|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 81
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Oor die ware gee, wat vir God welgevallig is
81 (Die Heer:) "Hierdie terrein behels die suiwere begrip ten aansien van myn en dyn (myne en joune). Moses sê: 'Jy mag nie steel nie!' en ook: 'Jy mag niks begeer wat van jou naaste is nie, behalwe wat strook met dit wat regverdig is!'
[2] Jy kan wel op opregte wyse iets van jou naaste koop en dit daarna regmatig en volgens almal se mening eerlik besit; maar as jy iemand iets heimlik teen sy wil afneem, is dit `n sonde teen die Wet van God wat deur Moses aan die mense gegee was, omdat so `n handelswyse duidelik in stryd is met alle naasteliefde. Want wat vir jou regsgevoel onaangenaam moet wees wanneer `n ander jou dit aandoen of aan sou doen, dit moet jy ook jou naaste nie aandoen nie!!
[3] Diefstal het meestal sy oorsprong in eieliefde, omdat traagheid, die verlange na `n goeie, luukse lewe en niksdoen daaruit voortkom. Dit veroorsaak `n sekere moedeloosheid wat omgewe word deur `n hoogmoedige vrees, waardeur `n mens weliswaar nie daartoe oorgaan om iets te vra nie, wat maar lastig is, maar eerder heimlik gaan steel en ontvreem. Die diefstal vind dus sy oorsprong in `n aantal gebreke, waarby die hoog ontwikkelde eieliefde die duidelikste oorsaak van al die ander is. Deur `n egte, lewende naasteliefde kan `n mens hierdie kwaal van die siel al te maklik te lyf gaan.
[4] Verstaanbaar sê jou verstand nou vir jou: 'Die beoefening van naasteliefde sou maklik gewees het as jy reeds die middele daarvoor sou besit het! Uit honderd mense was daar egter maar altyd net `n stuk of tien wat so welgesteld was dat hulle hierdie glansryke deugde kon beoefen; die ander negentig het meestal tot hulle behoort op wie hierdie deugde deur die tien rykes toegepas moes word. As `n mens egter slegs deur die uitoefening van die naasteliefde die kwaad van die diefstal die beste kan bestry, dan sal die negentig armes hulleself wel baie moeilik daarvan kan vrywaar; want hulle kort die middele om hierdie deugde so kragdadig as moontlik te beoefen.'
[5] Verstandelik gesien het jy korrek gedink en niemand kan met sy wêreldse verstand iets daarteen inbring nie. Maar die verstand van jou hart spreek `n ander taal, naamlik: "Nie deur slegs gifte word die werke van die naasteliefde beoefen nie, maar veeleer deur allerlei goeie dade en eerlike en opregte hulp, waarby dit natuurlik nie aan goeie wil mag ontbreek nie.
[6] Want goeie wil is die siel en die lewe van `n goeie daad; waar dit kortkom, het selfs die beste werk heeltemal geen waarde vir die regterstoel van God nie. As jy egter ook sonder enige middel die lewende, goeie wil het om jou naaste op die een of ander wyse te help wanneer jy hom in `n bepaalde nood sien of aantref, en dit doen jou verdriet aan wanneer jy hom nie kan help nie, dan heg God aan die goeie wil van jou baie meer waarde as aan die werk van `n ander mens wat eers daartoe oorgehaal moet word om te help.
[7] En as iemand wat ryk is, en wat `n hele verarmde gemeente weer op die been gehelp het omdat die gemeente hom beloof het om, sodra hulle weer welvarend word, hom die tiende te gee en bepaalde dienste te verleen, dan is sy algehele goeie werk vir God niks werd nie, want hy het sy loon alreeds opgeëis. Wat hy gedoen het, sou ook elke woekersugtige vrek terwille van die voordeel gedoen het.
[8] Hieraan sien jy dat vir God en ten gunste van die eie innerlike, geestelike lewe, elke mens, of hy nou ryk of arm is, die naasteliefde kan beoefen. Dit kom slegs neer op `n waaragtige lewende, goeie wil waarmee elkeen graag en vol toewyding doen wat hy maar kan doen.
[9] Natuurlik het die goeie wil as sodanig ook geen waarde as jy `n bepaalde vermoë sou besit en dit jou ook aan die goeie wil sou ontbreek, maar as jy daarby tog met die oog op jouself, jou kinders, jou verwante en nog heelwat ander sake bepaalde oorwegings sou laat geld, en jy diegene wat behoeftig voor jou staan, hetsy maar `n klein bietjie of miskien selfs heeltemal gladnie sou help nie, met die gedagte dat jy nooit kan weet of die hulpsoeker tog nie `n lui bedelaar is wat die gevraagde hulp nie waardig is nie. So sou `n mens maar net `n bedelaar steun in sy luiheid en daardeur aan iemand wat dit meer werd was, jou hulp onttrek! Maar as daar dan iemand kom wat dit meer werd is, is daar weer dieselfde bedenking; want mens kan immers nie met volkome sekerheid weet of hy dit geheel en al werd is nie!
