|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 183
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245. |
|
|
Die stryd in die natuur
183 (Die Heer:) “Jy kan op die hele aarde oral rondgaan, en jy sal, wat die uiterlike verskynsels betref, niks anders as aartsvyandskap onder die skepsele aantref nie.
[2] Kyk maar net na die son, wat tog sekerlik die grootste weldoenster van die aarde en alle skepsele is; want deur haar lig en warmte kom alles opnuut tot lewe en groei en word sterk. Die planteryk spruit as te ware nuut uit die bodem van die aarde, sit vrug binne die orde van elke soort, in die bome raak die sapstroom aan die gang, hulle kry knoppe, blare, bloeisels, en daarna volg die geleidelik aan rypwordende vrug.
[3] `n Ontelbare hoeveelheid van die mees uiteenlopende insekte het eiers gelê, die lig en die warmte van die son broei dit uit, en hulle vul die lug met tallose klein en groter skepsele.
[4] So gaan dit met die voëls, met die visse in die water en tallose ander diere in daardie element, en selfs die ander (land)diere en die mense beleef groot vreugde aan die son; derhalwe is sy, soos Ek al gesê het, seker die grootste weldoenster van die aarde en haar skepsele - maar tegelykertyd ook die grootste vyand daarvan.
[5] Want kyk, dit duur nie lank nie of die son het alles op die aardbodem tot lewe geroep; daarna neem sy toe in lig en warmte, en wel soseer dat sy in die somer alles weer doodmaak wat sy in die winter en die voorjaar geskape het.
[6] Julle streek hier is self `n voorbeeld daarvan. In die tweede helfte van die winter tot in die eerste helfte van die voorjaar word alles groen, en julle streek sien daar uit soos `n paradys. En nou? Dit is nog maar nouliks halfpad in die herfs, en alles is `n grasveld, waar mens maar baie selde nog iets groens vind. Alles het verdor en uitgesterf.
[7] Maar gaan net na Afrika, of die suidelikste gebiede van Arabië, dan sal jy vele dagreise ver moet reis sonder om iets lewend teë te kom; want die hitte van die son dood alles wat sy uiteindelik nog in `n winter te voorskyn gebring het.
[8] In die sogenaamde gematigde sones van die aarde gaan dit nog die minste ekstreem toe; maar daarteenoor duur die winters daar veel langer as hier, en die plante en diere gedy daar nie meer in so `n weelderige oorvloed as in hierdie warm aardstreke nie. En so sal jy oral op aarde sien dat die son enersyds die grootste weldoenster van die aarde is, maar aan die ander kant weer haar grootste vyand.
[9] Selfs die see in die warmste sones word, wanneer die son haar grootste krag ontwikkel, heel weinig deur visse en ander seediere bewoon; hulle vlug dan verder na die noorde of die suide, na gelang die son meer op die een of op die ander halfrond haar grootste hittekrag ontplooi.
[10] En kyk, soos die son in verhouding tot die aarde staan, is alle skepsele op aarde se verhouding min of meer ten opsigte van mekaar!
[11] Dit is byvoorbeeld al onder die elemente die geval. Is die water, na die son, nie een van die grootste weldoeners op aarde nie? Wens nie elke boer, wie se akkers, weiding en tuine droogword, `n seënryke reën nie? En wanneer dit kom, begin in `n sekere sin al die geskapene vol blydskap te juig!
[12] Maar laat ons nou, in plaas van `n seënryke reënbui, die een hewige wolkbreuk na die ander kom, dan sal niemand op aarde die nut daarvan prys nie; want deur sy magtige waterstrome verwoes hy alles wat hy teëkom, en dan laat hy in `n uitgestrekte gebied `n woeste bodem agter, waar die vlyt van die mens gereeld na eeue, ondanks alle inspanning, nog geen nuttige gebruik meer daarvan kan maak nie.
[13] So is ook die verskillende winde buitengewoon groot weldoeners vir die bodem van die aarde en die fisieke gesondheid van alle skepsele. Maar as hulle ontaard in groot storms en orkane, dan bring hulle weinig nut, maar net skade, dit wil sê, vanuit julle menslike verstand bekyk, omdat dit nie in staat is om die gewelddadige verskynsels te beoordeel op hul doelmatigheid vir `n groot nuttige doel nie.
[14] Netso gaan dit by die plant, waar baie edel by is, maar nog meer onedele, wat julle met die woord “onkruid” aandui. As iemand `n skoon akker het om sy koring en gars te saai, sal hierdie twee edele graansoorte hulle ook wel goed en suiwer ontwikkel; maar as daar `n vyand sou kom wat in die nag `n hoeveelheid onkruidsaad op die koring- en garsakker sou strooi, en die onkruid sou dan tussen die edel graan opkom, dan sou dit daardie weldra verdruk en verstik.
[15] Daar bestaan trouens plantsoorte wat daarvoor sorg dat daar geen ander plant opkom, wanneer hulle hul meester gemaak het van `n groter of kleiner stuk land nie.
[16] En so sien jy nou dieselfde voor jou in die ryk van die diere. Die een dier dien die ander, wat sy vleis betref, tot prooi en voeding, en die mens, wat sy vleis betref, self van dierlike aard is, is en bly die grootste roofdier. Want `n gaselle of `n skaap vlug as hulle `n wolf, `n beer, `n leeu, `n tier en dergelike verskeurende diere in hul omgewing sien kom; maar die mens slaan nie op die vlug vir sulke boosaardige diere as hy voorsien is van allerlei wapens, wat hy met sy verstand uitgevind het nie, maar maak gretig jag op hulle om hul pelse te bemagtig en so nou en dan ook hul vleis by die vuur in `n goed smakende stuk gebraai te verander.”
|
|
|
|
|