|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 65
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Zorel se verontskuldiging
65 Zorel staan heeltemal ontsteld en verbysterd daaroor, en eers na `n betreklike lang swye sê hy: "Vriend, jy kan van my aanneem dat, as ek toe sou besef en geweet het wat ek nou weet, ek enigiets anders sou gedoen het as om slawehandel te bedryf! Ek is `n staatsburger van Rome en na my wete het geen wet ooit slawehandel verbied nie. Dit is en was van oudsher af toegestaan, en wat honderde wettig mag doen, sou ek dit dan nie mag nie? Selfs Judeërs mag kinders koop, veral as hulle kinderloos is, waarom dan nie ander beskaafde volke nie, waartoe die Egiptenare tog sonder enige twyfel reeds sedert menseheugenis behoort, eweas die Perse?! Mens verkoop dus die meisies nie aan `n wilde en ruwe volk nie, maar aan `n in elke opsig mees beskaafde van die nou bekende groot aarde, sodat `n mens volkome tereg kon verwag het dat die lot van sulke kinders, wat tuis `n treurige bestaan gehad het, nie daardeur sou vererger nie, maar slegs sigbaar sou verbeter het!
[2] Gaan maar eers na die gebied van Klein-Asië, dan sal jy daar sulke massas mense en veral kinders aantref dat jy, as `n baie wyse mens, jou uiteindelik tog sou moes begin afvra hoe hierdie mense hulle moet voed en onderhou sonder om mekaar op te eet! Ek kan jou verseker dat ek elke keer wat ek in die streke van Klein-Asië gekom het, gewoonweg met kinders bestorm was deur die bewoners. Vir `n paar brode kry ek meisies en ook jong seuns te kus en te keur. Die kinders hardloop juigend na my toe en wil glad nie weer van my af weggaan nie. As ek daar `n honderd koop, kry ek nog veertig tot vyftig meisies ekstra. Die Essene koop baie daarvan, haas al die jong seuns, ongeag die leeftyd; ook meisies koop hulle herhaaldelik. Die Egiptenare koop slegs die reeds meer volwasse meisies, ten dele vir die werk, ten dele waarskynlik ook vir hulle plesier. Daar sal maklik enkele geil bokke by gewees het wat sy slavin uit wellus gepynig het, maar daarvan sal daar tog nie baie wees nie.
[3] Na Persië het daar na my wete nie baie gegaan nie, en hulle was merendeels deur Persiese koopliede en allerlei kunstenaars opgekoop, waar hulle na my wete vir allerlei nuttige en goeie werk gebruik word. Bowendien bestaan daar in Persië reeds lank `n wyse wet waardeur alle slawe en slavinne na tien jaar, as hulle hulleself goed gedra het, die volledige vryheid kan kry en daarna kan doen wat hulle wil. Hulle kan daar bly, self `n beroep kies of ook huis toe terugkeer. Dus, die na die Persië verkooptes kan werklik oor weinig ongeluk praat! Wel, dat dit juis in Egipte nie so goed met sommiges sou gegaan het nie, wil ek glad nie bestry nie, maar as ons na hulle vaderland toe gaan, sal ons baie daar aantref met wie dit as vry mens beslis geen haar beter gaan as die ongelukkiges in Egipte nie! Want in die eerste plek het hulle byna niks te ete nie, sodat baie hulle voed met rou wortels wat hulle in die bosse soek, en baie is daar wat somer en winter, by gebrek aan enige kleding, heeltemal naak rondtrek en bedel, steel en waarsê. Sommiges van hulle weet om deur te bedel of steel `n paar flenterlappe te bekom; vir die meeste geluk dit nie en hulle trek daarom heeltemal naak rond, altyd met `n troep kinders by hulle.
[4] Van hierdie rondtrekkendes het ek en my kamerade dan ook altyd die grootste aantal van die oortollige kinders opgekoop en hulle op hierdie manier gehelp. Die vaste Pontus bewoners noem hulle 'Zagani', wat dieselfde beteken as 'die verdrewenes'. Dit wemel daar van hierdie mense; groot hordes trek daar rond en het nóg huis nóg haard. Hole, gate in die grond en hol bome is gewoonlik hulle woning. Nou vra ek jou of `n mens hierdie mense nie reeds `n groot weldaad bewys deur hulle kinders vir niks oor te neem en hulle enigsins te versorg, laat staan wanneer mens hulle van die naakte en uitgehongerde ouers vir baargeld, kleding en brood afkoop?
[5] As jy volgens my manier van dink wat tot nou toe gegeld het, met mekaar vergelyk hoe enige van hierdie mense vroeër ellendige slawe van die grootste armoede was en later deur my toedoen goed versorgde slawe van mense geword het, dan sal jy maklik kan sien dat die ongeluk, wat ek volgens jou uiteensetting hierdie mense aangedoen het, nie so enorm groot is as wat jy dit vir jou voorgestel het nie. Maar ook dít sou ek hulle nie aangedoen het as ek voorheen so sou gedink het soos nou nie.
[6] Origens sê ek vir jou in vertroue, hoewel ek verbaas is oor jou vrome en godgewyde wysheid, dat dit van `n algoeie God, as Hy ook maar enigsins in die lot van die mens sou ingryp, dit tog ook wel ietwat vreemd is om so`n groot aantal welgevormde mense soos wilde diere op aarde te laat rondkruip! `n Almagtige God sou tog gewis soveel kon doen dat sulke mense `n beter onderdak op die liewe aarde sou gevind het!
[7] Dit is tog vir `n denkende mens `n bietjie vreemd wanneer hy honderdduisende origens welgevormde mense uitermate onversorg, hongerig en naak sien rondtrek en hulle selfs met die beste wil ter wêreld nie kan help nie! Is dit dan `n wonder, vriend, as `n mens by die aanblik van dié mense `n bietjie aan die bestaan van `n alwyse en baie goeie God begin te twyfel?! En my vroeëre opmerking oor `n wet wat te nadruklik die eiendom beskerm, sou by die aanblik van soveel ellende tog gewis nie van alle grond ontbloot kan wees nie!
[8] Vriend, nou ken jy my verantwoording en regverdiging ten opsigte van die jou grootste verwyt aan my. Doen nou wat jy wil, maar vergeet nie dat daar `n Zorel, wat die wêreld baie goed ken, met gespanne boog voor jou staan en ondanks die flenters wat hom nou bedek, vir geen enkele wysheid te erg terugdeins nie! Maar verskaf my nou beter redes vir die feit dat alles wat bestaan volgens God se Wysheid so moet wees soos wat dit is, dan sal ek verlig asemhaal en jou baie dankbaar wees! Want jy moet net so goed soos ek kan insien dat daar, menslik beskou, op aarde baie onnodige ellende heers met daarnaas dikwels enkele mense wat in groot welstand lewe! Waarom het die een nou juis alles - en honderdduisende naas hom niks nie? Kortom, lê eers vir my die ellende uit van al die Zagane in Klein-Asië! Wie is hulle, waar kom hulle vandaan, en waarom moet hulle in so `n ewige nood smag?"
|
|
|
|
|