Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 61

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Materialistiese dwalings

61 Met hierdie woorde gaan die in vodde flenters gehulde Zorel van Zinka af weg, stap na My toe en sê: "Geëerde Heer en meester van die geneeskunde. Hierdie klere wat my armsalige liggaam bedek, bestaan uit erbarmlike vodde, maar dit bedek in elk geval die skaamte van `n mens wat dit werklik betreur om onder hierdie talle mense wat dit wil of moet wees, ook `n mens te wees! Ons lyk weliswaar na mekaar, die kleding nie ingereken nie, maar tussen ons bestaanswêrelde skyn `n hemelsbreë verskil te lê.

[2] Ek is `n mens wat goed bekend is daarmee dat twee en twee tesame nie sewe nie, maar vier is! Zinka sê vir my dat U die man is wat my meer kennis sou kon bybring as wat ek self my eie gemaak het en wat op my, ten minste onder my geloofsgenote, tog wel die stempel van menswees sal afdruk. Ek het my egter nooit daarop laat voorstaan nie, en sal dit nog minder doen as U my op`n ander wyse wou voorlig. Zinka vertel my dat alleen U daartoe in staat sal wees.

[3] U het my beginsels gehoor, wat beslis nie somaar uit die lug gegryp is nie. Jammer genoeg is hulle vir my `n te konkrete waarheid, maar as U my in die plek daarvan iets beter kan gee, moet U dit dan doen, dan laat ek dadelik en met graagte my hele waarheidsrommeltjie van ganser harte vaar! Ek weet weliswaar nie met watter eretitel ek U moet aanspreek nie - maar ek dink dat ook U `n man van die waarheid is, en vir sulke mense maak dit nie saak watter titel `n mens hulle gee nie. Ek noem U 'Geëerde Heer' en eer U as sodanig, hoewel ek U maar net van hoorsê ken. Voldoen U egter daadwerklik aan my verwagtinge, dan sal U deur my aanbid word!

[4] Sê my dan, as U dit geskik vind, in hoeverre my beginsels oor die waarheid goed of verkeerd is! Is ons nou meer of minder mens as die eerste met verstand begaafde wesens wat hierdie aarde bewoon het? Omdat die mense eens, ter beskerming van hulle besit, `n wet bedink het waarvan hulle sê dat God dit gegee het, mag ek daarom nou as arme sater, wat al dikwels drie dae lank geen hap te ete gehad het nie, en deur daarom te vra ook niks kon kry nie, nie van die oorvloed van `n ander mens voldoende neem om my van die hongerdood te bewaar nie? Elke erdwurm het tog wel die reg om hom met die besit van ander te versadig sonder om daarvoor te moet betaal, want hy is óók bewoner van hierdie aardbodem en moet dit helaas wees omdat die magtige natuur dit nou eenmaal so ingestel het. Of het `n mens miskien, omdat hy nie `n goeie stuk grond kon koop nie, minder reg om hom te versadig met die vrugte van die aarde wat vir hom geskik is as die voëls in die lug, wat tog almal uitgesproke diewe is? Ek vra u om my hierop `n goeie antwoord te gee!"

[5] Ek sê: "Vriend, solank jy jou menseregte gelykstel met dié van die diere, het jy volkome gelyk met jou prinsipiële, natuurlike regte, daarteen kan Ek beslis niks inbring nie, en elke wet wat in daardie geval die eiendom beskerm, of elke ander sedelike wet, is dwaas en belaglik! Hoe dom moet diegene wel wees wat aan die voëls in die lug, die diere op die aarde en die visse in die water, wette ter beskerming van hulle eiendom en ander sedelike voorskrifte sou wou gee. Elke mens wat met enige rede begaaf is, of ook selfs `n god, moet tog weet dat hierdie wesens hulle natuur as enigste wetgewer het! Jy het derhalwe heeltemal gelyk met jou opvattinge as `n mens niks anders is en te verwagte het as – `n willekeurige dier binne sy natuurlike omstandighede nie.

[6] Maar as die mens daar is of mag wees ter wille van een of ander hoër doel, wat baie goed denkbaar is, kan jou matematiese beginsels wel op `n baie swak en wankelende basis staan! Kennelik het dit egter tot op hede nog nie by jou opgekom nie, wat maar al te duidelik blyk uit jou wysheid, wat maar net bekommer is oor die eerste lewensbehoeftes.

