Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 186

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Oubratouvishar verlang sekerheid oor die plek waar die Heer bly

186 Ek sê: "Ek het alreeds vir jou gesê dat dit jou min of niks sou help as Ek aan jou sou sê: ‘Ek is Die Een!’ of 'Ek is dit nie!’ Dit moet jy in elk geval self uitvind en dit kan jy heel maklik doen, omdat jy genoeg gees en verstand daarvoor het. Dink jou eers in wat by mense alles moontlik is en wat onmoontlik kan wees! Het jy nog geen idee gekry nie, of het jy nog niks, hetsy aan jouself, of aan iemand anders, waargeneem nie?"

[2] Die swart man sê: "Soos wat ek al vroeër gesê het - behalwe dat ons met die binnekoms in hierdie land dadelik in U taal begin praat het, het beslis nog niks besonders my opgeval nie; ek praat sonder enige terughoudendheid! Toe ek hierheen gekom het, het alles my in die begin wel in `n sekere sin wonderbaarlik voorgekom; hoe langer ek nou egter hier is, des te natuurliker vind ek hier in u almal.

[3] Die taal is sodoende nog steeds die enigste wat raak aan die wonderbaarlike, maar dit kan, soos wat ek al vroeër opgemerk het, ewe goed `n heel natuurlike, sy dit dan onverklaarbare gevolg wees van die spesiale eienskap van hierdie land. Iets soortgelyks het ek tydens my reis deur die groot Egiptiese land ondervind: Ons ontmoet Romeine en Grieke; hulle praat in hulle eie taal en ons verstaan hulle heel goed en kon mekaar vir sover dit nodig was, baie goed verstaan. Met die praat gaan dit natuurlik nie so vlot soos hier nie, maar dít mag alles wees as gevolg van die aard, die lug en die uitwaseming van die land!

[4] Omdat ons van oorsprong baie eenvoudige mense is, is ons ook baie gevoeliger vir allerlei besondere verskynsels en indrukke. So kan ons byvoorbeeld die siele van gestorwenes sien, soms ook van die wat volgens hul eie belydenis nog nooit `n liggaam gehad het nie. Hierdie natuursiele kan ook maklik herken word omdat hulle in staat is om hul vorm plotseling te verander en hulle in allerlei klein wesens te verdeel, wat hulle weer kan saamvoeg tot `n menslike vorm, `n verskynsel wat ons by die siele van gestorwe broers en susters nog nooit ontdek het nie.

[5] Ons vra die wyse owerste in Memphis of hy ook soortgelyke dinge waarneem. Maar hy sê dat dit alles alleen maar `n eienskap is van baie eenvoudige en beskeie natuurmense, wat heeltemal geen kennis van `n gekunstelde lewe het nie. By hom en die Egiptenare het dit nog nooit voorgekom nie. So nou en dan kom daar wel afsonderlike gevalle voor, maar so onseker en so onverklaarbaar as maar moontlik is, terwyl by ons alles seker, natuurlik en sodoende ook meer verklaarbaar is.

[6] Daarmee is dan ook redelik goed te verklaar dat ons `n totaal onbekende taal van `n volk baie gou kan verstaan en praat. As U, mees verhewe Mens van alle mense, dit nou oorweeg, sal U met U buitengewone wysheid wel insien dat ons tydens die kort tyd van ons aanwesigheid hier nog niks besonders kon opval nie waaruit ons onweerlegbaar sou kon afgelei het dat ons hier al met sekerheid op die plek is wat ek in my visioene waargeneem het.

[7] Baie dinge stem wel daarmee ooreen: Aan die oewer van `n klein binnesee `n vissershuis wat teen `n berg gebou is; `n aantal mense van status en hoë aansien; ook U het regtig baie ooreenkoms met die onbegryplike stralende mens wat ek sewemaal in my visioene gesien het en wat my in die opperste verrukking gebring het. Maar dié ligmens doen alles deur Sy woord; Hy spreek - en dit was daar! Hemel en aarde was Hom onderdanig en onafsienbare skares wag op Sy wenke!

