|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 199
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Oor die stadige en vinnige begrip van die waarheidsleer
199 (Die Heer:) "Dit is egter alreeds lank bekend dat mense wat iets maklik aanvaar sonder dat hulle eers behoorlik flink beproef is, die saak wat hulle maklik opgeneem en verstaan het, ook baie maklik en gou weer laat vaar, terwyl mense wat in `n sekere sin deur louter stampe en stote en `n harde aanslag `n les leer, aanvaar en verstaan, dit dan nie so maklik ooit weer vergeet nie.
[2] O, daar is wel die wat baie goeie talente besit en daarby ook alle ander vermoëns het! Hulle neem alles vinnig en maklik op en verstaan dit goed, maar op die oomblik dat noodsaaklike beproewings hulle voordoen, dink hulle aan hul wêreldse voordele, is bang om te veel te moet opoffer en probeer dan so hard moontlik om die geestelike sake te vergeet en kwyt te raak, wat, hoewel hulle van die waarheid daarvan oortuig is, vir hulle op hierdie wêreld geen voordeel oplewer nie. Sulke mense lyk na die byna deursigtige dagvlieë wat die hele mooie dag deur in die lig speel en vol lewe is omdat hulle self heeltemal deur die lig deurskyn en deurgloei word; maar kom die nag dan wat die lewe beproef, dan is dit uit met hulle lig en hulle gloed en daarmee ook met hulle lewe!
[3] Daarom is daardie mense wat aanvanklik `n hoër waarheid ietwat moeiliker aanvaar, geskikter vir die ryk van God as diegene wat dit maklik aanvaar; want hulle behou die aanvaarde daarna getrou en lewe daarvolgens, terwyl diegene wat dit maklik aanvaar met die lig uit die hemele speel soos die dagvlieë met die sonlig, maar vervolgens daarvan ook nie meer nut van die hemelse lig het as die dagvlieë van die sonlig nie.
[4] Soms is daar egter ook mense wat `n waarheid maklik aanvaar, onthou en dan tydens die nag soos helder sterre bly straal en hulleself en andere baie voordeel bring; maar van hierdie mense is daar maar weinig en hulle is seldsaam.
[5] Hierdie More behoort egter almal tot diegene wat moeilik verstaan; maar wat hulle eenmaal verstaan het, is hul besit en hulle sal altyd lig bly gee tot aan hul laaste nakomelinge, soos die sterre in die Orion en soos Sirjezc (Sirius) in die groot ruimte.
[6] Dit is met die grondige begrip en die juiste verstaan van My leer ongeveer soos met die verwerf van `n vermoë: Wie baie maklik aan `n aansienlike vermoë gekom het, bring dit ook vinnig en maklik deur, want aan ontberings het hy nooit gewoond geraak nie en spaar het hy nooit probeer nie. As hy eenmaal in besit van ‘`n vermoë gekom het wat hy deur `n erfenis, of deur `n ander gewin wat hy maklik verkry het, sal hy geen waarde heg aan daardie vermoë nie, want hy dink en voel dit ook, dat mens heel maklik `n groot vermoë kan bekom. Wie vir hom egter met harde werke `n aansienlike vermoë vergaar het, ken die swaar inspannings en die baie werk en weet hoeveel sweetdruppels elke penning hom gekos het; daarom waardeer hy ook sy met moeite verworwe vermoë en hy verkwis en verbras dit beslis nooit op `n onbesonne manier nie.
[7] So is dit egter ook met geestelike skatte. Wie hulle maklik verwerf, heg skaars waarde daaraan, omdat hy dink en ook in homself voel óf, dat hy hulle nooit as te nimmer sou kon kwytraak nie, óf, gestel dat hy iets of selfs alles daarvan sou verloor, alles wat hy verloor het, heel maklik weer terug kan kry. Maar dit is nie die geval nie, want wie geestelik iets verloor, win die verlorene `n tweede maal nie so maklik terug as wat hy dit die eerste maal gekry het nie.
[8] Want die plek van die verlore geestelike word dadelik ingeneem deur die materiële, en dit is `n gerig wat hom nie so maklik weer verdring soos aan die begin nie. Want soos wat al die geestelike voortdurend geesteliker en vryer word, so word ook al die stoflike steeds stofliker, meer wêrelds en steeds voller van die gerig en die dood; wie hom egter eenmaal in die gerig bevind en met sy wil en kennis aan bande gelê is, sal moeilik of nooit weer die vryheid terugkry nie.
