|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 152
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264. |
|
|
Verskillende soorte van selfmoord
152 (Die Heer:) "Ook by selfmoordenaars vind jy verskille. Iemand wat sy eie lewe neem omdat iemand anders sy groot hoogmoed te veel verneder het, en hy nie kans sien om hom te wreek nie, maak hom skuldig aan `n erge soort van opsetlike selfmoord. `n Dergelike motief van selfmoord kan aan `n siel nooit volledig goedgemaak word nie. Duisendmaal duisende jare is nodig om so `n siel so ver te bring dat sy ten minste `n vel oor haar dorre, van alle liefde ontblote, skynbare beendere het, om nie eers te praat oor die beliggaming van haar hele wese nie; want die beliggaming is juis `n produk van die liefde en wek ook weer liefde op.
[2] As iemand na `n jong vrou kyk wat liggaamlik volmaakte, weelderige vorms het, word hy dadelik deur en deur aangegryp deur so `n gestalte, en sy hart sal direk `n van liefde gloeiende verlange koester om hierdie jong vrou syne te kan noem. Hoe gebeur dit? Omdat die liggaamlike aantreklikheid van die jong vrou suiwer `n produk is van baie liefde, en materie wat gebaseer is op liefde, kan en moet in die medemens dít opwek wat dit self ook is.
[3] Kyk ons egter na `n jong vrou wat ontsettend maer is, dan sê Ek vir julle dat sy niemand se hart op hol sal laat gaan nie; heimlik sal mens medelye met haar hê, maar iemand sal nie gou op haar verlief raak nie. Wat is dan weer die rede daarvoor? Omdat haar beendere met te min van daardie materiaal omhul is wat `n produk van die liefde is!
[4] `n Siel wat hier al heeltemal liefde is, sien in die hiernamaals dadelik baie aantreklik, weelderig en dus volgens die vorm heeltemal volmaak daar uit. `n Gierige en egoïstiese siel sien daar baie maer uit, maar het nog altyd wel bietjie vleis en bloed, omdat so `n siel tog in elk geval eieliefde het. Maar selfs dié liefde het `n selfmoordenaar nie, en daarom het sy siel in die hiernamaals noodgedwonge die uiterlike van `n dorre geraamte. En dan hang dit daar nog maar van af of dit `n menslike of `n dierlike geraamte is!
[5] Vroeër het ons dit al daaroor gehad dat daar verskillende soorte selfmoord kan wees, en die ergste het Ek reeds uitvoerig vermeld. Wel, `n selfmoordenaar van die ergste soort kom in die hiernamaals nie in die vorm van `n menslike geraamte te voorskyn nie, maar in dié van `n draak, `n slang of `n wilde, verskeurende dier. Waarom? Dit kan julle julleself nou tog wel maklik indink! So `n siel sal nooit meer tot `n volledige lewensvoleinding kan kom nie.
[6] Daarnaas is daar mense wat selfmoord pleeg uit jaloesie oor `n maagd, wat buite haar skuld `n ander beter geval as die jaloerse man wat haar by elke ontmoeting kwel met allerlei verwyte, en haar van ontrou beskuldig, iets wat nooit in haar opgekom het nie. So iemand kom in die hiernamaals te voorskyn as die geraamte van `n wolf, `n hond of `n haan, omdat die karakter van hierdie diere die verstand en die wil van so `n jaloerse dwaas beheers; as voorafgaande inkarnasievorm bepaal dit die eintlike, vernaamste karaktertrekke van so `n siel. Ook hierdie selfmoordenaars sal later baie moeilik tot enige lewensvoleinding kom.
[7] Dan is daar selfmoordenaars wat heimlik `n vreeslike misdaad begaan het waarvoor, soos wat hulle weet, `n smadelike, en pynlike doodstraf gestel is. Hulle weet dat hul misdaad aan die lig moet kom. Wat gebeur daar dan meestal? So `n heimlike misdadiger raak uit groot angs en te regte gewetensnood volledig vertwyfel en hang homself op. So `n siel verskyn in die hiernamaals as die skelet van haar voorgaande bestaansvorm, soos byvoorbeeld dié van molle, akkedisse en skerpioene, wat almal op `n hoop saamkoek met daaromheen `n vurige ring, meestal in die vorm van `n gloeiende reuseslang. Ook die vurige ring behoort tot `n vorige bestaansvorm van een en dieselfde siel en is daar `n intelligensiedeeltjie van.
