Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 128

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die skeiding van siel en liggaam deur die dood

128 Daarop begin Mathaël te praat en hy sê die volgende woorde: "Beste vriende en broers, ek weet nie hoe dit gekom het dat ek van kleins af aan so nou en dan reeds geeste kon sien en selfs met hulle kon praat nie. Dit was egter wel `n belangrike rede waarom ek eintlik binne die mure van die tempel getree het; want mense het my vertel dat die geeste, wat al dikwels baie lastig vir my geword het, daarbinne geen mag meer oor my sou hê nie en dat ek hulle daarna ook nie weer sou sien nie. Wel, dit was reg en algeheel waar, want nadat ek die geseënde tempelklere aangetrek het, het ek geen enkele gees meer gesien nie! Hoe en waardeur dit gekom het, sou ek nie weet nie, maar dit is volkome waar en reg.

[2] Alhoewel ek egter deur die mure en die klere van die tempel van hierdie plaag bevry was, sien die geeste tog kans om hulle op `n ander manier te wreek. My latere, verskriklike besetenheid was beslis die treurige gevolg daarvan! Die res van my betreurenswaardige toestand is bekend en ek hoef geen woorde meer daaroor te verspil nie. Maar uit die tyd waarin ek geeste gesien het, herinner ek my nog heelwat en wanneer ek hier nou enige voorbeelde gee tot voordeel van al my huidige vriende en broers, vertrou ek dat ek hulle, in elk geval by hierdie geleentheid, ook `n klein diens sal bewys.

[3] Toe ek ongeveer sewe, of miskien ook wel agt jaar oud was, het daar plotseling vyf mense gesterf as gevolg van `n epidemie wat soos die pes was; dit was die vrou van die buurman, twee van die oudste dogters en twee diensmaagde wat eintlik baie gesond was.

[4] Die merkwaardige aan hierdie vreemde epidemie was dat daar net volwasse en volkome kerngesonde maagde en vroue gesterf het. Toe die vrou van die buurman egter in die huis siek geword het, terwyl die twee dogters en die twee diensmaagde reeds die vorige dag gesterf het, kom die buurman heeltemal wanhopig van verdriet na ons toe en smeek ons om hom by te staan en indien moontlik sy vrou van die dood te red. My vader, wat in die omgewing van Jerusalem `n mooi huis besit en meestal daar gewoon het, was naamlik in noodgevalle ook geneesheer en daarom was dit des te meer `n soort plig vir hom om aan die oproep van die ongelukkige buurman gehoor te gee. Dat ek nie tuis mag gebly het nie, is `n feit wat vir julle voor die hand liggend sal wees, omdat ek my vader dikwels uitstekende geneesmiddels kon aanraai wat my geeste my dikwels heel openhartig en met opregtheid laat weet het.

[5] My vader het daarop vertrou dat ek in die huis van die buurman geeste sou ontmoet wat my vir die genesing van die doodsiek buurvrou iets sou meedeel en so word ek dus saamgeneem nolens volens, dit wil sê of ek wou of nie. My vader het hom ook nie vergis nie; ek sien toe werklik `n aantal geeste, stellig goeies en slegtes deurmekaar. Maar met die aanraai van een of ander geneesmiddel het dit hierdie keer op `n bepaalde wyse verloop; want `n groot gees wat `n liggrys, geplooide gewaad gedra het, het aan my gesê, toe ek hom op die wens van my vader om `n geneesmiddel gevra het: 'Kyk eers na die sterwende! Haar siel styg reeds op uit haar borskas, die plek waar die siel die liggaam gewoonlik verlaat!’

[6] Ek het nou beter na die sterwende gekyk. Uit die borskas het `n soort wit newel opgestyg en homself steeds meer oor die borskas uitgebrei en ook steeds digter geword; maar van een of ander menslike vorm het ek vir `n lang tyd niks gemerk nie. Toe ek dit so bietjie bekommerd bekyk het, het die liggrys, groot gees aan my gesê: 'Let maar eers op hoe `n siel sy aardse woning vir altyd en ewig verlaat!' Maar ek sê: 'Waarom het hierdie skeidende siel dan geen gestalte nie, terwyl julle, wat ook pure siele is, tog heel werklike mensgestaltes het?' Die gees antwoord: 'Wag maar nog `n bietjie; sodra die siel heeltemal uit die liggaam is, sal sy alles wel netjies bymekaar maak en dan ook mooi en vriendelik daar uitsien!'

[7] Terwyl ek kyk hoedat die newel steeds meer bo die borskas van die sieke uitgebrei en verdig het, het die liggaam nog steeds geleef en so nou en dan soos iemand gesteun wat deur `n nare droom gepla word. Na ongeveer die vierde deel van `n Romeinse uur, het die newel, die grootte van `n twaalfjarige meisie, ongeveer twee handbreedtes hoog bo die liggaam van die sterwende vrou gesweef en was met haar borskas slegs nog deur `n vingerdik newelkolom verbind. Die kolom het `n rooierige kleur gehad, het nou eers langer en dan weer korter geword; maar na elke keer se langer en weer korter word, het die newelkolom dunner geword en die liggaam het tydens die langer word, sigbaar van pyn vertrek.