[10] Ja, vriend, wie hom by die bewys van weldade, ook al is dit met die beste wil van die wêreld, afvra, wat hy sal doen belangrik is of nie, die se goeie wil is en het nog lank nie die ware lewe nie, daarom het nog sy goeie wil, nog sy goeie dade `n besondere waarde vir God. By iemand wat die geld daarvoor het, moet wil en daad gelyk wees, anders ontneem die één aan die ander die waarde en die lewensgeldigheid vir God.
[11] Wat jy doen of gee, doen en gee dit met baie vreugde, want `n vriendelike gewer en helper het `n dubbele waarde vir God en is ook dubbel so naby die geestelike volkomenheid!
[12] Want die hart van die vriendelike gewer lyk soos `n vrug wat maklik en gou ryp word omdat hy `n oorvloed aan egte warmte in homself het, wat hoogs noodsaaklik is vir die rypwording van `n vrug omdat in die warmte die ooreenkomstige lewenselement, die liefde, heers.
[13] So is die vreugde en vriendelikheid van die gewer en helper juis die oorvloed aan egte, innerlike, geestelike lewenswarmte, wat nie genoeg aanbeveel kan word nie. Daardeur word die siel haas tweemaal so gou ryp vir die volledige opname van die gees in haar algehele wese, en dit moet ook so wees omdat juis hierdie warmte `n oorgang is van die ewige gees in die siel, wat daardeur steeds meer na die gees gaan lyk.
[14] Maar `n gewer en weldoener is, ook al is hy hoe aktief, veels te ver verwyder van die doel van die ware innerlike, geestelike lewensvervolmaking namate hy suurder en onvriendeliker word by die gee en die hulp wat hy verleen. Want die onvriendelike en suur gedrag by die gee bevat nog materiële, wêreldse elemente en is daarom baie verder verwyderd van die suiwer hemelse element as blymoedigheid en vriendelike gedrag.
[15] Daarom moet jy by die gee en hulp ook geen ernstige en dikwels bitter vermanings gee nie, want dit veroorsaak by die arm broer dikwels baie droefheid wat maak dat hy in sy hart sterk daarna gaan verlang om van die weldoener, wat hom steeds so ernstig vermaan, tog maar niks meer verder aan te neem nie. Die weldoener self word deur die paslike vermaning egter dikwels ietwat trots, en diegene wat die weldade aanvaar, voel hulle daardeur teveel verneder en voel dan eers goed hoe groot sy nood naas die welstand van die weldoener is, en dit maak dan dat die neem baie moeiliker word as die gee.
[16] Wie geld en `n goeie wil het, kan maklik gee. Maar die arm ontvanger sien daarteen op om ook by die vriendelikste gewer, deur armoede gedwing om die weldoener, ook al is hy hoe vriendelik, te moet lastig val. Hoe swaar moet dit hom dan nie geval as die weldoener hom met `n stuurs gesig tegemoet kom en hom, vooruitlopend op die weldaad, `n aantal wyse lesse gee, en as hy later as hy in die nood is, vir die ander wat om hulp vra, pynlike hinderpale word om nog eens aan die deur van die boeteprediker te kom vra. Die tweede maal verwag hy naamlik `n nog wyser, langer en dus indringender preek, wat volgens sy begrippe moontlikerwys soveel sê as: 'Kom nie so dikwels by my aan nie - of ook nooit meer terug nie!', hoewel die gewer beslis in die verste verte nie en nooit daaraan sou gedink het nie.
[17] Die rede waarom `n blymoedige en vriendelike gewer soveel voor is as `n stuurse boeteprediker, is dat hy die hart van die ontvanger troos en verhef en dankbaar stem. Ook word die ontvanger daardeur met `n liefdevolle en vrugbare vertroue tot God en die mense vervul, en sy andersins swaar juk word hom tot `n ligter las gemaak, wat hy dan met meer geduld en oorgawe dra as tevore.
[18] `n Blymoedige en vriendelike weldoener is vir `n arm, noodlydende broer dieselfde as `n sekere en veilige hawe vir `n skipper op die stormagtige see. Maar `n stuurse weldoener in die nood lyk net soos `n baai, wat minder te ly het van die storm en wat die skipper wel vrywaar van `n algehele stranding, maar wat hom tewens voortdurend angstig in spanning laat sit of daar nie na die storm, soos wat dit dikwels gebeur, `n enorme, vernietigende springvloed die baai sal oorval, wat hom dan groot skade sou berokken soos tevore toe die storm op die vol see was.
[19] Nou weet jy ook alles wat God wil met betrekking tot die ware en geestelike voltooiing van `n naasteliefde wat maklik en gou uitgevoer kan word. Handel hiervolgens, dan sal julle ook maklik en so gou moontlik die enigste ware lewensdoel bereik het!"
|
|
|
|
|