|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 87
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Die priesters word deur hulle kollegas ondervra
87 Na hierdie woorde van die kommandant bekyk die twee priesters My van top tot toon, en die een vra aan My: “Wie is U eintlik, aangesien ons gebieder `n getuienis oor U gegee het wat mense werklik alleen oor `n God kan gee? Spreek oor Uself, en ons sal U glo, wat U ookal sê!
[2] Is U dalk Die Een van wie ons armes ons buite vertel het dat hy die winde, die wolke en die vuur vanaf die heuwel Talba bevele gegee het en dat hulle dit gehoorsaam het?”
[3] Ek sê: “Ja, dit is Ek inderdaad! Die getuienis van die kommandant is waar, hou jou daaraan - al die res wat julle en julle volk nodig het, sal julle van hierdie herbergier en sy twee bure te hore kry.
[4] As julle vol geloof daarvolgens sal handel, sal julle in julleself die ewige lewe wek en dit ook vir ewig behou. Want Ek Self - hoewel Ek in julle oë `n Menseseun is - is die Weg, die Waarheid en die Ewige Lewe. Wie in My glo en volkome volgens My leer handel, sal wat sy siel aanbetref, ewig lewe, al sou hy hier, wat sy liggaam betref, ook baie male sterwe.
[5] Hoe My leer lui - baie kort en vir iedereen maklik om te vat - sal julle wel hoor van hulle wat Ek vir julle genoem het. En nou kan julle wel weer buitentoe na julle kollegas gaan en hulle vertel wat julle gehoor het! Julle moet van die volk geen offers meer afpers om nonbestaande gode te versoen nie; want as julle daarmee deurgaan, sal Ek die magte van die aarde nog `n keer die vrye loop laat gaan, en kan julle sien hoe dit met julle sal gaan!”
[6] Toe die twee heidense priesters dit van My gehoor het, sê hulle geen woord meer nie, maar buig diep voor My en ook voor die kommandant en begewe hulle hulle vinnig na buite, die breë weg op na hulle kollegas, wat die volk nog allerlei sprokies oor die gode vertel en so baie pennings versamel.
[7] Toe die twee na buite kom, sien hulle metgeselle hulle, loop na hulle toe en vra hulle vol nuuskierigheid wat hulle by die kommandant bereik het en hoe die met My staan.
[8] Maar die twee sê: “Beste vriende van ons, luister! Die saak is van die grootste belang, en ons sal later in ons woning nog uitvoerig daaroor praat; maar hier op straat is dit nie die plek om oor sulke dinge te praat nie.
[9] Maar die Man, van wie die armes ons vertel het dat alle magte, kragte en elemente van die aarde Hom gehoorsaam, skyn meer te wees as `n enkele mens! En Hy het baie beslis vir ons gesê dat ons dadelik moet ophou om soenoffers in te samel vir die gode, wat niks is nie; anders sal ons van Hom iets nog erger te verduur kry as wat ons vannag te verduur gehad het. Laat ons dus onmiddellik afsien van ons insameling en ons na ons kasteel begewe; daar sal ons oorleg pleeg wat ons verder te doen staan! Want die saak van die buitengewone Man moet werklik baie belangrik wees, anders sou ons kommandant, wat baie krities is, die Man nie so toegedaan wees en teenoor ons `n getuienis oor Hom aflê wat mens alleen kan gee oor iemand waarvan mens klaar en duidelik herken dat hy God is. Maar nou niks meer daaroor hier nie!”
[10] Hierdie woorde van die twee priesters raak almal hewig, hulle laat die insameling agterweë en begewe hulle na hulle kasteel, en enkele van die vernaamste burgers van hierdie stad vergesel hulle in groot spanning.
[11] Toe hulle in die kasteel aankom, wat met allerlei afgodsbeelde versier was, klim een van die twee wat by My in die herberg was op die spreekgestoelte en sê: “Wees nou so goed om my aan te hoor! Ek sal julle so kortliks moontlik meedeel wat ek in die Judese herberg van ons wyse kommandant en daarna hoofsaaklik van die buitengewone Man gehoor het, en wat ons almal in hoë mate ter harte moet neem; want `n mens aan wie alle magte en kragte van die hemele en die aarde gehoorsaam, is seker meer, groter en agtenswaardiger as al ons gode, van wie niemand met enige oortuigende sekerheid kan sê dat hulle ooit bestaan het of nou in werklikheid bestaan nie, behalwe in die tempels wat deur mensehande gemaak is.
[12] Niemand het ooit ervaar dat een van ons baie gode `n egte wonder gedoen het nie. Wat teenoor die blinde volk as wonder gedoen word onder die aanroep van een of ander God, dit doen die aangeroepe God nie, maar - soos wat ons goed weet - slegs een in die kuns van die magie bedrewe priester met behulp van die middele wat hulle ten dienste staan; sonder sulke middele het, vir sover ons weet, selfs die pontifex maximus* in Rome nog nooit `n wonder gedoen nie. *(titel van die opperpriester, hoof van die hoogste priesterkollege in Rome, wat die verantwoordelikheid het teenoor die godsdienstige sake binne die ryk)
[13] Maar as die Man, oor wie ek spreek, sonder enige tasbare middel, maar net deur Sy woord en deur Sy wil alle magte van die hemele en die aarde beveel en hulle Hom gehoorsaam, is so `n Man geheel as enige `n ware God; en is alles wat ons met die woord “God” aandui niks anders as `n gedrog van die menslike fantasie nie, wat voortaan deur geen enkele weldenkende en waarheid soekende mens as werklik bestaande aanvaar sal word nie.
[14] Dit is `n noodsaaklike inleiding op wat ek julle beloof het om te sê en te vertel. Maar voordat ek julle meedeel wat ek van die kommandant en daarna van die Godsman gehoor het, wil julle miskien jul menings gee oor wat julle van hierdie Godsman dink!”
[15] Almal sê: “Spreek nou maar verder en vertel ons wat jy van die kommandant en in die besonder van die Godsman gehoor het; want van al dit waarvan jy oortuig is dat dit die volle waarheid is, daarvan is ons ook oortuig! Kom dus maar dadelik ter sake; ons sal met die grootste aandag na jou luister!”
|
|
|
|
|