|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 151
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Die sielstoestand van die twee verongeluktes in die hiernamaals
151 (Mathaël:) "Dit was die twee getuienisse wat ek meegemaak het. Wat daar verder met beide in die ryk van die geeste gebeur het, weet ek regtig nie; ook verstaan ek, ondanks U vroeëre uitleggings, sekerlik nog lank nie wat by die uit die boom gevalle seun die twee vlermuise, wat later saamgesmelt het tot `n aapgestalte, beteken nie, en hoe en waarom die siel van die selfmoordenaar ten slotte op die oppervlakte van die water vir my sigbaar geword het as `n geraamte van `n dooie, waar haas geen lewe in was nie. Waar het die tien swart eende vandaan gekom, en waarom het hulle die geraamte lastig geval? Hoe kon die siel van die seun, wat nog steeds die vorm van `n aap gehad het, die tien nare voëls se baas word? Wat is die betekenis van die klere, waar het dit vandaan gekom en watter invloed het dit as sodanig op die twee verskillende siele?
[2] Ja, hieroor sou nog veel te vrae wees, maar vir my is veral dié punte van belang wat ek nou uit onwetendheid vra, en waarby enige welwillende uitleg my goed te pas sou kom. As iemand anders van ons nog oor iets anders uit die verhaal `n verklaring verlang, mag hy seker ook wel `n vraag daaroor stel?!"
[3] Cyrenius sê: "Vriend, tydens hierdie verhale van jou word ek heel vreemd gestemd! Die menslike lewe kom my voor as `n heel rustige en onskuldig voortstromende rivier op `n hoogvlakte. Maar aan die einde van die vlakte stort die eers so rustige stroom hom onverbiddelik in `n onpeilbare diepte in, en met donderende geraas boor hy vir hom `n gruwelike diep rusbed, maar vind geen rus nie! Want die geweld van sy eie val dryf hom met groot onstuimigheid voortdurend uit sy rusbed uit en hy moet vlug en vlug totdat hy êrens opgesluk word deur die oppermag en die onmeetlike diepte van die see.
[4] O Heer, verklaar aan ons tog tot ons troos hierdie skrikwekkende, ernstige oomblikke van die origens so mooi lewe! Kyk nou eers na hierdie man wat volgens die verhaal van broer Mathaël in die welbekende poel gespring het om `n einde te maak aan `n wanhopige lewe. Wat `n verskriklike verandering vind daar dadelik na die sprong plaas! Wel skyn daar gou daarna enige verligting in sy toestand in te tree, maar hoe sien dié daar uit! Wat `n onsekerheid, wat `n ellende! Majesteit en Heer, gee ons daarom `n troosryke toeligting tot alles wat broer Mathaël gesien het, en so huiweringwekkend getrou vertel het!"
[5] Ek sê: "Ongetwyfeld sien ons hier `n paar vreeslik treurig uitsiende lewensoomblikke, wat werklik baie ernstig is. Maar wat wil jy doen om `n lewe, wat deur die invloed van die wêreld en haar helse luste totaal gehawend is, nie geheel ten gronde en verlore te laat gaan nie, maar te red en stukkie vir stukkie weer op die regte spoor te bring? Moet so `n lewe nie met groot erns aangepak word nie?
[6] Ja, dit is waar, die oomblik waarop dit gegryp word, is seker vir die toeskouer iets erg afstootliks! Die deurtog deur `n baie nou poortjie is beslis nie so aangenaam om te sien soos die gesig van `n kerngesonde, maagdelike bruid nie, maar dié deurtog lei die eintlike mens die lewe binne, en wel in `n waaragtige en ewig onverganklike lewe in! En daarom bevat so `n ernstige lewensoomblik vir hom wat dit begryp, uiteindelik tog altyd meer troos as die laggende lentegesig van `n maagdelike bruid. Maar nou sal ons dan oorgaan tot `n uitleg van dít wat ons van Mathaël gehoor het!
