|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 55
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Zorel se blik in die skepping
55 Nadat My uitleg aan Cyrenius beëindig is, begin Zorel, wat gedurende al dié tyd so stil soos `n dooie daar gelê het, homself te beweeg en kry so `n bo-aardse uitdrukking op sy gesig dat sy uiterlike selfs die aanwesige Romeinse soldate baie eerbied inboesem en een van hulle sê: "Die man sien daar uit soos `n slapende god!"
[2] Ook Cyrenius sê: "Waarlik, `n onbeskryflik verhewe mensbeeld!"
[3] Ten slotte open Zorel sy mond en sê: "So staan nou die een in sy volmaakte wese voor God, wat Hom nou eers herken het, liefhet en aanbid!" - Daarop volg `n pouse.
[4] Daarna praat Zorel verder en sê: "My hele wese is nou lig en ek sien geen skadu nie, nóg in my nóg buite my. Want ook om my heen is alles lig. Binne hierdie alom aanwesige lig sien ek egter nog `n mees heilige lig; dit straal soos `n baie kragtige son, en daarin is die Heer!
[5] Eers dag ek van my vriend en gids dat hy slegs `n mensesiel is soos wat ons is, maar in my vorige toestand het ek alles nog nie gesien soos wat dit werklik is nie. Nou eers herken ek die Gids! Hy is nou nie meer by my nie, maar in die son sien ek Hom, wat nog gewyder as gewyd is! Oneindige skares volmaakte liggeeste sweef aan alle kante om hierdie son, in kleinere, grotere en baie groot sirkels. Hoe oneindig majestueus sien dit daar uit! O mense! Om God te sien en Hom bo alles lief te hê is die hoogste genot, die hoogste saligheid!
[6] Maar ek sien nou nie net alle hemele nie, maar my blik dring nou ook deur in die diepte van die skeppings van die Almagtige, Een, groot God. Ek sien ons skraal aarde deur en deur en ek sien alle eilande en vastelande op die hele aarde. Ek sien die bodem van die seë en alles wat daaronder is en bestaan, al die baie skepsele in die see, van die kleinste tot die grootste. Wat `n oneindige verskeidenheid is daar tog nie!
[7] Ek sien ook hoe die gras gevorm word deur allerlei kleine geeste, wat baie haastig en ywerig is. Ek sien hoe die wil van die Almagtige hulle aanspoor om ywerig te wees en ek sien van elk van die tallose, kleine geeste die doel en die taak wat presies afgemeet is. Soos wat die bye aan hulle wasselle werk, so werk die klein gesies aan en in die bome en struike, grasse en plante. Dit alles doen hulle wanneer hulle gegryp en deurdring word deur die wil van die Een wat my Vriend en Gids was op die smal en doringagtige pad van my selfbeproewing van die lewe tot hiertoe, en wat nou in die onbereikbare son, in Sy oergewyde lig woon en Sy wil in alle oneindighede laat uitstroom.
[8] Ja, Hy alleen is JaHWeH, niemand is aan Hom gelyk nie! Groot en klein moet hulleself voeg volgens Sy wil. Daar is niks in die hele oneindigheid wat homself teen Hom sou kon verset nie. Sy mag gaan alles te bowe en Sy Wysheid is onnaspeurlik. Al die bestaande is uit Hom en daar is niks in die eindelose ruimte van Sy skeppings wat nie uit Hom sou ontstaan het nie.
[9] Ek sien die kragte Hom verlaat, soos wat mens smôrens die strale van die opgaande son vinniger as weerlig na alle kante sien skiet, en waar `n straal iets raak en omvat, word iets wakker gemaak, dit begin lewe en beweeg en weldra duik nuwe vorme en nuwe gestaltes op. Maar die menslike vorm is die grens- en sluitsteen van alle vorme, en sy gestalte is `n egte, hemelse gestalte; want die hele hemel, waarvan God alleen die grense ken, is ook `n mens, en elke vereniging van engele is ewe-eens `n algeheel volmaakte mens.
[10] Dit is `n groot geheim van God, en wie nie op die plek staan waar ek nou staan nie, sal dit onmoontlik glo en verstaan. Slegs die suiwerste gees uit God in die mens kan glo en verstaan en sien wat tot die gees behoort, en wat hy in hom het en wat buite hom is, en hoe dit bestaan en ontstaan, en waarom en waarvoor! Daar is niks in die oneindigheid wat nie vir die mens bestem is nie; alles is gerig op die mens en sy behoeftes in alle tye en onder alle omstandighede."
|
|
|
|
|