[8] Kortom, as `n siel eenmaal op grond van `n slegte opvoeding geen enkele liefde, ook geen eieliefde, meer het nie, is ook die hele siel deurdronge van die ergste vyand van die lewe, naamlik die hel, en daardeur word sy self `n vyand van haar eie lewe en bestaan en probeer dit altyd op die een of ander pynlose wyse vernietig! By so `n totale vyandskap ten opsigte van die lewe, moet ten slotte die lewe wel geheel uit sy voeë gelig word, en in die hiernamaals kan so `n siel dan onmoontlik anders sigbaar word as algeheel teruggebring tot die vorms wat oorspronklik aan haar ten grondslag lê, en dit slegs as skelette sonder vleis, wat slegs die noodsaaklike oordeel in hulle dra.
[9] Sowel by mens as dier is die bene die deel wat die meeste geoordeel is, en sodoende die minste liefde bevat. Omdat daar in die bene, soos in `n klip, geen liefde vir die lewe kan wees nie, bly dit ten slotte, hoewel slegs in die substansiële sielevorm, oor as dele wat die liefdeloosheid uitdruk, en waarin daar nooit enige liefde kan wees nie. Maar beendere van mense is altyd nog beter in staat om hulle met lewe te omklee as beendere van diere of selfs chitinepantsers van insekte, en kraakbeen en grate van amfibieë. (chitine = blink, horingagtige omhulsel van die buitelywe van insekte)
[10] As `n selfmoordenaar op die hiervoor beskrewe wyse in die hiernamaals verskyn, kan jy jou wel voorstel hoe moeilik dit sal wees, en hoe lank dit sal duur voordat so `n siel ook maar sover kom om in `n menslike geraamte oor te gaan, en vervolgens uit homself `n vel en selfs vleis te kry.
[11] Maar nou rys by julle die vraag of so `n siel ook pyn ly. En Ek antwoord julle: By tye die grootste en brandendste pyn, en soms weer heeltemal geen! As sy, om weer tot lewe gewek te word, wat nog altyd moontlik is, in `n sekere sin wakker geskud word deur geeste wat haar daarvoor benader, voel sy orals `n brandende pyn; kom sy egter weer tot rus, dan het sy geen gevoel of bewussyn, en dus geen enkele pyn nie.
[12] Daar is verder nog baie soorte selfmoord waarvan die gevolge nie so kwaadaardig inwerk op die siel soos beide die hiervoor beskrewenes nie; vir die siel het egter geen enkele selfmoord goeie gevolge nie!
[13] Dié waaroor Mathaël gepraat het, was nog een van die beste soorte, vandaar dat dié siel ook maklik en behoorlik vinnig tot lewe gewek en gered kon word. Maar so `n siel behou tog altyd `n swak plek, en dit bestaan uit die feit dat sy byna nooit meer volledige kindskap van God kan bereik nie; `n siel wat selfmoord gepleeg het, kom bykans nooit hoër as die saliges van die eerste, buitenste, en derhalwe onderste hemel, of selfs maar tot aan die grense daarvan nie.
[14] In die eerste, die wysheidshemel, kom merendeels maar net siele van alle ander hemelliggame, en van hierdie aarde kom daar die siele van die wyse heidene, wat volgens hul kennis wel uiters gewetensvol en regverdig geleef het, maar ook in die hiernamaals niks van My persoon wil weet nie. As hulle egter na verloop van tyd tog iets aanneem, kan hulle wel in die tweede, dus hoëre of ook middelhemel, opgeneem word; maar in die derde, binneste en hoogste, die eintlike liefdes- en lewenshemel, kom hulle nooit as te nimmer nie. Want daar sal slegs diegene kom wat reeds die volle kindskap van God bereik het.
[15] Ek glo dat vir julle nou ook hierdie, deur broer Mathaël beskrewe, maniere van doodgaan voldoende uitgelê moet wees; is daar egter vir iemand tog nog iets nie duidelik genoeg nie, dan staan dit elkeen vry om `n vraag te stel. Dit duur nog maar twee uur voordat die son bo die horison sal staan, en dan sal ons almal weer iets heel anders onderneem. Wie dus nog iets op sy hart het, moet nou praat!"
[16] Almal sê: "Heer, alles is vir ons duidelik; want na so `n lewendige manier van uitleg kan tog vir niemand iets onduidelik bly nie!"
|
|
|
|
|