Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Zinka se opvatting oor die leer van Jesus

19 Zinka dink `n bietjie daaroor na en sê na `n rukkie: "Beste Vriend! Hoewel die leer ietwat gewaagd is, is daar niks daarteen in te bring nie. Die wese daarvan is, as daar ten minste `n God is wat Hom ook maar ietwat oor sterflinge bekommer, duidelik goddelik! Weliswaar het ook ander groot wyses die grondreël opgestel dat die suiwere liefde die oerkiem van alle lewe is en dat die mense die liefde die meeste sou moet bevorder omdat al die heil vir die mense slegs uit die liefde sou kon opbloei. Maar hulle verklaar nie die suiwere wese van die liefde nie. Die liefde het egter ewe dikwels goeie sowel as bose kante en uiteindelik weet `n mens nie watter kant van die liefde `n mens dan eintlik vir die welsyn moet beoefen nie.

[2] Maar hier is sonhelder onder woorde gebring watter soort liefde die mens moet koester en as lewensbeginsel moet aanvaar. Daarom kan so `n leer natuurlik nie oorspronklik van `n mens afkomstig wees nie, maar slegs van God, en dit bewys dan dadelik dat daar tog `n God is. Wel, wel, ek is U, beste, aan my algeheel onbekende, verhewe Vriend - ook al is U miskien `n heiden - van ganser harte dankbaar, want U het my nou, net soos my vriende wat nie op hulle agterkoppe geval is nie, `n groot diens bewys! Ons was in `n sekere sin almal min of meer goddeloos, maar nou kom dit my in elk geval voor dat ons die verlore God weer gevind het, wat vir my baie verheugend en aangenaam is.

[3] Johannes homself het weliswaar ook alle moeite gehad om my van die bestaan van `n ewige God te oortuig, maar dit het hom tog nie geluk nie. Ek het hom `n gedugte teenspel gegee en hy kon nie al my twyfel wegneem nie, en so het ek dan ook tot op hede in al my twyfels bly vassteek. Maar nou is dit éénsklaps weg met al daardie getwyfel!

[4] Merkwaardig! Ja, ja, so is dit: ‘As iemand nie die regte poort in `n dwaaltuin kan vind nie, kan hy nie in die paleis van die koning wat in die ruim sentrum van die groot dwaaltuin sy vaste woonplek gebou het, inkom nie.’ U het my nou egter die regte poort gewys en dit vir my geopen, en nou is dit dus `n geringe moeite om so gou as moontlik in die groot en ewige paleis van die koning te kom.

[5] Wees nou egter ook nog so goed om vir my te sê waar U die buitengewone geluk gehad het om die groot Man te ontmoet! Hy is beslis geen towenaar nie, maar `n Mens wat met hoëre, goddelike kragte begiftig is, want dit blyk so te wees uit Sy waarlik goddelike leer! Sê my dus waar U Hom gespreek het! Ek sou self daarheen wou gaan en uit Sy mond die lewende woorde van verlossing wil hoor."

[6] Ek sê: "Bly nou maar hier, jy sal Hom baie gou tydens die verloop van die besprekinge wat nog sal volg, vanself vind! Ook is dit nou al ruim `n uur na die middel van die dag. Ons brawe gasheer, Markus, het die middagete reeds gereed en dit sal dadelik opgedis word. Maar na ete sal ons nog seë tyd kry om oor allerlei sake met mekaar te praat. Jy bly aan ons tafel - jou nege-en-twintig metgeselle kan hiernaas gaan sit."

[7] Toe bring Markus die kos. Toe die kos op die tafels staan, val dit Zinka op dat al die groot tafels skielik deur `n paar mense, soos met `n towerslag, volgepak was met kos en bekers met wyn.

[8] Hy vra vir Ebahl wat naas hom gesit het: "Vriend, vertel my asseblief hoe kon daar nou deur so min mense ineens so `n groot hoeveelheid kos hier na al die lang tafels gebring word! Helaas, ek verbaas my besonder daaroor! Ek sou amper wil beweer dat dit nie heeltemal natuurlik hier toegaan nie! Het die oue huishouer dalk geheime, gedienstige geeste wat hom met hierdie werk help?"

[9] Ebahl sê: "Jy sou wel nie altyd daarop gelet het nie, omdat jy baie verdiep was in jou gesprek, terwyl al die tafels intussen maklik van wyn en kos voorsien kon geword het sonder dat dit jou spesifiek sou opgeval het. Self het ek weliswaar nie daarop gelet nie, maar sonder meer onnatuurlik sal dit tog gewis nie daaraan toegegaan het nie!"

[10] Zinka sê: "Vriend, glo my, ook al is ek hóé verdiep in die een of ander gesprek, dan sal daar rondom my heen tog niks kan gebeur sonder dat ek dit sou sien nie. Ek weet baie verseker dat daar enkele oomblikke gelede geen broodkrummel homself op die tafels bevind het nie – en nou buig die tafels onder die kos wat daarop staan! Neem my nie kwalik nie, in so `n geval mag mens met hart en verstand tog gewis `n vraag stel, veral as jy `n vreemdeling is!? Dit maak vir my nou nie meer saak of iemand my daaroor goed inlig of nie, maar ek bly daarby dat hier beslis nie natuurlike dinge op die spel is nie! Kyk maar gou na my nege-en-twintig metgeselle wat presies dieselfde onderwerp onder mekaar bespreek. Net julle almal, wat waarskynlik nou al verskeie kere hier geëet het, bly in hierdie geval onverskillig, omdat julle goed weet wat hier aan die gang is! Maar dit pla nie - ek sal wel later agter hierdie geheim kom!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205