Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 17

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die politiek van die tempelpriesters

17 Zinka sê: "Edele vriend! Geëerde meester! Ons verstaan dit baie goed, maar daarnaas is daar vir ons nog iets duidelik wat u nie skyn te sien nie!"

[2] Cyrenius sê: "En wat mag dit dan wees?"

[3] Zinka antwoord: "Dit is die dierbare politiek waardeur die priesterdom byna te alle tye en in alle lande van die aarde `n sekere voorreg besit, sodat hulle baie kan doen wat vir die res van die mensdom `n misdaad sou wees. Die priesters is vermetel genoeg om hulleself letterlik as gode aan die ander mense op te dring, en na willekeur teenoor elkeen die mond vol te hê oor die sogenaamde woord van God. En geen mens reageer daarteen nie, en selfs die keiser moet die brutale spel verdra vanweë die vanouds ingeprente bygeloof van die volk, waardeur die mense op die regte, gehoorsaam deemoedige plek gehou moet word en nie moet opstaan teen die koning van die land as hy hulle dikwels moeilik navolgbare wette en swaar drukkende belastings oplê nie.

[4] As dit egter aan die priesters toegestaan word om na willekeur die septer in God se plek te swaai, dan sal dit die keiser ook nie so kwaad maak wanneer hierdie volksverdowers, indien nodig heimlik, of ook openlik, in die vel van die monarg kruip, in sy naam praat en selfs wette uitvaardig indien hulle dit sowel vir die heerser, vir sy staat en natuurlik ook vir hulleself heilsaam sou vind nie. Dit lyk des te aanvaarbaarder in die provinsies wat, soos die Judese vaderland hier, ver verwyderd lê van die woonplek van die heerser.

[5] As die keiser hulle vanweë hierdie valse volmag tot verantwoording sal roep, sal hulle glad nie ontken dat hulle sonder enige opdrag gehandel het nie. Maar hulle sal die keiser ook nog `n goeie rede kan aangee waaruit blyk dat hulle dit slegs vir die welsyn van die monarg en sy staat gedoen het! En hulle sal die keiser ook haarfyn en glashelder probeer bewys waarom hierdie maatreël nodig was en watter voordeel vir staat en monarg daaruit voortgevloei het. En die keiser sal hulle ten slotte daarvoor nog moet prys en beloon.

[6] Gestel dat u hulle vandag tot verantwoording sal roep, dan sal u hulle na die verhoor net so min kon beskuldig as die keiser self. Uiteindelik sal u die volmag van Herodus nog moet bekragtig wanneer hulle aan u sal bewys dat die stuk nodig was om daarmee die heerssug van Herodus binne bepaalde perke te hou, omdat hy andersins met behulp van sy onmeetlike skatte en rykdomme baie maklik in die geheim `n eie groot mag sou kon gevorm het, waarmee hy dan heel kategories met u Romeine sou gaan praat het! Hulle het dit egter ontdek en het dadelik, deur ingewing van bo, die korrekte middel aangegryp waardeur Herodus ‘pro forma’ `n privilegie ontvang van die keiserlike gesag wat hy andersins baie gou met geweld sou afgedwing het. As die tempelridders u met sulke verklaringe sou tegemoet tree, wat kan u dan anders doen as om hulle te loof en te beloon?"

[7] Cyrenius sê: "Daarvan is ek nog nie so oortuig nie! As Herodus van plan was om so iets gemeen te doen en dit ook wou uitvoer, waarom word dit dan nie vir my in die geheim meegedeel nie? Ek sou tog die regte middele baie goed daarteen kon aangewend het! Van Jerusalem na Sidon of Tirus is tog regtig nie so ver nie! En dan nog - hoe sou die tempelpriesters die gesteelde groot skatte en die dertig kamele kan verantwoord? Ek dink dat dit tog gewis bietjie moeilik vir hulle sal afgaan!"

[8] Zinka sê: "Geëerde vriend, edele meester! U skyn andersins `n baie gedugte staatsmanskuns te besit, maar hier skyn u weer baie onervare te wees - soos iemand wat selfs nog nooit in `n huis die septer geswaai het nie! `n Dubbele rede kon hulle daarvan weerhou het om u persoonlik daarvan op hoogte te stel! Ten eerste: Gevaar in geval van vertraging, en ten tweede: Die vermyding van elke gevaarlike opsien by hierdie saak! Want sou u te vroeg daarvan in kennis gestel gewees het, dan sou u dadelik die hele Jerusalem laat omsingel en sorgvuldig laat bewaak het. Dit sou by die volk groot opwinding veroorsaak het en dan met `n bittere haat teen u vervul het. Herodus sou egter so `n stemming teen u baie goed kon benut het, waardeur onvoorspelbare bose sake kon ontstaan het!

[9] Dit alles goed berekend en vooraf insienend, beskik die tempel in sy goddelike wysheid nou juis oor iets waardeur die bose saak sonder enige opsien verhelp word. Op die regte oomblik sou hulle wel vir u en die keiser baie ongemerk in kennis gestel het van die gebeure, en voorsien het van raad hoe om verder op te tree. Die skatte wat vir die keiser bestem was, sou hulle egter eers dan aan u kon stuur wanneer hulle die tyd ryp geag het om u oor alles in te lig.

[10] Geëerde vriend en edele meester, wanneer u ongetwyfeld so `n antwoord op enige van u vrae kan verwag, sê u my dan eers of u in belang van goeie staatsmanskap iets anders sou kon doen as om die tempelpriesters baie te prys en hulle, net soos elke goeie en eerlike saakgelastigde, die wetlike tien persent van die wins te gee!"

[11] Cyrenius sê: "Maar as ek nou self oortuig is van die ontsettende verdorwenheid van die tempelpriesters, moet ek hulle dan ook nog prys en beloon? Is daar dan geen middel en geen manier om hierdie satansbroeders die vuur na aan die skene te lê nie?"

[12] Zinka sê: "Dit is maar `n vraag wie van ons twee die slegte ridders beter ken en dieper verafsku. As ek hulle almal, die tempel en hulle sinagoges, in één sug sou kon vernietig, glo my, sou ek my geen oomblik bedink het nie! Maar die sake staan nou eenmaal so dat selfs `n God u geen ander raad sal kan gee as om voorlopig met `n vriendelike gesig die bose spel saam te speel nie. Kom tyd, kom raad.

[13] Volgens my berekening en volgens die berekening van Johannes sal hulle, gereken vanaf nou, binne veertig jaar heeltemal ryp wees vir vernietiging, en u sal dan die hele Judea en die hele Jerusalem opnuut moet verower en hulle broeineste grondig moet verwoes. Maar vóór dié tyd sal daar gewapenderhand weinig of niks teen hulle onderneem kan word nie, behalwe dit wat ek u voorheen aangeraai het. U kan hulle te gelegener tyd laat vra hoe die bepaalde sake daar uitsien. As hulle egter dadelik klaar staan met hulle uitleg, doen dan soos wat ek vir u gesê het, anders sal dit sleg afloop!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205