[7] Dat elke mens egter vir `n hoër doel op hierdie aarde geplaas word, sou jy tog al kon sien aan die feit dat die mens as pasgebore wese ver agter staan by enige dier, en eers na `n aantal jare van goeie versorging mens begin te word. Hy moet hom aan bepaalde reëls begin hou en ten koste van baie moeite en eerlike stryd sy brood begin te verdien. Hy het dan ook wette gekry om dit as `n eerste wegwyser na `n hoër doel te beskou en uit eie vrye wil volg ter wille van verdere selfontwikkeling en selfbeskikking, wat `n voorwaarde vir hom is om uiteindelik sy hoë bestemming te bereik - maar nooit as dierlike mens nie, hoe skerp sy verstand ookal mag wees, maar as `n volmaak menslike mens.

[8] Solank jy jou maar net bekommer oor wat die vlees vra, sal jy dit as mens nie ver bring nie. Sodra jy egter sal ontdek dat binne-in jou nóg `n mens woon, wat heeltemal ander behoeftes het as jou liggaam en ook vir heeltemal iets anders bestem is, sal dit jou nooit moeilik beval om te onderskei hoeveel jy met jou beginsels maar net die los sand omwoel nie!

[9] Kyk, Ek ken jou wil, wat origens wel goed is, en jy soek na die waarheid en na die oorsaak van al die bose, waar die mensdom op aarde nou werklik tot oor die ore toe in sit! Omdat jy nog altyd baie plesier beleef het aan steel, het jou gedagtes die wet ter beskerming van eiendom en regmatige besit bestempel tot jou doos van Pandora; en omdat jy in jou jong jare tewens `n groot en genotsugtige vriend van die vroue was, het jy jou ook nooit gesteur aan `n morele wet wat die misbruik van die byslaap by jou en almal as sonde bestempel nie.

[10] Ja, as diermens het jy ook daarin volkome gelyk met jou beginsels, en ook dat daar daarom vóór alle ander wette `n eerste wet sou moes gewees het wat bepaal het dat alle kinders `n opvoeding sou moes kry wat hulle die maatskaplike orde só sou moes inprent dat dit vir hulle op manlike leeftyd finaal onmoontlik sou maak om ooit die een of ander wet te oortree, wat dan `n latere wetgewing natuurlik oorbodig sou maak.

[11] Ja, kyk, hierdie orde het die Skepper van die wêrelde en van alle wesens ook by die diere ingevoer! Elke dier kry reeds in die moederlyf jou gevraagde vooropvoeding netjies in sy hele natuurlike aard saam en hy het lateraan glad geen wet meer nodig nie, want hy bring deur die vooropvoeding in die moederlyf reeds alles met hom saam wat hy vir sy hele lewe nodig het! Maar Hy, wat die engelegeeste, die hemele, die wêrelde en die mense skep, weet baie goed wat daarvoor nodig is om die mens as `n vry mens en nie soos `n dier wat onder die oordeel val, te skep en daarvolgens op te voed.

[12] As jy jou matematies suiwere lewensbeginsels nog ietwat dieper ondersoek, sal jy weldra ook vind dat die taal vir die mense `n groot boosheid is, omdat die mense mekaar daardeur in alle slegte dinge en sake kan onderrig. Ook sou die leuen nooit onder die mense gekom het as hulle nie, hetsy deur tekens, hetsy deur woorde, kon praat nie. Ja, selfs die denke is gevaarlik, omdat die mense daardeur op allerlei slegtigheid en sluwe streke sou kon kom! Uiteindelik sou hulle ook nie duidelik mag sien, goed mag hoor, geen smaak mag hê en nie mag ruik nie, want `n helder en suiwer toestand van al hierdie sintuie sou die mense tog wel baie maklik begerig en belustig kon maak op iets wat toevalligergewys sleg sou wees! Kyk nou eers met jou matematiese beginsels na jou mens en vra jouself eers af of daar tussen hom en `n seekat, behalwe die uiterlike, enige verskil bestaan!

[13] Wat wil jy dan, gesien die hoë doel waarvoor elke mens geskape is, met so `n mens doen? Watter ontwikkeling sal jy hom kan gee? Wanneer sal so `n mens kom tot die kennis van homself en tot die kennis van die ware God, die Oergrond van alle dinge en al die lig en alle salighede? Bestudeer die liggaam van `n gesonde mens, bekyk en ondersoek dit noukeurig met jou kritiese verstand en jy sal vind dat `n liggaam wat so wys en buitengewoon kunstig saamgestel is, tog ook nog `n ander bestemming moet hê as maar net die daaglikse vul van sy buik, om vervolgens behoorlik bietjie afval te kan produseer!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205