[7] Mathaël sien reeds vooraf by die jongeling twee groot vlermuise wat om hom heen fladder toe hy uit die boom val, en dadelik volslae dood bly lê. Ten eerste stam die jongeling suiwer uit hierdie aarde. Die suiwer aardse kinders is egter, soos wat julle dit uit My verklarings reeds dikwels kon hoor en goed kon verstaan, wat hul siel en ook wat hul liggaam betref saamgestel uit die hele organiese skepping van hierdie aarde. Die bewys daarvoor lewer reeds die baie gevarieerde voeding vir die liggaam wat `n mens tot hom neem, terwyl `n dier in die keuse van sy voeding uiters beperk is. Ten einde die mens in staat te stel om aan alle intelligensiedeeltjies waaruit sy siel bestaan, uit die natuurlike voedingstowwe wat hy tot hom geneem het die ooreenkomstige voeding te gee, kan hy sulke uiteenlopende voedingsdele uit die diere-, plante- en ook die mineraleryk tot hom neem; want die substansiële liggaam van die siel word netsoos die vleeslike liggaam gevoed en tot ontwikkeling gebring deur die opgenome, natuurlike voeding.
[8] Nou kom dit egter nog daarop aan uit welke voorafgaande klasse van kreature `n mens wat geheel van hierdie aarde afkomstig is, se siel die opklimmende ontwikkelingsfases deurmakend, verkry het. En mens moet dan, veral by kinders, vervolgens besef dat hul siel op sigself nog steeds spore dra van die voorafgaande skepselvorm waaruit hy in `n menslike vorm oorgegaan het. As `n kind dadelik goed opgevoed word, gaan die voorliggende skepselvorm weldra geheel oor in menslike vorm en stabiliseer hom steeds meer daarin. As die opvoeding by `n kind egter baie verwaarloos word, tree die voorafgaande vorm steeds meer op die voorgrond in sy siel, en neem die vaste vorm van die liggaam selfs stadig maar seker die genoemde voorafgaande skepselvorm aan, en so kan mens sonder enige twyfel by menige ruwe mens en sonder te veel moeite onderskei wat die oorheersende vorm van sy siel is.
[9] Omdat Ek dus vroeër al gesê het dat die seun wat betref siel en liggaam suiwer uit hierdie aarde afstam, kan julle, gesien sy verwaarloosde opvoeding, nou wel verstaan waarom sy siel in die boom aanvanklik, nog voor hy daaruit geval het, reeds sigbaar was in die vorm van twee vlermuise op die oomblik toe hy, deels deur die homself te ingespanne vashou aan die boom en deels verstik deur die rook, in `n krampagtige floute teregkom, wat gesorg het dat hy vir nog `n tydjie in die boom gebly het, hoewel hy self niks meer daarvan geweet het nie.
[10] Want solank `n siel op die oomblik van sterwe nie algeheel geskei is van die liggaam nie, solank is dit as gevolg van angstige verwarring heeltemal sonder bewussyn. Dit gaan met haar soos met iemand wat met die gesig na buite op `n as vasgebind is, en daarby rasend vinnig in die rondte gedraai word. Hy kan kyk soos hy wil, maar sal tog geen enkele voorwerp sien nie; hoogstens sal hy `n matgekleurde mis om hom heen sien, wat by nog groter draaisnelheid, deur die daarby toenemende onvastheid van die gesigsorgaan, in `n volledige duisternis kan oorgaan.
[11] Soos wat die gesigsorgaan egter rus moet hê om `n voorwerp waar te neem soos wat dit is, so het die siel ook `n bepaalde innerlike rus nodig om tot `n vaster en helderder bewussyn van haarself te kom. Hoe meer die siel innerlik verontrus word, des te meer verdwyn dan ook haar heldere selfbewussyn, en as die onrus in die siel eenmaal die toppunt bereik het, weet sy so goed as niks meer van haarself nie totdat die rus weer in haar teruggekeer het. En hoe laer `n siel op die trap van lewensontwikkeling staan, hoe gouer tree hierdie oomblik by sterwendes in. Ag, by `n siel wie se lewensontwikkeling voltooi is, kom hierdie enigsins treurig uitsiende oomblik beslis nie voor nie, wat Mathaël by die sterwe van die ou Lasarus baie goed gesien het, want sy siel het op geen enkele manier geblyk dat sy verontrus was nie.