[8] Na ongeveer twee uur volgens die Romeinse tyd, het die newelkolom heeltemal van die borskas vrygeraak en die onderste deel sien daar uit soos `n gewas met uiters baie wortelvesels. Maar die oomblik toe die newelkolom van die borskas loskom, neem ek twee verskynsels waar. Die eerste bestaan uit die volledige doodgaan van die liggaam en die ander was dat die hele, wit, newelagtige massa in `n oogwink verander in die vir my maar al te bekende vrou van die buurman. Dadelik omhul sy haar met `n wit, geplooide kleed, groet die rondom aanwesige, vriendelike geeste, vra egter ook dadelik duidelik waar sy nou was en wat daar met haar gebeur het; ook is sy dadelik baie verbaas oor die mooi omgewing waarin sy haar nou bevind.

[9] Maar van die omgewing het ek self heeltemal niks waargeneem nie. Ek het daarom aan my groot liggrys gees gevra waar dié mooie omgewing dan te siene sou wees. Toe die gees gesê: 'Dié kan jy nie vanuit jou liggaam sien nie, want dit is slegs `n produk van die lewensfantasie van die gestorwene en sal eers langsamerhand in `n groter en meer deeglike werklikheid oorgaan!' Met hierdie woorde word ek afgeskeep en die gees praat daarna in `n aan my heel onverstaanbare taal; hy moes egter iets heel aangenaams aan die nou vrye siel gesê het, omdat haar gesig daarna so bly geword het.

[10] Dit het vir my egter merkwaardig voorgekom dat dit gelyk het asof die siel, wat nou vry was, haar glad nie meer bekommer het oor wat daar met haar vroeëre liggaam gebeur het nie; sy onderhou haar sigbaar heel aangenaam met die geeste - maar dit alles in `n taal wat vir my volkome vreemd was. Na verloop van tyd word ook beide gestorwe dogters en beide diensmaagde na haar toe gebring en hulle begroet hul vroeëre moeder en meesteres baie vriendelik - maar nie asof die eerste twee haar dogters en die ander twee haar vroeëre diensmaagde sou gewees het nie, maar as egte, ware, goeie vriendinne en susters en dit doen hulle in `n taal wat vir my vreemd en totaal onverstaanbaar was. Maar geeneen van hulle skyn hulle in die minste oor haar vroeëre, tog sekerlik baie in ere gehoude liggaam, te bekommer nie; ook skyn hulle niemand van ons sterflinge te sien nie.

[11] Merkwaardig was dit dat die siel van die so pas gestorwe vrou dadelik na die verlaat van die liggaam wél nog heeltemal in Hebreeus haar vreugde oor die aanskouing van die mooi omgewing te kenne gegee het, maar haar, toe sy haar in `n sekere sin meer gekonsentreer en verdig het, bedien het van `n taal wat volgens my geringe kennis nou op die hele aarde, en onder al die sterflinge daarop hoogs waarskynlik nêrens voorkom nie.

[12] Ek het my daarom weer tot my liggrys gees gewend en hom gevra: 'Wat bespreek die vyf wat so pas in julle ryk aangekom het, nou met mekaar en in watter taal?'

[13] Die gees in die liggrys kleed het geantwoord: 'Hoe nuuskierig is jy tog, jongman! Hulle praat juis vanweë jou hierdie spesiale geestestaal, omdat hulle nie deur jou verstaan wil word nie; want hulle weet en voel presies dat jy hier is as iemand wat vanuit sy liggaam die geeste kan sien en met hulle kan praat soos `n Birmaan in Groot-Indië. Hulle weet en voel ook dat hul liggame nog hier is; maar daaroor bekommer hulle hul nog net so min as jy oor `n ou kleed wat jy weggegooi het omdat dit heeltemal geskeur was. Jy sou hulle nou alle wêreldryke kon aanbied met daarby die vooruitsig op `n duisend jaar lange lewe vol gesondheid, dan sou hulle tog nooit weer in hul liggaam wil terugkeer nie! Maar dit waaroor hulle met mekaar praat, sou jy nie verstaan nie, ook al sou dit in jou taal gebeur; want hulle sien nou juis in hierdie tyd dat die groot Beloofde Homself reeds as mens, ook al is dit nog eers as `n tere kind, in die stoflike wêreld bevind. Wanneer jy `n man is, sal jy Hom in Galiléa herken.'

[14] Dit was die hele kommentaar wat die liggrys gees my baie hoflik en vriendelik gegee het. Dit was beslis `n baie gedenkwaardige verskyning wat ek toe as seun net so waar en eg gesien het as wat ek julle nou almal sien; en die bewys daarvan dat die gees my geen onwaarheid vertel het nie, is dat ek nou vir U, o Heer, werklik in Galiléa gevind het soos wat die liggrys gees aan my voorspel het.

[15] Ek sou nou graag net dit `n bietjie meer verduidelik wou hê waarom die siel op die oomblik van skeiding soos `n newel opstyg uit die borskas en waarom nie dadelik as `n volledige en herkenbare mensevorm nie. Majesteit, liefdevolle, alwyse Heer van al wat lewe, sou U dit aan ons wou verduidelik?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205