sulke metaal, self daarvoor moet sorg!"
[10] Die aanvoerder sê: "Om dit te beslis sou daar eers `n algemene volksraad gehou moet word, wat by ons altyd baie moeilik is, want ons land is baie uitgestrek en die bewoners woon in baie uithoeke wat dikwels totaal ontoeganklik is, wat dit baie moeilik maak om `n volksraad byeen te roep. Dit sal daarom beter wees om dit wat ons die meeste nodig het, van tyd tot tyd in Memphis te kry.
[11] U Romeinse wette mag wel baie goed wees, maar hulle sou vir ons land en volk tog nie geskik wees nie. Ook die owerste in Memphis het ons al so `n aanbod gemaak, wat ons egter net so min kan aanvaar as u voorstel van nou. Ook al sou u ons land kan binnedring, dan sou u weinig daaraan hê! U sou daar in die gloeiend warm woestyn ronddwaal en honderde van u mense sal versmag en tog sal u geen mense nie, maar wel honderde troppe leeus, panters en tiers aantref, wat u sou verskeur het; ook sal u die stryd met slange en adders nie oorleef nie!"
[12] Cyrenius sê: "Hoe red julle julleself dan met soveel verskeurende diere? Doen hulle julle dan werklik in alle erns geen kwaad aan nie?"
[13] Die aanvoerder sê: "U het tog juis nou net uit die mond van die jongman en uit die mees heilige mond van die Heer Self gehoor hoe dit daar met ons uitsien! Hoe kan u desondanks dit dan nog vir my vra? Dit is soos wat die Heer Self oor ons vertel het; maar die hoe, waardeur en waarom, - weet ons self nie! Daarom vra ek u om my sulke vrae te bespaar; want aan die antwoord daarop sal u niks wyser word nie!"
[14] Daarop maak beide `n diep buiging voor ons en gaan dadelik weer na hul metgeselle terug en vertel wat hulle alles by My gedoen het.
|
|
|
|
|