Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 176

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die eenwording van die mens met God. Simon beken sy liggaamlike swakhede

176 Simon: "Ek sien nou, o Heer, dat U U aan die mense algeheel as God openbaar en nêrens `n voorbehoud stel of iets geheim hou soos wat die ou profete dit gedoen het nie, wat U altyd baie versluierd aan die mense openbaar en aan die sterwelinge skaars die soom van U kleed laat sien. Hulle het wel `n godsdiens en `n kerk gevestig; maar wat was dit vir `n godsdiens en wat vir `n kerk? Die godsdiens was `n skaars sigbare ster wat uit die een of ander eindelose diepte van die ruimte `n baie spaarsame straal van hoop geskenk het aan die aarde wat in dik duisternis gehul is. Die kerk was `n gebou van harde klip, `n tempel waaromheen louter doolhowe en duistere voorhowe lê wat deur die mense betree kon word, maar aan die binnekant van die tempel, waar al die lewensgeheime op goue tafels onthul lê, kon hulle nooit kom nie.

[2] Maar hier word nie slegs die binneste van die tempel vir alle mense heeltemal toeganklik gemaak nie, maar God, die ewig ontoeganklike, openbaar Homself in eie persoon algeheel soos wat Hy was, is en ewig sal wees, aan die mense. Dit maak dit andersyds egter ook noodsaaklik om God nie slegs ten dele nie, maar met liggaam, siel en gees algeheel in homself op te neem deur enkel en alleen Hom lief te hê. Hierdie toenadering van die Skepper tot die skepsel en omgekeerd, moet immers uiteindelik onvermydelik `n volledige vereenselwiging van die skeppende Oerwese met die later geskape wesens tot gevolg hê.

[3] God word één met ons en ons word één met Hom, sonder die geringste beperking van ons persoonlike individualiteit en met volkome vryheid van wil! Want sonder die volmaakte vereenselwiging van die skepsel met die Skepper kan nooit aan `n volkome wilsvryheid gedink word nie, omdat slegs die wil van die Skepper algeheel onbeperk kan wees en die wil van die skepsel alleen maar dan as hy volmaak één geword het met die wil van die Skepper.

[4] As ons wil wat die Heer wil, is ons wil volkome vry omdat die wil van die Heer ook volkome vry is; wil ons dit egter nie, of maar ten dele, dan is ons miserabele slawe van ons eie oneindige blindheid. Slegs in God kan ons volkome vry word; buite God bestaan daar niks as alleen maar gerig en die dood!

[5] Heer, U sien dat ek nie bang is om te praat nie, en ek glo ook hierdie keer die spyker weer op die kop geslaan te hê! Maar voeg U nou U almagtige seën daarby, sodat hierdie pragtige koringkorrel wat U, o heilige Vader, Self uit U ewige hemel na hier, op hierdie, ongelukkig baie maer aarde verplant het, in die aarde van ons swak harte duisendvoudig vrug mag dra! O heilige Vader, word één met ons, U skepsels, U nog armsalige kinders, sodat ons eens, aan U gelyk, ook één met U kan word!" - Hier bars Simon heeltemal ontroerd in trane uit.

[6] Maar Ek staan nou op en sê aan Simon: "Kom na My toe, My geliefde broer en omarm My nie meer as jou Skepper nie, maar as jou Broer, omdat jy die eerste is wat één geword het met My!"

[7] Simon sê berouvol: "O, U wat te gewyd is! Hierdie barmhartigheid is die sondige Simon ewig nie werd nie!" Toe huil hy weer. Daarom gaan Ek na hom toe en druk hom nogmaals broederlik aan My hart.

[8] Na `n rukkie, toe Simon hom herstel het van sy ontroering en Ek ook kalmerend op sy gemoed ingewerk het, sê Simon: "My Heer en my God! Waaraan het ek dit dan te danke dat U nou opeens so genadig en barmhartig vir my is? Weet dat ek `n sondige mens is, want my vlees is baie swak. Mooi en aantreklike meisies maak op my `n geweldige indruk, en van tyd tot tyd kom daar altyd onsedelike gedagtes in my op. En heel dikwels stem ek met `n soort lus en plesier in met hierdie gedagtes, ook al is dit nie in daad by gebrek aan geleentheid nie, dan tog wel in my gemoed wat by my tydens sulke bronsperiodes baie gewillig is.

[9] Daarna het ek dan ook wel weer heel helder oomblikke en verstandige opvattings en beskouings met betrekking tot hierdie onderwerp, maar wat help dit? As ek dadelik daarna weer `n mooi meisie sien, verdwyn al die heldere oomblikke, al die verstandige opvattings en beskouings in een sug weer en die ou sondebok staan weer met al sy sinlikheid gereed. Ek doen daartydens en daarna wel niks nie, maar hierdie niksdoen is tog geen egte niksdoen nie, maar alleen maar `n niksdoen by gebrek aan geleentheid. Die vrees vir aardse straf en skande weerhou mens, maar die eie vrye wil by lange na nie, want dit het by sulke geleenthede alleen maar erg baie sin en sou by `n gunstige geleentheid sekerlik nie afwykend daarteenoor staan nie! Ek ken my ellendige liggaam ongelukkig maar al te goed en daarom is ek `n sondige mens en so `n groot barmhartigheid van U nooit werd nie."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205