|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 126
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Die gevolge van `n verkeerde opvoeding
126 (Die Heer:) "Mens vind weliswaar die gebooie van God uiters goed en regverdig, maar daar is ook mense wat niks daarvan wil weet om volgens die gebooie te handel nie, maar enkel en alleen vir die wêreld lewe. Met sulke mense kan mens natuurlik niks, of hoogstens `n swak transaksie aangaan. Wie met hulle `n saketransaksie aangaan, is al dadelik van die begin af aan die mees bedroëne en die een vir wie hy te slim is. Maar die een wat hom met sulke wêreldse mense inlaat om voordeel uit hulle te trek, moet gewis erg dom wees, andersins sou hy sy vennote wel beter deurskou het alvorens hy homself met hulle ingelaat het om sake te doen.
[2] Tog het so `n mens, hoewel hy taamlik dom is en steeds ietwat op winsbejag uit is, altyd nog `n goeie hart. Maar juis deur sy domheid is sy geloof daarby swak en vertrou hy min op God. Hy dink en sê wel altyd: 'Laat ek eers maar eendag regtig ryk word! Dan eers sal ek die beste mens ter wêreld word en my ook alle middele verskaf waardeur ek die mistieke Godwese beter en helderder kan leer ken! Vir die arme wêreld sal ek dan alle denkbare weldade verrig en na duisende jare sal my naam nog steeds genoem word! As die ryk, wêreldse mense eers eendag ondergeskik word aan My, dan sal al die ander dinge wel meteens vanself kom!'
[3] Met dié ydele hoop gaan so `n dwaas deur die lewe, maak planne en wend pogings aan en soek met sy planne toenadering tot die grotes en rykes wat met hul skerp, wêreldse verstand in sy uitvindinge al gou `n voordeel vir hulleself sien. Die dom, spekulerende mens laat hom deur hulle mislei en word daarby op `n wyse wat ten hemel skrei bedrieg en om die bos gelei.
[4] Dan staan hy daar met al sy planne en hoop, volkome uitgeplunder en totaal sonder middele en sien geen uitweg meer nie. Die geloof in God en `n vaster vertroue op God se mag, goedheid en hulp was by hom altyd al so goed as glad nie aanwesig nie. Met die wêreld het hy deur die bedrog, waardeur hy alles verloor het, alle verbinding verloor. Sy verstand is te dom en kan ondanks alle soeke en ondanks alle inspanning, geen uitweg vind nie.
[5] Wat het dit nou tot gevolg? Vertwyfeling, en daardeur `n gloeiende afkeer van die bestaan, omdat dit skyn asof daar nêrens ook maar enigsins verdraaglike vooruitsigte hulle voordoen nie! In dié koorshitte neem so `n dwaas dan gewoonlik sy lewe en word `n selfmoordenaar. Dat hy daardeur sy siel dikwels `n onvoorstelbare groot skade aandoen, kan julle duidelik aflei uit die feit dat so `n mens hom nog steeds baie lank verder wil vernietig, omdat hy beslis reeds `n dodelike haat teen die bestaan koester, want andersins sou hy geen selfmoordenaar geword het nie. Daardie soort domheid is egter by niemand aangebore nie, maar slegs die gevolg van `n slegte en verkeerde opvoeding.
[6] Wie sy kinders werklik liefhet, moet dit tog voor alles ten doel stel om hulle siele so op te voed dat hulle nie deur die materie verslind word nie. As die siele op die regte wyse opgevoed word, is hulle die vinnigste in staat om die gees in hulle op te neem en sal hulle nooit dom word nie en van selfmoord sal daar nooit enige sprake wees nie.
[7] Maar by julle kinderopvoeding wat op apeliefde berus, veral in die stede, is daar nie `n ander resultaat moontlik nie. Maak julle kinders daarom reeds vroegtydig gewoond daaraan om die ware ryk van God in hulle hart te soek, dan het julle hulle daardeur meer as koninklik versier en vir hulle die grootste en beste erfdeel verwerf, tydelik sowel as ewig!
[8] Vertroetelde kinders sal egter nooit as te nimmer ware volwasse mense word nie! Al gebeur daar met hulle niks ergers verder nie, of as hulle nie iets ergs word nie, vorm daar mettertyd by hulle tog `n bepaalde swak kant, wat deur geen mens beledig of selfs maar aangetas mag word nie. Word so `n swak kant aangeroer en bespreek of selfs beledig, dan is dit gedaan met so `n mens. Hy sal rasend en toornig word en verseker probeer om hom op elke denkbare wyse op die belediger te wreek, of hom minstens baie nadruklik waarsku om daardie soort truuk vir altyd te vermy, omdat dit vir hom andersins ontsettend ernstige gevolge sou hê.
[9] So `n swak kant wat voortspruit uit die vrye wil en uit die kennis is uit die aard van die saak eintlik nie iets slegs nie; maar dit is tog `n swak plek in die siel waar dit altyd kwesbaar bly en dit nie net hier nie, maar ook nog lank in die hiernamaals.
[10] Daarom moet julle by julle kinders ook besonder daarop let dat hulle in hulleself geen sogenaamde swak plek ontwikkel nie, want dit word vir die siel dieselfde as chroniese, halfgenese siektes. As die weer altyd goed is en die wind daarby uit `n goeie hoek kom, merk mens daar niks van nie en die mens wat dit besit voel heeltemal gesond; maar sodra slegte weer in die lug homself maar begin aankondig, begin sulke swak plekke in die liggaam hulle ook dadelik te roer en maak die mens dikwels vertwyfeld van pyn.
[11] So besonder moeilik soos dit vir enige dokter is om sulke ou kwale van die liggaam te genees, net so moeilik en dikwels nog moeiliker is dit om sulke ou verwondings van die siel te genees. As die skipper sy skip wil behoed teen beskadiging, moet hy nie daarheen vaar waar in die see allerlei klippe en koraalbanke voorkom nie, maar slegs daarheen waar die water die geskikte diepte het. En so moet die opvoeder van kinders soos `n egte, lewenservare stuurman, sy klein lewenskippies ook nie laat rondvaar oor al die wêreldse, rotsagtige vlakwaters nie, maar hom dadelik meer op die innerlike lewensdieptes waag en dan sal hy die klein skippies teen gevaarlike beskadiging behoed en daardeur die kroon verwerf van `n egte lewenstuurman!
[12] Heil aan hom wat ook hierdie woorde ter harte neem; hy sal nie sonder seën vir hom en sy mense bly nie!
[13] En nou, nadat ons hierdie bysaak, wat hom voorgedoen het deur die optrede van leerling Judas Iskáriot, nuttig bespreek het, keer ons weer terug tot ons beskouinge oor wording en skynbare vergaan en ons wil nou heel in die besonder daardie laasgenoemde in oënskou neem!"
|
|
|
|
|