[8] Wel, mees verhewe Mens der mense, dít is hier tog gewis nie die geval nie! Ek vind hier in U, net soos twee jaar gelede in die owerste in Memphis, uiters goeie en wyse mense, maar van Die Een wat ek verwag, vind ek tot op hede nog niks en juis daarom vra ek aan U of ek op die regte plek is of nie. Sê U ja, dan sal ek dit glo en bly, want U woord is voldoende vir my omdat U in elk geval `n baie wyse man is. Sê U egter nee, of sê U my weer niks nie, dan gaan ons weer terug en los ons kuddes, wat ons vir goud en silwer op aandrang van die wyse owerste in Memphis agtergelaat het, weer in teen die ongebruikte res van die som wat die owerste vir die agterlaat van die kudde geleen het, terwyl hy intussen die vruggebruik daarvan het.

[9] Mees verhewe Mens der mense, U sien dat in my en ons almal, ook al versier geen wit vel ons liggaam nie, tog niks verkeerds en boosaardigs skuil nie; ons soek almal die volle waarheid, want net daarin is vir ons alles geleë en ons het ook die lewendige hoop om dit hetsy hier of êrens anders te vind! As ons dus op die regte plek is, bevestig dit dan, dan wil ons graag alles doen wat U ook maar van ons verlang!"

[10] Ek sê aan Rafael: "Gaan heen en gee aan hulle `n teken waaraan hulle kan sien waar hulle aan toe is!"

[11] Dadelik gaan Rafael na die swart man (Oubratouvishar) en sê: "Vriend, wat het jy in jou vaderland agtergelaat waarvoor jy in Memphis wou omdraai om dit te gaan haal? Jy wou dit aan die owerste as `n besondere geskenk gee vir die moeite wat hy hom vir jou getroos het en daarom het jy dit reeds in nuwe linne toegedraai, maar later het jy dit vanweë julle vinnige vertrek vergeet en wel in `n hoek van jou hut, waar dit nou nog lê. As jy dit sou wou, bring ek dit oombliklik hier! Spreek - wat jy wil, sal gebeur!"

[12] Die Swarte sê: "Nie omdat ek die oortuiging het dat ek op die regte plek is nie - maar alleenlik maar daarom, omdat jy my vertel wat ek tuis vergeet het, weet ek dat ek op die regte plek is omdat slegs God se alsiende oog so-iets kan sien - maar jy sou my daarmee `n uitstekende diens bewys; want op die terugpad sou ek die goeie owerste in Memphis daarmee `n baie groot guns wou bewys, want hy is `n groot liefhebber van seldsame voortbrengsels van die natuur! Hierdie voorwerp kan op sigself alleen maar `n denkbeeldige waarde hê, `n werklike waarde algeheel nie! Maar dit is pragtig!"

[13] Toe oorhandig Rafael reeds die mooi voortbrengsel van die natuur wat in linne toegedraai is, aan die Swarte en vra hom of dit die regte voorwerp is.

[14] Die Swarte val by dié geleentheid byna flou en roep luid: "Ja, dit is dit, dit is dit! Maar hoe is dit moontlik dat jy die kleinood hierheen gebring het, jy was tog nog nie `n oomblik van my af weg gewees nie?! Het jy dit dalk as jong, moedige Egiptenaar, in diens van die owerste, op `n onbegryplik slim wyse van my tuis vervreem? Het jy ons miskien `n jaar gelede, toe ons uit Memphis weer huis toe gegaan het, heimlik met `n paar metgeselle gevolg tot in die buurt van ons hutte en so van my woonhut te wete gekom?

[15] Ja, maar waarom stel ek al hierdie dom vrae?! Ek het dit tuis nog enkele oomblikke voor ons vertrek in my hande gehad, lê dit toe in die hoek van my hut om my kameel ryklaar te maak en my kudde byeen te dryf en lê `n kalbasdop daaroor! Deur die byeendryf van die kudde en die gereedmaak van my kameel vergeet ek die skitterende natuurproduk; jy kon dit nie by my weggehaal het nie! Jy het dit dus nou duidelik op wonderbaarlike wyse gehaal; maar - hoe, hoe is dit vir jou as sigbare mens van vlees en bloed moontlik?! Want hier, daar, en weer hier, was blitssnel! Dit is suiwer `n handeling wat slegs vir `n god moontlik is! Jy is òf self `n god, òf `n egte dienaar van hom!"

[16] Rafael sê: "Die eerste nie, maar wel die tweede! Maar kyk, ek het tog by die haal van jou mooi natuurproduk iets vergeet en dit is die kalbasdop waarmee jy jou kleinood in jou hut toegemaak het! Dit moet jy ook nog dadelik daarby hê! Kyk, hier is dit al! Plaas jou kleinood nou daarin en laat ons dit sien, want daar is baie hier wat jou gevonde skat graag wil sien!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205