[9] Wie eenmaal My Woord het, moet dit behou en standvastig daarin bly, nie net deur die ken van My Woord nie, maar hoofsaaklik deur die doen en handel volgens My Woord; want alle kennis en geloof sonder om daarvolgens te handel, het byna geen betekenis nie en kan vir die lewe geen waarde hê nie!
[10] Wat sou dit iemand baat wat `n reis moet onderneem na `n plek waarvan hy net die naam ken maar nie die pad daarheen nie, as iemand wat die pad ken hom `n volledige beskrywing sou gee van hoe om die pad na die plek te volg en hy, noudat hy die pad ken, dit nie wil volg nie, maar hom omdraai en in `n heeltemal teenoorgestelde rigting begin reis?! Sal hy ooit die plek bereik? Ek sê: Hy kan gaan waarheen hy wil, maar die plek van bestemming sal hy nooit bereik nie, want die plek waarheen mens wil gaan, daarheen moet mens ook reis!
[11] Hierdie More is beslis wat aardrykskundige kennis betref, die mees ondeskundige mense ter wêreld! Sonder die owerste Justus Platonicus sou hulle met hulle kennis die pad hierheen gewis nooit gevind het nie; maar nadat die owerste hulle die pad eenmaal goed beskryf het, reis hulle presies volgens die beskrywing en hul huidige aanwesigheid bewys voldoende dat hulle die aanwysing van die owerste uiters presies uitgevoer het en daarvoor was `n onwrikbare vaste wil nodig wat hierdie More nou juis in `n hoë mate besit. Wie iets baie vas wil, volbring dit ook baie seker.
[12] Wie dus My Woord en My leer het en met vaste wil daarvolgens handel, moet sy doel bereik en niks kan hom daarvan weerhou nie; maar wie ten dele My Woord opvolg en daarnaas ook doen wat die ligsinnige wêreld verlang, lyk soos `n mens wat die helfte van die afstand na `n plek aflê, maar halfpad skielik omdraai en weer op die reeds afgelegde pad teruggaan.
[13] Ook is hy soos `n kneg wat twee meesters, wat mekaar se vyande is, wil dien. Sal hy sy werk by die twee meesters wat op mekaar vyandig is, goed kan doen? Sal hy beide, al is dit maar skynbaar, kan liefhê? Maar wat vir `n gesig sal die twee meesters trek as hulle merk dat die dubbele kneg elkeen van die twee meesters op gelyke wyse toegedaan is? Sal nie sowel die een as die ander aan die kneg sê nie: ‘Ai, jou skalkse dienaar, hoe kan jy my ergste vyand net so liefhê as vir my?! Dien my alleen, of verdwyn uit my diens!’ Want niemand kan twee meesters in waarheid dien nie; hy moet die een duld en die ander verag. En kyk, so `n ligsinnige en skalkse kneg sal dan dadelik deur beide meesters ontslaan word en dan nie maklik weer by `n derde in diens geneem word nie en dan sal hy tussen twee stoele op die grond sit.
[14] Dat hierdie More egter geen dienaars van twee meesters nie, maar van die een Heer wil en sal wees, kan jy baie maklik sien aan die manier waarop die aanvoerder met sy metgeselle moet stry, by wie die woorde van die owerste nog te vas in die hart veranker sit en nie so maklik daar verwyder kan word nie!
[15] Wat die owerste hulle vertel het oor `n Goddelike persoonlikheid by Moshé, is `n aanknopingspunt en `n brug waaroor hulle na My gebring kan word. En juis op hierdie brug is die aanvoerder nou vernaamlik besig en probeer hy die hardnekkigstes tot ander insigte te bring. As Ek hom nie `n engel stuur om te help nie, is hy oor `n jaar nog nie met hulle klaar nie; maar Ek sal hom nou die engel stuur en dan sal dit wel geluk!"
[16] Cyrenius sê: "O Heer, dan sou ek wel daar naby wou wees om die gesprekke beter en duideliker te kan volg!"
[17] Ek sê: "Dit sal nie nodig wees nie, want die wind sal alles na ons ore bring!"
|
|
|
|
|