|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 167
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Oor die vas
167 Na hierdie baie natuurlike woorde van My maak een van die dertig jong Fariseërs die opmerking: "Eindelik ook eens `n keer gewone woorde uit die mond van Hom in Wie die Allerhoogste Gees van JaHWeH in die volheid van Sy Goddelike wysheid, liefde, krag en mag woon. Maar jy kan tog nie seker daarvan wees of daar nie ook nog `n diepere, geestelike betekenis daaragter skuil nie. Wie buiten Hom dit sal ontdek, sou mens met `n koninkryk moet beloon! Ek sal nie `n koning word nie."
[2] `n Metgesel sê aan hom: "Dié opmerking was selfs te dom om heel saggies te dink, laat staan nog hardop te sê! Hoe kan Hy iets sê sonder dat dit `n innerlike, diepe, geestelike betekenis het?! Ook al lyk dit hóé gewoon vir ons, dan is en bly dit tog `n uitspraak van die Allerhoogste Gees en daarom kan dit nie anders as `n diepe geestelike betekenis hê nie! Ons twee sal miskien wel in alle ewigheid nie die volle diepte van hierdie, so eenvoudig uitgesproke sin kan deurgrond nie; maar ek voel duidelik dat daarin iets oneindigs verborge kan wees. Pas daarom in die vervolg op vir sulke oordom opmerkings!"
[3] Die eerste sê: "Nou, nou, dit was inderdaad wel dom van my, dit gee ek graag toe; maar daar sit tog geen bose bedoeling daaragter nie!"
[4] Die tweede sê: "Wel, spyt dit jou miskien dat jy daarmee geen grappige bedoeling gehad het nie?! Jy het tesame met my in hierdie nag soveel van die hoogste wysheid gehoor, gesien, gevoel en beleef; en nou dink jy opeens dat jy jou `n flou, spottende opmerking kan toelaat?! Kyk, juis omdat ons so dom is en so afgesluit en toegespyker is soos die troebelste herfsnag, het die Heer ons ook nie gevra om net soos die verhewe Mathaël `n wonderbaarlike gebeurtenis te vertel nie! Wat `n verskil tussen ons twee en Mathaël! Ek kom myself tog al as totaal onbeduidend voor; en dan wil jy nog leë opmerkings maak - in dié oneindig verhewe geselskap!”
[5] Die eerste sê: "Jy het heeltemal gelyk, broer, berispe my maar goed! Ek het inderdaad niks beters verdien nie! Ek sal my daarvoor egter nou ook self straf! Jy weet dat ek `n ontbyt baie geniet; maar nee, daar kom niks van nie! Geen hap sal tot vanaand toe oor my lippe kom nie! O, ek sal weet om my flou grap te straf!" - Daarop gaan hierdie jong Fariseër weer terug die berg op en hy gaan nie na die ontbyt nie.
[6] Maar ook sy metgesel sê: "Ja, as jy vas, is ek, omdat ek jou teregwys, die oorsaak daarvan en daarom sal ek saam met jou vas om dit makliker vir jou te maak! Jy maak weliswaar `n fout, maar jy het jou fout ook dadelik ingesien en daarom verdien jy vergifnis en die regte ondersteuning by hierdie goeie werk van selfkorreksie. Ek vas dus saam met jou!"
[7] Toe sê die eerste weer: "Dit hoef jy nie te doen nie, want dit is nie soos wat dit hoort wanneer die onskuldige saam met die skuldige ly nie, wat in die wêreld ongelukkig maar al te dikwels die uiters treurige geval is!"
[8] Die tweede antwoord: "Dink jy dat ek dit nie weet nie! Maar vertel my eers waar dit dan so dikwels voorkom dat onskuldiges soos ek nou vrywillig saam met `n skuldige ly!"
