|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 60
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Zorel se kritiek op moraal en opvoeding
60 Zorel sê: "Jou woorde klink baie vriendelik, goed en gevoelig en ek is daarvan oortuig dat jy dit sê wat jou hart jou ingee en wat jy as waar beskou. Dit is egter `n vraag watter leer ek moet aanneem wat my met sy lig, dit wat ek nou as volkome waar sien, as algeheel onwaar sal laat sien! Twee en twee is tesame vier, dit is `n matematiese waarheid waarteen alle hemele niks kan inbring nie, en daar kan onmoontlik `n ander leer wees wat hierdie ewige waarheid sou kon loënstraf! Ek sou `n bygelowige nar moes wees om te kan aanneem dat twee en twee ook sewe sou kon wees, dan sou `n geloofsverandering by my natuurlik wel moontlik wees, maar volgens my huidige begrip is dit heeltemal onmoontlik!
[2] Dat daar een of ander intelligente, ewige oerkrag moet wees, waarvan ten minste die oerkieme, of in elk geval hulle eerste beginsels, afkomstig moet wees, kan deur geen verstand, hoe suiwer ookal, geloën word nie, want as daar eenmaal `n twee is, moes daar eerstens `n één gewees het. Maar hoe belaglik en buitengewoon dom is dit van die dwase, blinde mense, wanneer hulle hulleself `n oerkrag - wat tog in die hele, ewige oneindigheid gelyklik verdeel en versprei moet wees, omdat sy basiswerking deur die hele oneindigheid op gelyke wyse merkbaar moet wees - in `n vorm, en selfs `n menslike, ja soms selfs in `n dierlike, voorstel!
[3] Die Judeërs sou, as hulle by hulle oorspronklike leer gebly het, eintlik nog die mees verstandigste voorstelling gehad het van `n algemene oerkrag, wat hulle 'JaHWeH' noem; want hulle het `n leerstelling wat lui: 'Jy mag jou God met geen enkele vorm voorstel nie, en jy mag absoluut geen gesnede beeld van Hom maak nie!' Maar daarvan het hulle heeltemal afgewyk en nou het hulle hulle sinagoges en tempels vol beelde en sierade. Bowendien glo hulle aan die mees dwase dinge en die priesters straf almal onder hulle aanhangers wat nie glo wat hulle leer nie. Hulle noem hulleself God se dienaars en laat hulle daarvoor enorm eer, maar as teenprestasie kwel hulle die arme mensdom met alles wat hulle maar kan bedink. Moet ek dalk onder sulke omstandighede `n Judeër word? Nee, in der ewigheid nie!
[4] Dié mense sê wel dat hulle wette vanaf God Self het, wat Hy hulle deur hulle eerste leraar, Moses, op die berg Sinai sou gegee het. Dié wette is weliswaar op sigself baie goed as elkeen hulle as `n absoluut noodsaaklike leefreël sou navolg. Watter sin het dit egter as `n mens die arme mense ten strengste verbied om te steel en te bedrieg, maar self, omdat die mens op die heerserstoel sit, die hele mensdom wat hom slaafs onderworpe is, by elke geleentheid soveel as wat maar moontlik is leegroof, besteel en bedrieg en hulle oor die arme mens, in weerwil van die goddelike wet, nie in die minste bekommer nie! Sê my eers wat iemand wat dit eerlik meen, van so `n wet en die bewaarders daarvan moet dink!
[5] As die nood `n arme sater gedwing het om iets vir sy dringende behoefte weg te neem van `n plek waar oorvloed was, dan word hy met alle onverbiddelike strengheid tot verantwoording geroep en dadelik uit en uit bestraf. Maar die wetbewaarder wat elke dag en by elke geleentheid roof, moor, steel en bedrieg, staan bo die wet, hou daar glad geen rekening mee nie en glo self ook aan niks nie, behalwe aan sy veeleisende, tydelike voordele! Kan `n mens wel van `n goddelike instelling praat as dit selfs met die geringste eis van die arme mensdom in so `n skrille teenstelling staan?! Watter normaal denkende verstand kan so iets regverdig?
[6] Omdat daar bepaalde dinge is wat ek aangenaam vind wanneer `n mens dit vir my doen, moet ek ook van my naaste veronderstel dat hy dit ook nie onaangenaam sal vind wanneer ek iets vir hom sou doen wat hy ten minste goed en aangenaam sal vind nie! As ek tot oor my ore in die nood en die armoede sit, geen geld het om my ook maar die noodsaaklikste aan te skaf nie, en op soek gaan en vra, en op die vraag van niemand iets ontvang nie en eers ten lange laaste self neem wat ek nodig het - kan `n wet my dan daarvoor veroordeel?! Het ek dan heeltemal geen reg om my iets wat ek broodnodig het, toe te eien nie, terwyl ons sterk voorouers beslis geen sonde begaan het deur hele lande vir hulleself toe te eien nie?!
