|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 62
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Oor die korrekte beskerming van eiendom
62 (Die Heer:) "As ekskuus voer jy hier weliswaar jou armoede en die van baie ander mense aan, en wil jy vir jouself ten opsigte van die goddelike wet ter beskerming van eiendom, voldoende geregtig wees om in noodgevalle van honger en dors, in weerwil van die genoemde wet, voldoende te mag neem om jou te versadig. Ek kan jou uit betroubare bron meedeel dat JaHWeH, toe Hy deur Moses aan die Israelitiese volk die wette gegee het, wel rekening gehou het met hierdie behoefte en dit die mense eweneens as `n formele wet ingeprent het deur te sê: ‘Die donkie wat op jou landerye werk, sal jy nie verhinder om self sy ete te soek nie,en die os wat die ploeg trek, sal jy die bek nie toebind nie!’ Wanneer jy die gebinde gerwe in jou skure bring, laat lê dan die are wat op die lande agterbly, sodat die armes kan versamel wat hulle nodig het! Laat elkeen altyd gereedstaan om die arme te help, en laat die een wat sê: 'Ek het honger!', nie verder trek alvorens hy genoeg geëet het nie!' Kyk, dit is óók `n wet van JaHWeH, en Ek vind dat daarin ook voldoende met armoede rekening gehou word.
[2] Dat nie elke mens wat op hierdie aarde gebore word, egter grondbesitter kan word en kan wees nie, lê wel duidelik in die aard van dinge. Die min eerste mense kon natuurlik maklik deel in die besit van die landerye, want die hele aarde was toe nog vry. Maar nou word die aarde, veral op haar vrugbare grond, bewoon deur `n hoeveelheid mense wat haas nie te tel is nie, en `n mens kan onder hulle tog die families, wat die aarde al sedert lank in die sweet van hulle aanskyn bewerk het en dit met baie lewensgevaar gesuiwer en vrugbaar gemaak het, die grondbesit wat aan hulle afgemeet is, nie meer betwis nie. `n Mens moet dit juis vanweë die algemene welsyn so kragtig moontlik beskerm, sodat die mense wat eens deur hulle vlyt die aardbodem geseën het, hulle deel nie kwytraak nie. Hulle het dit naamlik nie heeltemal alleen vir hulleself nie, maar daarbenewens nog vir honderd ander mense, wat geen grond en bodem kan besit nie, elke jaar moes bewerk.
[3] Wie `n groot stuk grond besit moet baie arbeiders hê, en hulle lewe almal, net soos die besitter, van dieselfde grond en bodem. Sou dit vir die arbeiders goed wees as `n mens elkeen van hulle `n ewe-groot stuk grond sou gee? Sou één mens dit wel kon bewerk? En ook al sou hy dit `n tyd lank kon doen - wat sou daar dan gebeur as hy siek en hulpbehoewend sou word? Is dit dan nie baie beter en verstandiger dat daar minder besit, opslagruimte en voorrade moet wees nie, as dat alle mense, ja selfs die pasgebore kinders, almal heilige grondbesitters sou wees, in welke geval uiteindelik, sekerlik in tye van nood, so goed as niemand voorraad sou hê nie?!
[4] Verder vra Ek jou matematiese verstand: As daar in die menslike samelewing geen wet tot eiendomsbeskerming sou wees nie, wat se gesig sou jy dan nie trek wanneer daar ander sou kom wat nooit baie sin gehad het om te werk nie, en jou klein voorraad sou wegneem om hulle buike mee te vul! Sou jy hulle dan nie toeskreeu nie: 'Waarom het julle dan nie gewerk en voorrade aangelê nie?’ En as hulle sou antwoord: 'Omdat ons geen sin daarin het nie, en weet dat ons bure werk'!, sou jy dan `n beskermende wet nie heel sinvol gevind het en gewens het dat sulke ligsinnige boosdoeners deur `n regbank gestraf sou word en uiteindelik aangespoor sou word om te dien en te werk nie, en sou jy verder nie wens dat die voorrade wat van jou af weggeneem is, weer teruggegee sou word nie? Kyk, ook dit is alles suiwer verstandelike, menslike verlangens!
[5] As jy egter jou matematiese beginsels tog met alle geweld as die beste in die wêreld beskou, loop dan vanaf hier duisend veldweë* gaande in `n oostelike rigting, daar sal jy in die hoë, uitgestrekte berge baie grond vind wat nog aan niemand behoort nie! Daar kan jy dadelik, heeltemal ongehinderd, grondstukke met `n omtrek van talle ure gaande in besit neem en geen mens sal jou die besit betwis nie. Jy mag selfs `n paar vroue en nog genoeg knegte saamneem en in dié vry afgeleë bergstreek `n egte staat inrig, en in geen duisend jaar sal `n mens jou besit versteur nie. Jy sal net eers heelwat bere, wolwe en hiëna's uit die weg moet ruim, omdat hulle julle andersins snags ietwat sou kon verontrus. Op dié manier sal jy ten minste die nie geringe moeilikhede geheel en al leer ken waarmee die besitters van hierdie gronde te kampe gehad het voordat die grond in die teenswoordige staat van ontwikkeling gebring kon word! As jy dit alles self sou probeer het, sou jy ook ingesien het hoe onregverdig dit sou wees om nou die besit van die oorspronklike besitters weg te neem ter wille van die trae en arbeidsku grypdiewe, en dit aan hulle te gee. (* `n veldweg is 120 m )
[6] Kyk, omdat jyself geen spesiale vriend van werk en nog minder van vra is nie, het die ou wet ter beskerming van eiendom jou altyd gesteur, en het jy die reg in eie hande geneem om te neem as dit ongesien en ongestraf moontlik is! Slegs die ongeveer twee morge groot lande en die hut het jy gekoop, alhoewel dit ook met geld gebeur wat jy nie met werk verdien het nie, maar in Sparta op `n sluwe manier van `n ryk koopman ontroof het. Wel, vroeër was steel in Sparta geoorloof as dit slim gedoen kon word, maar tans bestaan daar ook in Sparta al sedert baie jare dieselfde wette ter beskerming van eiendom as hier, en daarom het jy die koopman toe geheel en al onwettig besteel en hom `n paar pond goud ligter gemaak. Daarmee het jy hier as vlugteling die betrokke grond en die hut gekoop; maar alles anders wat jy besit, het jy in Césarea Philippi en omgewing bymekaar gesteel!
[7] Maar wee die een wat iets van jou sou gesteel het; dié sou jy die wet tot eiendomsbeskerming, wat jou so teen die bors stuit, op so `n manier ingeprent het dat `n Romeinse beulskneg hom nie daarvoor sou geskaam het nie! Of sou jy dit goedgevind het dat iemand, omdat hy `n arme drommel was, die ryp vrugte van jou landerye sou geoes het? Sien jy, wat jy nie goed sou vind nie, sal `n ander ook nie goed vind as jy met jou matematies ware en regte lewens- en opvoedingsbeginsels sy oes sou roof nie! Wanneer die praktyk nou uitwys wat Ek jou nou uitgelê het, beskou jy jou lewensbeginsels dan nou nog as die enigste ware en onaantasbare regte?"
[8] Zorel kyk baie bedremmeld hiervan op, omdat hy insien dat hy volkome skuldig bevind en verslaan is.
|
|
|
|
|