[9] Die eerste sê: "Wel, sulke gevalle sal stellig nie so baie dikwels voorkom nie, maar des te meer dié waarby die onskuldiges onvrywillig saam met die skuldiges moet ly. Neem byvoorbeeld `n keiser wat `n reusagtige ryk onder hom het en sy mag ontleen aan sy groot leërs, en wat deur `n koning van `n kleiner ryk, wat minder magtig is, beledig word. Die keiser sou hom tog vir so `n belediging slegs op die koning kon wreek; maar nee, hy teister die land van die koning met sy oorlogsleërs en verwoes dit gruwelik! Hy spaar nóg mense nóg vee en betoon geen barmhartigheid aan hulle nie en dorpe, markte en stede word deur vuur verwoes. Hoeveel onskuldiges moet hier saam met één skuldige ly! Ek glo dat hierdie voorbeeld tog wel vir jou voldoende is, en jy sal moet toegee dat ek so nou en dan tog ook gelyk het!"
[10] Terwyl die twee agtergeblewe manne so met mekaar woorde gewissel het, bereik ons die tafels en gaan by die welvoorsiene en heerlik voorbereide ontbyt aansit. Buiten My mis niemand die twee jong Fariseërs nie, wat nou weliswaar geen Fariseërs meer was nie. Daarom sê Ek dadelik aan Markus dat hy die berg op moes gaan en hulle in die Naam van die Heer na die ontbyt moes bring.
[11] Markus gaan gou die berg op en bring aan die twee My wil oor. Toe staan beide op en volg Markus te voet.
[12] Toe hulle onder aankom sê Ek aan hulle albei: "Simon en Gabi! Kom hier en gaan sit aan hierdie tafel, want ons sal na afloop van die ete eers sien of daar in My natuurlike uitnodiging op die berg om na benede te gaan vir die ontbyt regtig geen geestelike, diepere sin te vinde is nie! Maar eers word daar nou geëet en gedrink, want die liggaam het vir sy tydelike voortbestaan net so goed voeding en versterking nodig as die siel, indien dit in kennis en wilskrag wil toeneem.
[13] Eet en drink dus nou en stel die vas uit tot `n ander keer! Solank Ek by julle is as `n egte Vader van julle gees en bruidegom van julle siele, moet julle nóg liggaamlik nóg geestelik vas; as Ek egter mettertyd nie meer soos nou, persoonlik by julle sal wees nie, sal julle julleself weer van allerlei dinge moet onthou!"
[14] Oordrewe vas sonder rede is ook dwaasheid en kan selfs net soos oordrewe swelg tot sonde word. Wie die korrekte reëls wil onderhou vir sy lewe, moet in alle dinge matig wees; want elke onmatigheid moet mettertyd vir liggaam, siel en gees nadelige gevolge hê! Eet en drink nou welgemoed en wees vrolik en opgewek!
[15] `n Vrolike en opgewekte hart is vir My baie beter as `n hart wat droefgeestig, treurig, klaend, morrend, met alles ontevrede en daardeur ondankbaar is en sekerlik weinig liefde in haar het; want in `n vrolike hart woon liefde, goeie hoop en vaste vertroue. Kom iemand wat belangrike redes het om te treur, by `n opgewekte en vrolike persoon, dan word hy weldra ook vrolik gestem, sy siel begin hom vryer te beweeg, en die lig van die gees kan die rustige siel makliker verlig - terwyl `n treurige siel heeltemal verskrompel en uiteindelik totaal somber en nors word.
[16] Ek neem aan dat julle vrolikheid en opgewektheid van die hart nie verwar met uitgelate, onfrisse en onsedelike grapmakery nie - want laat dít ver van julle af bly! - maar Ek bedoel die vrolikheid en opgewektheid wat die hart van `n eerbare en kerngesonde egpaar vervul, of wat ootmoedige mense na goeie en God welgevallige dade ervaar. Het julle dit almal goed verstaan?"
[17] Iedereen beaam dit en verheug hulle in My vreugde. Daarna word daar egter van alle kante flink opgeskep en die groot edelvisse laat waarlik niks te wense oor nie! Ook die wyn word deeglik geniet.
|
|
|
|
|