[7] Ja, as ek uit luiheid sou steel en bly steel, sou geen verstandige mens dit snaaks vind as ek daarvoor tot verantwoording geroep sou word nie. Maar wanneer ek my in uiterste noodsaak iets wat ek dringend nodig het, in `n sekere sin onwettig sou toe-eien, dan kan en sal geen God my tog daarvoor tot verantwoording kan roep nie - laat staan nog `n selfsugtige, swak mens, wat in baie opsigte op één dag meer onregverdighede begaan as ek in `n hele jaar! Ek wil my weliswaar nie smalend uitlaat oor die wet ter beskerming van besit nie, wat die mense as goddelik beskou nie; deur sy algemeen geldende onverbiddelikheid maak dit die mensdom egter nie beter en mensliker nie, maar slegs harder en liefdeloser!
[8] Eweso is die wet wat toesien op kuisheid en sedelikheid baie grof en ru aanmekaar gesit, sonder enige inagneming van die natuur, die tyd en die krag van mense. Bedink eers waaraan die mens - hetsy man of vrou - blootgestel staan! Dikwels glad geen opvoeding nie, dikwels één wat nog slegter is as heeltemal niks nie! Hy gebruik dikwels kos en drank wat sy bloed baie opwen; dikwels vind hy maklik geleentheid om sy sterk natuurlike drif te bevredig en bevredig dit ook. Maar die saak kom uit en hy word sonder enige oorweging as sondaar bestraf, want hy het sommer `n – goddelike - voorskrif oortree.
[9] O julle narre met julle goddelike wette! Waarom het julle dan nie `n goddelike, voorafgaande wet uitgevaardig wat voorskryf dat daar in die eerste plek vir `n regte en goeie opvoeding gesorg moet word, waarna jy dan eers kan kyk of daar nog `n ander, volgende wet nodig sou gewees het? Is dit nie onbegryplik dom van `n tuinier wat leibome plant om daarvan `n boog te maak, dat hy hulle eers dán met alle mag en krag begin buig as die bome al na `n aantal jare groot, hard en onbuigsaam geword het? Waarom het die dom tuinier dan nie met die buig van sy bome begin op `n tydstip dat hulle nog baie maklik en sonder gevaar gebuig kon word nie?! Laat `n God of andersins `n mens, deur wie se mond die godheid spreek, eers eendag sorg vir `n regverdige, aan die sedelike natuur van die mens aangepaste, wyse opvoeding en laat hy eers dan wyse wette gee as die goed opgevoede mens dit op die een of ander manier nog nodig mag hê!
[10] O vriend Zinka, jy is `n Judeër en jy sal jou leer beter ken as ek, maar oor dit wat my daarvan toevalligergewys bekend is, kan ek jou niks anders sê as wat ek jou reeds gesê het nie. En daaruit sal jy wel kan uitmaak dat ek, ter wille van die versorging deur die geëerde Cyrenius, my op die suiwere verstand en op die kennis wat op matematiese grondslae gebaseer is, beslis nie kan afsweer nie. Onder dié ruilvoorwaardes wys ek enige versorging af, ook al is dit hóé aantreklik. Ek neem liewer die bedelstaf en bring so die armsalige res van my dae op hierdie aarde deur. Wat die natuur dan daarna met my sal doen, sal my as dooie, wat nie na die oue wil teruggekeer nie, gewis heeltemal onverskillig laat! - Zinka, sê jy nou of ek na jou mening gelyk of ongelyk het!"
[11] Zinka sê: "Vriend en broer Zorel! Diep in my hart kan ek jou nie ongelyk gee nie, maar ek moet jou wel daarby sê dat daar nog heelwat besondere sake is waarvan jy jou nog glad geen voorstelling van kan maak nie. Eers as jy daaragter sal kom, sal jy self besef hoeveel goed en waaragtig daar in jou huidige vernaamste beweringe sit!"
[12] Zorel sê: "Ja, ja, dit is goed, maar as jy dalk iets beter weet, sê dit dan, dan is ek bereid om aan jou rekenskap te gee!"
[13] Zinka sê: "Dit sou jou en my weinig baat, maar rig jou tot die Man daar, van wie jy sê dat Hy jou so besonder bekend voorkom! Hy sal jou wel goed voorlig, en jy sal daarop die waarheid, of te wel die teendeel van jou bewerings, dadelik duideliker begin insien!"
[14] Zorel sê: "Goed dan, dit sal ek doen, want ek is nie bang vir Hom nie. Hy sal egter `n harde neut aan my te kraak kry!"
|
|
|
|
|