[12] Die seun in die boom was liggaamlik al ongeveer `n kwartier bykans dood en het niks meer van homself geweet nie; sy siel was net soos sy liggaam dus al deur die allerdikste duisternis omgewe. En `n siel wat in `n te groot onrus raak, begin haar letterlik te verdeel in die vroeëre, kleinere en onvolmaakter kreature van `n vorige lewe; daarom word hier ook eerstens twee vlermuise sigbaar. Pas nadat die seun deur die verplettering van sy harsings elke verbinding met sy siel kwyt was, het daar weldra meer rus in die ontwrigte siel gekom, beide siele van die voorafgaande skepsels verenig hulle, en weldra word `n aap as laaste voorafgaande skepsel sigbaar; dit het egter `n langer tyd nodig voordat hy heeltemal tot homself gekom het, en daarna nog meer rus tot hy homself herken en weer van homself bewus geword het. Daarom hurk hy ook geruime tyd op die plek waar sy liggaam uit die boom geval het, meer instinktmatig as bewus van wat daar voorgeval het.
[13] Maar geleidelik keer die bewussyn en die selfherkenning terug en die aap kry tegelykertyd ook `n steeds mensliker uiterlike en begin hom op te rig. Die steeds verder reikende waarnemingsgevoel van sy siel begin die aanwesigheid van die verongelukte siel van sy aardse vader gewaarword. Hy verlaat die plek waar hy gehurk sit, beweeg hom, gelei deur sy gevoel, na die poel en herken nou duidelik die siel van sy vader, wat belas en gekwel word deur die tienvoudige vervloeking deur `n mens.
[14] Toe ontwaak die kinderliefde in hom en daarmee tewens die vra na God en Sy ware geregtigheid. Bowendien ontwaak daar in hom egter ook `n heel regverdige toorn teen die vloek wat mense in hul onbegrensde hoogmoed hulle aanmatig om na die arme, maar in feite baie beter medemense, te slinger. Daarby ontdek die aapmens, wat nou reeds baie volmaakter was, in hom ook die krag om teen die tien vloekduiwels, wat in die vorm van swart eende sy vader meer as normaal lastig val, in te gaan.
[15] Met hierdie verhoogde selfbewussyn stort die aapmens hom in die poel en begin, gedrewe deur sy kinderliefde vir sy arme vader, danig onder die tien vloekduiwels in te gaan; binne enkele oomblikke is hulle vernietig en die aapmens kry daardeur al `n haas menslike uiterlike.
[16] Maar deur sy liefde begin ook die dooie vadersiel nuwe lewenswortels kry. Dit gee die seun nog meer liefde en meer krag, en daarmee trek hy sy vader weg van die plek van sy ondergang en sy verderf en bring hy hom op die droë grond, waardeur die liefde van die seun ook vir die toekomstige bestaan van die vader `n vaste grond vir rus ontwikkel, en deur troue liefde aanwesig is. Maar omdat die liefde van die seun groei, word sy lig ook sterker; deur daardie lig sien hy hoe ontoereikend sy krag is en hy rig hom met klem tot God en vra of Hy sy vader wil help. En die hulp laat nie op hom wag nie; daar kom klere en die krag om verder te gaan in `n beter en meer volmaakte lewensfeer, waar die siel van die vader, gevoed deur die steeds groeiende liefde van die seun, weer geestelik vleis en bloed kry, en uiteindelik op dié wyse in staat is om God te herken en binne te gaan in Sy orde - wat by selfmoordenaars altyd iets baie moeilik is."
|
|
|
|
|